Skoolgaan op die trekpad

Godsdienstige lewe
March 17, 2015
Tregardt en Van Rensburg
March 19, 2015

Die geestelike boeke van die Voortrekkers het preek-, gesange- en kategeseboeke ingesluit. Die trekkers het graag gesing, soms met viool- of akkordeonbegeleiding. Party het draagbare huisorreltjies of serafyne gehad. Reeds in die 18de eeu was daar liedeboeke waarin geestelike en selfs wêreldlike liedjies opgeteken is. Eie berymings op bestaande liedere is gedoen en die melodieë aangepas om die bekende liederwysies te vorm. Een so ’n lied was “Wijk, werelds gewemel / Ik moet naar den Hemel, / Verhindert mij niet”, met ’n hele aantal verse.

Daar was enkele onderwysers, maar meestal het predikante en hul vroue, of die ouers self, die kinders onderrig. Onder die onderwysers op trek was Erasmus Smit en sy vrou Susanna, eerw. Daniel Lindley en sy vrou Lucy, Daniël Pfeffer (by die Tregardt-trek), Jan Bantjes, en ’n stuk of tien ander. Kinders het onderrig ontvang in skryf, lees en reken en veral die Bybel. Die kinders het die syfers leer neerskryf en dan eenvoudige optel-, aftrek-, vermenigvuldiging- en deelsommetjies gedoen. Hoofrekene is geoefen deur skape te tel wat nie een-een geloop het nie, maar in troppies. Daarin was kinders vroeg bedrewe.

Dit was die gewoonte dat kinders Bybeltekste, psalm- en gesangverse en gediggies van buite moes leer. Hulle moes dit dikwels opsê terwyl die ouers daarna luister. Sang was ’n belangrike deel van die opvoeding. Die kinders het nagesing en was gou nootvas. By huisgodsdiens moes hulle die liedere insit. Verder het hulle die notebalk geleer: ut re mi fa sol la si ut. ’n Deel van die leerwerk is in versvorm aangebied soos die getal dae van die maande: “Dertig dagen heeft November,/ Juni, April en September; / Februari vier maal zeven,/ ‘t Schrikkeljaar nog een daarneven:/ Voorts de andere een-en-dertig geven.”

Leerboeke was baie skaars; daaronder was dié wat reeds in die vorige eeu gebruik is, soos die ABC, AB-jab en Trap der Jeugd, asook kategeseboeke soos die Kortbegrip van Hellenbroek en die Heidelbergse Kategismus. Briewe is per geleentheid na die Kolonie of Port Natal gestuur. Volgens Erasmus Smit het briewe van sy seun in Uitenhage so ses maande geduur om hom te bereik, partykeer darem gouer. As iemand koerante ontvang het, is hulle van laer tot laer aangestuur. Piet Retief het briewe en koerante uit die Kolonie ontvang, en vir sy trekgenote koerante uit Port Natal saamgebring.

Smouse het soms ook koerante en pos by hulle gehad. Onder die trekkers self het Gerrit Maritz negosie uit die Kolonie aan trekkers verkoop. Jan Fick van Graaff-Reinet het ná die Slag van Bloedrivier opgedaag en by hom kon die vroue broodpanne koop. Die Ier John Montgomery was ’n troue vriend van Piet Retief en ander trekkers. Willem Robinson was ’n bekende smous wat later in Transvaal presidentskandidaat was. Die smous het gewoonlik op ’n sentrale plek seile tussen die waens gespan, stoele vir kopers neergesit en sy ware uitgepak – naaldwerkbenodighede, kruideniersware, materiaal, seildoek, breekgoed en hardeware.