Sir George Grey en die mag van die toordokters

Kaptein Danie Theron leer ’n stasiemeester ’n les
November 23, 2015
25 NOVEMBER
November 25, 2015

Sir George Grey in 1861

(geskryf deur P. van Zijl, Dalesideskool, soos verskyn in Historia Junior)

Sir George Grey kan tereg beskou word as een van die knapste van die Engelse goewerneurs wat aan die Kaap regeer het. In Kaapstad is daar ’n standbeeld vir hom opgerig. In die Suid-Afrikaanse museum in Kaapstad herinner ’n ou kruiwa die besoeker aan die hopie grond wat hierdie man afgelaai het met die lê van die eerste spoorlyn van Kaapstad na Stellenbosch op 31 Maart 1859. Gedurende sy regering is die eerste gekose parlement ingestel. Hy het die hoë agting van vriend en vyand geniet.

Sir George Grey het met die aanvaarding van die goewerneursamp aan die Kaap reeds ondervinding gehad van inboorlingvraagstukke van Australië en Nieu-Zeeland. In Nieu-Zeeland waar hy goewerneur was, het hy met groot takt die wrywing tussen die Maories en die blankes verminder. Ná sy bewindsaanvaarding aan die Kaap het hy gou kennis gemaak met die leefwyses, gewoontes en tradisies van die inboorlinge. Hy het gevind dat die inboorlingkapteins alle mag van hulle stamme in hulle hande gehad het. Wanneer hulle onderdane verhoor en gestraf is, moes hulle vee as boetes betaal. Dit het meegebring dat hulle verplig was om aan die anderkant van die grense diefstal te pleeg. ’n Aanbod van R200 jaarliks is aan die kapteins gemaak, indien hulle blanke magistrate sou toelaat om hofsake by te woon en hulle van advies te bedien. Dan moes hulle egter ook afstand doen van die opgelegde boetes. Die magistrate moes weer op hulle beurt die goewerneur op hoogte van sake hou. Die kapteins het hierdie raad met verloop van tyd aanvaar.

Daar was egter een groot probleem wat baie hoofbrekens besorg het. Dit was die invloed en houvas wat die toordokters op die lewe van die Bantoes gehad het. Die toordokters het alle siektes behandel en allerhande onmoontlike oorsake vir siektes uitgedink. Ten einde hierdie euwel die hoof te bied het Sir George ’n hospitaal op King William’s Town laat oprig. Daar het siek naturelle vry mediese dienste van blanke geneeshere ontvang. Dit kon egter nog nie die diepgewortelde geloof in die toordokters uitskakel nie.

Hy het talle pogings aangewend om die Bantoes te beskaaf. Jong naturelle is opgelei as messelaars, skoenmakers, smede en wamakers. Hulle het ook hulp en voorligting op landbougebied ontvang. Om hulle verder te help, is blanke setlaars in die naturellegebiede geplaas. Toe gebeur daar iets wat die naturelle aan die toordery van die witman toegeskryf het. Longsiekte het onder hulle beeste uitgebreek. Vyandiggesinde opperhoofde oorkant die Keirivier het onrus onder die Bantoes begin stook. Hulle het ’n groot inval in die Kaapkolonie beplan. Die toordokters het met hul sterk invloed die onrus nog verder aangeblaas.

’n Negejarige naturelledogter wat teruggekeer het van ’n rivier waar sy gaan water haal het, het beweer dat geeste met haar gepraat het en boodskappe aan haar gegee het. Umhlakaza, haar toordokter-oom, het ’n vertolking vir haar vertellings gemaak en boodskappe onder die volk versprei. Die Kosas moes al hulle beeste slag en kosvoorrade vernietig. Die geeste van hul afgestorwe helde sou dan op ’n sekere dag opstaan om die blankes te verdryf. Ook sou ’n groot stormwind hulle in die see waai. Daarna sou baie graan en troppe vee uit die geestewêreld kom na ’n land waarin net die Kosas baas is. Op 12 Februarie 1857 sou twee rooi sonne in die ooste opkom en dan later weer terugdraai om weer in die ooste onder te gaan.

Sendelinge en magistrate het die vernietiging van kosvoorrade sonder sukses probeer verhoed. Duisende Bantoes het alreeds gewag op die dag van wonders.

Vroeg die oggend van die 12de Februarie was duisende verhongerde Kosas – mans, vrouens en kinders, op die heuwels van Kafferland om die dubbele bloedrooi son te sien opkom. Niks van die toordokters se voorspellings het waar geword nie en duisende het na die grense geslenter om kos by die Blankes te bedel. Die toordokter Umhlakaza het reeds van honger omgekom. Ongeveer 68,000 Bantoes het omgekom en minder as 40,000 verhongerdes het oorgebly. ’n Groot deel van Kafferland was ontvolk. Sir George Grey het verhongerdes toegelaat om op Blankes se plase te werk en aan ander is werk op paaie verskaf. Die vyandige kapteins is uit die streke verban. Immigrante is in die groot onbewoonde gebiede geplaas met behulp van groot somme geld wat die Britse regering en die Kaapse parlement beskikbaar gestel het.

’n Toordokter se aanhitsing het byna die hele Kosavolk uitgeroei.