Sandrivierkonvensie-monument
April 10, 2017
Die galg van Slagtersnek
April 10, 2017

(Geskryf deur J.H. Barnardo, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1966)

Grey was ’n voormalige goewerneur van Nieu-Seeland, ’n man met ervaring en wysheid en ’n man wat bestem was om uiteindelik sy stempel op die Kaapkolonie af te druk. Gedurende sy bewind vind ons ’n hele reeks belangrike gebeurtenisse wat die verloop van die geskiedenis van dié Kolonie in sy wese beïnvloed het.

 

Sy Naturellebeleid

Met die koms van sir George Grey het ’n nuwe wending in die Britse naturellebeleid op die oosgrens ingetree. Hy het die ou beleid van gebiedskeiding wat sedert 1778 gevolg is, verwerp. Hy het nie daarna gestreef om die naturelle-moeilikhede met wapengeweld uit te skakel nie, dog veeleer het hy daarna verlang om die naturelle te beskaaf. Grey wou die naturelle hulle stamgewoontes laat afleer en die leefwyse van die witman, veral die Engelse – laat aanleer. Hierdeur het hy gehoop om ’n einde te maak aan die duur grensoorloë en om die Bantoe op nuttige wyse in te skakel in die ontwikkeling van die Kolonie.

Na ’n rondreis het Grey tot die gevolgtrekking gekom dat die euwels wat die meeste bygedra het tot die naturel se moeilikhede berus het op sy ledigheid of luiheid, die bygeloof in toordokters en die mag en gesag van die hoofmanne. Hierdie drie dinge moes uitgeroei of ondermyn word en vir die bereiking van hierdie ideaal het Grey hom nou beywer.

Dit was die aloue gebruik onder die Bantoe dat die vroue werk, terwyl die mans as vegters en jagters eintlik leeg lê. Dit het aanleiding gegee tot moeilikheid en daarom het Grey probeer om hulle te leer om nuttige werk te verrig deur hulle te gebruik om paaie te bou.

Om die naturelle verder te beskaaf, het hy aan verskillende sendingskole, soos die by Healdtown en Lovedale, toelae betaal om aan die kinders ambagte te leer, soos wamakery en messelwerk vir seuns en naaldwerk vir dogters. Daar is ook probeer om hulle boerderymetodes te verbeter deur hulle die gebruik van die wa, die ploeg en besproeiingsvore te leer.

Die invloed van die toordokters het Grey probeer ondermyn deur die stigting van hospitale, soos die Grey-hospitaal in King William’s Town. Hier kon die siek Bantoe deur bekwame dokters behandel word en kon hulle leer dat siektes die gevolg is van natuurlike oorsake en dat hulle genees kan word sonder die hulp van toordokters. Hierdie ou en ingewortelde gebruik het egter bly voortbestaan.

Grey het verder ingesien dat daar nooit vrede in die Xhosa-gebied sou kom, solank die kapteins onbeperkte gesag gehad het nie. Dit was die gebruik dat die kapteins oortredings deur naturelle in sy gebied self verhoor en boetes, gewoonlik in die vorm van beeste, perde of wapens, oplê. Dit het nie alleen die kaptein onbeperkte mag oor die onderdane gegee nie, maar het ook gelei tot verkeerde praktyke. Die goewerneur het die kapteins oorreed om hierdie reg van hulle te verruil vir ’n maandelikse salaris. Blanke landdroste is aangestel om sake te verhoor en die boetes is in die staatskas gestort.

Om hom te help om die Bantoe verder te beskaaf, het hy blanke koloniste aangemoedig om hulle tussen die naturelle van Brits-Kaffraria, die gebied tussen die Kei- en Keiskammariviere, te vestig. So kon hulle ook die leefwyse van die Blanke aanleer.

Die Britse regering het ’n jaarlikse som van R80,000 vir drie jaar aan Grey toegeken om sy beskawingsbeleid uit te voer.

Dit is te betwyfel of Grey se beleid met groot sukses bekroon sou gewees het, as dit nie was dat die Xhosas in 1857 aansienlik verswak is deur ’n treurige episode nie.’n Xhosadogter, ene Nonggause, het beweer dat die geeste van die voorvaders met haar gepraat het. Die Xhosas moes hulle vee en graan vernietig. Op ’n sekere dag sou die son dan bloedrooi opkom, sou daar volop beeste en kos wees, en sou die blankes in die see gedryf word. Die bonatuurlike het nie plaasgevind nie en twee derdes van die Xhosas het van honger gesterf, sodat van ongeveer 110,000 slegs 37,000 oorgebly het.

Na die Xhosa-selfmoord was groot dele van Brits-Kaffraria feitlik ontvolk, en sir George Grey het blanke setlaars toegelaat om daar te woon. Verder het hierdie noodlottige voorval Grey in sy oortuiging gesterk dat die Bantoe beskaaf moes word.

 

Sy Immigrasiebeleid

Om sy planne uit te voer om blankes tussen die Xhosas te laat woon, het Grey blankes nodig gehad. Hy kon hulle alleen bekom deur immigrante in Europese lande te werf. Hierdie inwoners sou ook help in die ekonomiese ontwikkeling van die Kaapkolonie.

In Europa was daar omstandighede wat Grey se immigrasiebeleid vergemaklik het. Die Krimoorlog was net beëindig en duisende Duitse huursoldate wat in diens van Engeland aan die stryd deelgeneem het, het hulleself as immigrante onder die skema van Grey aangebied. In 1857 het daar ongeveer 2,000 Duitse setlaars onder leiding van baron Von Stutterheim na die Kaapkolonie toe gekom en hulle in Brits-Kaffraria gevestig. Die Duitsers het plase in die buurt van die teenswoordige King William’s Town en Stutterheim gekry.

Ook die Britse regering was ten gunste van emigrasie na die Kaapkolonie en aansienlike somme geld is vir die bevordering daarvan gestem. Behalwe Duitsers het daar ook groot getalle Engelse emigrante na die Kolonie toe gekom. Gedurende 1858 het meer as 6,000 Engelse emigrante aangekom.

Die Europese immigrante was ’n groot aanwins vir die Kaapkolonie, omdat hulle oor die algemeen hardwerkend en goed gedissiplineerd was.

 

Onderwysbeleid

Sir George Grey het die bevordering van onderwyssake op die hart gedra.

Hy het die oprigting van die teenswoordige S.A. Openbare Biblioteek in Kaapstad aangemoedig en sy eie waardevolle boekery by die bestaande biblioteekboeke van die stad gevoeg.

Hy het sy belangstelling in die onderwys verder getoon deur die oprigting van die Grey-Instituut in Port Elizabeth. Ook het hy R6,000 aan die Volksraad van die Oranje-Vrystaat geskenk om die bekende Grey-kollege in Bloemfontein op te rig.

Verder het Grey aansienlike bedrae geld vir sendingskole beskikbaar gestel.