Skandale en skeuring

’n Florerende musieklewe
January 26, 2015
“Die totale aanslag”
January 26, 2015

Die buitelandse druk op Suid-Afrika het daartoe gelei dat die Nasionale Party in November 1977 die rekord-getal van 134 uit 164 setels verower het teenoor 17 van die Progressiewe Federale Party, en dertien van twee ander partye. Dit was ’n triomf vir meneer John Vorster.

In 1977 het gerugte die ronde begin doen oor onreëlmatighede in die Departement van Inligting, met doktor Connie Mulder as minister. Dit het in 1978 geblyk dat die Engelstalige dagblad The Citizen met staatsgeld opgerig is en dat die Departement van Inligting oor geheime fondse van miljoene rande beskik het. Daarmee is ’n menigte geheime projekte gefinansier, meestal om die Suid-Afrikaanse beeld in die buiteland te verbeter.

Toe Vorster in September 1978 uittree weens swak gesondheid, het vroeë gerugte oor die “Inligtingskandaal” daartoe bygedra dat mnr PW Botha, leier van die Nasionale Party in Kaapland, met 98 stemme teenoor 74 vir Mulder gekies is tot leier van die party en dus eerste minister. Mulder moes in elk geval as minister bedank. In ’n finale verslag oor die skandaal is bevind dat Vorster, wat in September 1978 tot staatspresident gekies is in die plek van doktor Diederichs, mede-aanspreeklik was vir onreëlmatighede soos die finansiering van The Citizen. Hy moes as President bedank.

Meneer PW Botha het as premier verskeie stappe teen apartheidswette gedoen. Verskille oor ’n nuwe grondwetlike bedeling het in 1982 ’n skeuring veroorsaak. ’n Groep Volksraadslede het hulle teen die party gekeer. Hul leier was doktor AP Treurnicht, gewese redakteur van Die Kerkbode en daarna die dagblad Hoofstad en in 1982 leier van die NP in Transvaal. In dié jaar is die Konserwatiewe Party in Pretoria gestig. Die party was, soos die HNP, gekant teen ’n nuwe grondwet waarin daar drie wetgewende liggame sou wees – een vir blankes, een vir bruin mense en een vir Indiërs. Waar hulle gekant was teen die insluiting van bruin mense en Indiërs in die parlement, was die Progressiewe Federale Party weer teen die nuwe grondwet omdat dit swartes uitgesluit het. Die blanke kiesers het op 2 November 1983 ’n referendum gehou oor die vraag: “Is u ten gunste van die inwerkingstelling van die Grondwet, 1983, soos deur die Parlement goedgekeur?” Die land is in 15 stemstreke verdeel: Transvaal 5, die Vrystaat 2, Natal 2 en Kaapland 6. Die uitslag van die referendum was 1 360 223 ja, 691 577 nee, met ’n meerderheid van 668 646 vir die ja-stemme.

Die skeuring het na ander terreine versprei. ’n Nuwe kultuurorganisasie, die Afrikanervolkswag, is op 5 Mei 1984 gestig onder leiding van professor Carel Boshoff, teologieprofessor en skoonseun van doktor Verwoerd. Op 4 Julie 1983 het hy as voorsitter van die Broederbond bedank. Die sprekers wat die meeste aandag van die media by die Volkswag-stigting gekry het, was doktor Treurnicht, meneer Jaap Marais en veral meneer Eugene Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging met sy Nazi-agtige embleem en militêre saluut. Dit het die Volkswag ondanks sy verdienstes ’n “ver-regse” aansien gegee en die FAK het affiliasie van die Volkswag in 1986 geweier, maar in 1999 goedgekeur.