Kommandant Piet Uys
April 11, 2017
Die Smuts-beeld
April 11, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior)

Daar is seker baie min kinders wat nog nie van ons groot veeartsenykundige navorsingstasie Onderstepoort gehoor het nie. Ons gaan in hierdie verhaal vertel van die voorgeskiedenis van Onderstepoort en van die reuse-aandeel wat sir Arnold Theiler geneem het om hierdie beroemde navorsingsinstituut tot stand te bring.

As julle daar op Onderstepoort tussen die verskillende laboratoriums deurloop, merk julle die treffende standbeeld van sir Arnold Theiler. Die beeldhouer het in graniet ’n beeld geskep wat ons ’n baie mooi insig gee in die persoonlikheid en karakter van hierdie groot man. Hoewel Theiler hier sit, sit hy nie en rus nie. Let op na die wakker kyk in die oë; hy sit regop asof hy enige oomblik kan opspring. In sy regterhand hou hy ongeduldig ’n vergrootglas. Die hele beeld laat ons ’n ernstige, aktiewe man sien. So was hierdie beroemde navorser ook.

Maar laat ons van vooraf die lewe van hierdie man volg. Arnold Theiler is in Switserland gebore. Reeds van sy kinderjare af het hy van diere gehou. Hy het veearts geword en in die Duitse leër ’n aanstelling as perde-arts gekry. Omtrent 8 jaar voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het hy na Suid-Afrika gekom. Hy het hom in Johannesburg gevestig, maar die mense het toe nog nie aan ’n veearts geglo nie. Hy moes maar ander werk soek en het ’n plaasarbeider geword. Op ’n dag het hy ’n ernstige ongeluk gehad: sy linkerarm het hy verloor deur ’n dorsmasjien.

Hierdie ongeluk het hom nie terneergedruk nie. Met groter vasberadenheid as ooit tevore het hy gewerk om sy plek vol te staan.

In 1893 het ’n hele klomp naturelle en blankes pokke gekry in Johannesburg. Daar was geen entstof te kry nie want die entstof teen pokke is slegs in Grahamstad vervaardig. ’n Vriend van die jong veeats het aan die stadsowerheid vertel dat Theiler entstof teen pokke kon maak. Dadelik het hulle Theiler laat roep, en in ’n klein kamertjie in Markstraat in Johannesburg het hy vir die eerste keer in Transvaal entstof vervaardig.

As privaat veearts kon hy moeilik ’n bestaan maak. Hy het egter voortgegaan met die studie van veesiektes en het byvoorbeeld entstof gemaak teen sponssiekte en longsiekte.

Toe breek die gevreesde runderpes in Maart 1896 uit onder die beeste noord van die Limpopo. President Kruger en sy regering het besef watter dodelike gevaar die Transvaal bedreig het. Hulle het ’n veearts gesoek om noordwaarts te stuur om die beespes te bestudeer en raad te gee hoe om die siekte uit Transvaal te hou. Die mynkommissaris van Johannesburg het Arnold Theiler aanbeveel. Hy is aangestel as goewermentsveearts en het dadelik na Bulawayo vertrek. Hier het hy vasgestel dat dit runderpes was en teruggekeer om maatreëls te tref dat die pes nie oor die Limpopo versprei nie.

Die siekte het egter spoedig in die noordwestelike distrikte voorgekom. Die regering van die Republiek het Theiler verlof gegee om navorsing te doen om ’n middel teen runderpes te ontdek.

In ’n sinkkamertjie in die Dwarsberge in die Rustenburgse bosveld het hy saam met ’n veearts uit Natal, mnr. Watkins-Pitchford, navorsing gedoen. Van Oktober 1896 tot Januarie 1897 het hulle hier probeer uitvind wat die oorsaak van runderpes was. Theiler het gesien dat enkele van die siek beeste “sout” en het geredeneer dat daar ’n middel teen die kiem of virus moes wees. Hy het uitgevind dat die bloed van siek beeste as ’n entstof gebruik kon word. Voordat hy kon vasstel hoeveel besmette bloed ingespuit moes word, en wanneer, moes hy na Pretoria terugkeer.

Intussen het die regering ’n navorsingstasie op ’n plaas Waterval, noord van Pretoria, deur landdros CE Schutte van Pretoria laat oprig. Hier moes die landdros die baie middels wat die boere uitgevind het, uittoets. Toe kom daar aan die begin van 1897 twee Franse geleerdes in Pretoria aan. Hulle was professor Jean Danysz en dr. Bordet, twee geleerdes  van die Pasteur-Instituut van Parys in Frankryk. By die proefstasie by Waterval het hulle saam met Theiler na ’n middel teen runderpes gesoek. Teen Junie 1897 het hulle ’n entstof vervaardig. Die Franse geleerdes het erken dat hulle Theiler se bevindings by die Dwarsberge net verder getoets het.

Deur hierdie ontdekking het Arnold Theiler orals bekend geraak.

Na die ontdekking van ’n entstof teen runderpes moes Theiler, Danysz en Bordet ’n middel teen  perdesiekte vind. Die proefstasie van Waterval is toe verskuif na ’n plaas by Belfast op die Hoëveld. Nadat prof. Danysz en dr. Bordet na Frankryk teruggekeer het, het Arnold die navorsing by Belfast voortgesit en hoewel hy nie ’n entstof teen perdesiekte ontdek het nie, het hy heelwat nader aan die oorsaak van die siekte gekom.

Na die sluiting, van die proefstasie by Belfast het Arnold Theiler na Pretoria teruggekeer. Hy was nie gelukkig nie want hy het nou geen proefstasie of laboratorium gehad nie. Hy wou so graag navorsing doen in die baie veesiektes. Met die hulp van landdros Schutte, ’n getroue vriend en bewonderaar van Theiler, het die regering ingewillig om ’n ou velstasie in Daspoort te verander in ’n laboratorium. Theiler het self die tekening van die laboratorium gemaak. Watter  gelukkige dag was dit vir Arnold Theiler toe hy in sy eie laboratorium kon intrek! Dit was nie ’n moderne laboratorium nie, maar Theiler was innig dankbaar dat hy met navorsing kon voortgaan.

Daar was dadelik werk vir hom. Hy moes entstof teen pokke vervaardig. Dit het hy met groot bekwaamheid gedoen.

Kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het president Kruger hom na die internasionale veaartsenykundige kongres in Duitsland gestuur. Hy wou ook ’n studie maak van builepes. Terwyl hy in Europa was, het die rampspoedige oorlog uitgebreek. By sy terugkeer in Transvaal het hy by die Boerekommando’s aangesluit en as krygsman ook sy nuwe vaderland gedien.

Na die oorlog het die Britse regering Theiler gevra om sy navorsingswerk in Daspoort voort te sit. Dit het hy gedoen en vir etlike jare voortdurend met veesiektes geworstel. Sy bekwaamheid het dwarsdeur Suid-Afrika bekend geword. In 1908 is die nuwe proefstasie met beter laboratoriums by Onderstepoort in gebruik geneem. Hier het Theiler se werk wêreldroem verwerf. Vandag is Onderstepoort alom bekend en die buitewêreld trek steeds voordeel uit sir Arnold Theiler se werk. Onder die talle prestasies van hierdie genie, noem ons net sy studie van lamsiekte, daardie siekte wat veral in die distrik Vryburg duisende beeste laat beswyk het. Vir ses maande het sir Arnold in die veld gebly en die oorsaak van lamsiekte by beeste ontdek.

Theiler het oor ’n geweldige werkkrag beskik. Elke môre het hy vroeg opgestaan; inspeksie by al die afdelings op Onderstepoort gedoen; lesings aan studente gegee; navorsing gedoen en artikels geskryf. Hy was ’n nederige en vriendelike man, iemand wat ook ander aangevuur het.

Nadat hy uit die diens getree het, het hy met studie en navorsing voortgegaan. In 1936 is hy dood. Die hele wêreld het geweet dat ’n groot navorser heengegaan het. Hy het Suid-Afrika intens lief gehad en met al sy kragte en gawes gedien.