Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur
April 24, 2017
Vervoer – Pos in die ou dae
April 24, 2017

(Geskryf deur P van Zijl, Laerskool Japie Greyling, soos verskyn in Historia Junior)

Gedurende die afgelope eeu het die wetenskap op alle gebiede geweldig vordering gemaak. Nog steeds word daar gepoog om alles te verbeter. Die mediese wetenskap het ook nie agter gebly nie. Siektes wat vroeër dodelik was, word vandag in baie gevalle genees. Op die gebied van snykunde word wondere verrig. Menslike organe word oorgeplant en kunsorgane word gebruik om pasiënte aan die lewe te hou. Nuwe medisynes word beproef om siek mense se lot te versag en te genees. Van tyd tot tyd lees ons in tydskrifte of verneem ons oor die radio van wondergeneesmiddels wat deur slim geneeshere in hul laboratoriums ontwikkel is.

In die verre verlede was siek mense se lot dikwels uiters onaangenaam. Aan operasies en snykunde is min aandag gegee, aangesien pasiënte dit selde oorleef het. Die veld was dikwels die “medisyne laboratorium” waar genesende blare, wortels, vrugte en kruie gevind moes word om as geneesmiddels te dien. Boererate het beslis in baie gevalle lewens gered. Sommige medisynes en rate van daardie tye het egter hoegenaamd geen waarde gehad nie. Die volgende gedeeltes uit ou geskrifte is nogal interessant:

Ek haal aan uit Trichardt se dagboek:

“Carolus was Zondag zoo koorzig en pyn in zyn rug en kop dat hy niets doen kon en Saartjie van Ouma Strydom van zelfde. Carolus had een aluwe (aalwyn) pergasie ingenomen was hy een weinig beter en Saarie ook was beter as sy gewees is.”

Uit ’n baie ou boek die volgende (vertaling):

“Dokters was in die ou tyd skaars. Op elke dorp was daar net een dokter. Op die plase by ons het nooit ’n dokter gekom nie. Hy moes gehaal word as iemand baie siek is. Op Colesberg was daar ’n Dr. Kis.

Die mense op boereplase het selde van dokters gepraat. Op sommige dorpe het mens darem ’n apteek gevind. Ons het ons boere-geneesmiddels gehad waarvan ek sommige sal opnoem soos wit- en bruin dulsies, Hoffmansdruppels, groen amara, versterkdruppels en rooi poeier. Vir sere en swere is die volgende as trekpleisters gebruik: spykersalf, kersieblaarpap, melkpap, beesmis met asyn, bok- en wolwemis, hondebloed, wilde aalwyn, wynruit, tiemie, rou vleis, jakkalslewer en aasvoëlvet. Dit was ons medisynes.

Dan het ons in plaas van dokters, goeie ou vrouens gehad wat as dokters moes dien. Ook moet ek dit darem noem dat daar in die ou dae nie so baie siektes was nie en ons mense was toe ook sterker as tans. Teenswoordig is dit maar moeilik om ’n mens te wees. Ons mense in die ou tyd het groot medelye met siek mense gehad en het al die siekes in die buurt getrou besoek.

Vir stuipe het die ou mense gewoonlik hondebloed gebruik, vir masels bokmis, vir seerkeel en swere, wolwemis. So het ons voortgesukkel.”

Ons hedendaagse mense is beslis baie bevoorreg om aangename, moderne geneesmiddels te kan gebruik. Hierdie geneesmiddels word aan streng toetse onderwerp voordat dit versprei word vir gebruik.