SJ du Toit en sy seun verskil

Oorlog!
January 22, 2015
Sonder kennis en ervaring
January 22, 2015

Sommige Afrikaners wat kon gaan veg, wou nie. Ander wat wou gaan veg, kon nie. Party burgers was eerder boere as Boere. Hulle het soveel waarde aan hul vee geheg, dat hulle daarmee na gebiede soos die huidige Lesotho of die Transvaalse bosveld gevlug en tot die einde van die oorlog daar gebly het.

Talle ander wat nie hoef te gaan veg het nie, het tog gegaan. Onder hulle was ’n later bekende skrywer, die jong Jochem van Bruggen, gebore Nederlander. Hy was klein en tingerig, en sy ouers was daarteen dat hy gaan. Toe hy uiteindelik die kans kry, “wil my hart bars van blydskap”, skryf hy later. “Met my eie mauser en honderd patrone kom ek as die gelukkigste jongeling tuis. Die veldkornet het vriendelik gelag, instemmend geknik, nadat ek die vrypostigheid gehad het om te sê dat hy my net môre al moet opkommandeer.”

In een bekende familie het die oorlog nuwe verdeeldheid gebring, dié van SJ du Toit. Sy vyandigheid teenoor Transvaal het skrikwekkende afmetings aangeneem. Aan die begin van 1898 het hy in Het Dagblad Engeland openlik aangespoor om oorlog teen Transvaal te verklaar. Voor die uitbreek van die oorlog het hy sy standpunt gestel in Eene afgeperste getuigenis over de tegenwoordige crisis wat as ’n bylae in die Patriot uitgegee is. Hy kon Transvaal nie steun nie weens dié staat se ongeregtighede wat herstel moet word, het hy gesê. Transvaal moet toegee aan Engeland se regverdige eise anders sal daar nie geveg word vir reg nie maar vir onreg. Daar wag ’n katastrofe op die Afrikaners, waaraan hy egter geen skuld sal hê nie omdat hy vroegtydig al begin waarsku het teen die sondes van Transvaal. SJ du Toit se broer, Oom Lokomotief, het in Ook een afgeperste getuigenis verbitterd geskryf dat, as daar oorlog kom, naas Rhodes niemand in Suid-Afrika meer verantwoordelik as SJ du Toit sal wees vir die bloed wat vergiet sal word nie. Oom Lokomotief was te oud om te gaan veg, maar het die kommando’s in die omgewing van Bloemfontein meermale opgesoek om hulle moed in te praat. Die Britte het hom naderhand na Indië gedeporteer.

SJ du Toit se seun Japie, JD du Toit, later bekend as Totius, het in stryd met sy pa se wense gehandel. Sy pa was reeds daarteen dat hy ’n predikant in die Gereformeerde Kerk word. Ten tyde van sy eksamen aan die teologiese skool in Burgersdorp het sy pa hom gewaarsku dat oorlog onvermydelik is en dat hy ná die eksamen reguit huis toe moes kom. Maar die dag ná die uitbreek van die oorlog is Totius as Kaapse rebel saam met ’n kommando na Volksrust. Daar gekom, is hy begroet deur ’n telegram uit die Paarl: “Verlaat onmiddellik die oorlogstoneel. Kom dadelik huis toe. Groete. Jou vader, SJ du Toit.” Ná nadenke en gesprekke met vriende het hy die pynlike besluit geneem om sy vader se wens te verontagsaam en soos heelparty Afrikanerpredikante veldprediker te word. Hy het ook ambulanswerk in verskeie gevegte gedoen. In Mei 1900 het Nederlandse kerkvriende hom gedwing om saam met ander Kaapse rebelle die land te verlaat. In Amsterdam het hy sy teologie-studie voltooi.