Skipbreuke en die held Woltemade

Boerekos en smulpape
February 1, 2015
Verkenning van die land
February 3, 2015

Bartolomeus Dias het die Kaap “Stormkaap” genoem, en die naam was gepas. Sedert 1500 het honderde skipbreuke aan die Suid-Afrikaanse kus voorgekom. In die nag van 17 op 18 Junie 1722 het sewe Nederlandse en drie Engelse skepe byvoorbeeld in Tafelbaai vergaan en seshonderd man het verdrink. Een van die skipbreukelinge van die Britse skip Chandos, ’n Portugese seun Ignácio Ferreira, het aan ’n leë wynvaatjie of ’n plank vasgeklou en op die strand uitgespoel. Aan die goewerneur het hy gesê dat hy ná die bittere ervaring nooit weer wil vaar nie, en het dringend gevra of hy aan die Kaap mag woon. Hy het verlof gekry om aan die Kaap te bly en het die stamvader van die Ferreira’s geword.

Op 21 en 22 Mei 1737 het agt skepe in Tafelbaai vergaan, is 208 man dood en het byna twee miljoen gulden se handelsware verlore gegaan. Die noordwester was so ’n gevaar vir skeepvaart dat skeepskapteins opdrag gekry het om van 15 Mei tot 15 Augustus nie in Tafelbaai te anker nie, maar Simonsbaai. Dié opdrag is soms geïgnoreer want verversings was in die Kaap volopper as in Simonstad.

Ook in stryd met die opdrag het vyf skepe op 31 Mei 1773 in Tafelbaai gelê toe ’n noordwesterstorm hulle oorval. Die ankerkabels van een van die skepe, De Jonge Thomas, het vroeg die môre van 1 Junie tussen vyf- en sesuur gebreek, en die skip het teen halfsewe by Paardeneiland naby die mond van die Soutrivier teen die strand vasgeval. Geweldige branders het die maste verbrysel. Die skip het verbrokkel en baie het verdrink. ’n Aantal mense het egter aan die romp van die skip vasgeklou.

Burgers en soldate was van vroeg op die strand om te help. Later die oggend het onder andere Wolraad Woltemade daar opgedaag met voedsel vir sy seun wat lid was van ’n afdeling soldate wat die uitgespoelde goedere bewaak het. Woltemade wat êrens tussen 1700 en 1708 in Duitsland gebore is, was ’n tyd lank in diens van die Kompanjie en van 1771 af ’n melkboer op die plasie Malta, vermoedelik tussen die huidige Observatory en Soutrivier.

Toe Woltemade die wanhopige hulpgeroep van die mense op die skip en in die water hoor, probeer hy eers ’n reddingstou na die skip gooi, maar dit het misluk. Sy perd was sterk en gehoorsaam en het sonder om ’n oomblik te aarsel, op aansporing van sy baas die golwe ingegaan. Sewe keer het hy met die perd die sowat 300 meter na die skip afgelê en elke keer twee drenkelinge gered. Toe hy dit die agtste keer waag, het paniekbevange drenkelinge op hom en sy perd gespring en het almal verdrink.

Die res van die skip is ook te pletter geslaan. Nog 53 mense het die land bereik. Maar die res het verdrink – altesaam 138 matrose. Twee dae daarna het Woltemade se lyk uitgespoel en hy is sonder seremonie in ’n onbekende graf begrawe.

Die Here XVII was vol bewondering vir Woltemade se heldedaad. Hulle het sy vrou en seuns beloon en ’n nuwe skip, De Held Woltemade, na hom genoem. In die twintigste eeu het C Louis Leipoldt en AD Keet gedigte oor hom geskryf. Die hoogste Suid-Afrikaanse eerbewys vir dapperheid deur ’n burger is in 1970 na Woltemade genoem.