Hoewel die meeste Afrikanergesinne groot was, het siektes soms talle lewens geëis, ook van kinders. Doodberigte in die Kerkbode bevat aangrypende verhale: ’n egpaar Smit maak op 12 Februarie 1859 bekend dat vyf van hul kinders binne ses weke oorlede is aan witseerkeel. Aan dieselfde siekte het ’n weduwee van Warrenton in die 1880erjare vier kinders in agt dae afgestaan; ’n egpaar van Colesberg vier kinders binne 20 dae; ’n egpaar van Cradock eweneens vier kinders in enkele weke; ’n egpaar van Jacobsdal “vier van ons dierbare kinderen, niet één overgebleven tot troost voor ons, ouders”.
In meer as een gesin het die kinders die siekte by mekaar aangesteek, soms nie. Petronella van Heerden, eerste Afrikanervrou wat dokter geword het, vertel in Kerssnuitsels dat ’n kind van Philippolis aan die einde van die eeu witseerkeel gekry het. Die kind was amper dood, maar “die dokter het ’n gat in sy gorrel gemaak en ’n instrumentjie daarin gesit waardeur hy kon asemhaal”. Af en toe is dit skoongemaak, deur die “goed wat daar opgehoop het”, met ’n buisie uit te suig. Die kinders het almal aan die buisie gesuig en heeldag by die kind gekuier. Waarom die hele dorp se kinders nie difterie opgedoen het nie, is ’n raaisel, skryf sy.
In 1857 het Hugh Eaton begin om homeopatiese middels in Suid-Afrika in te voer, en in 1858 is ’n Nederlandse vertaling van die gids gepubliseer. Hoewel party dokters daarteen was, het dit gou oor die hele land versprei. Daarby het siekes soms allerlei sogenaamde “Boererate” gevolg. Party het gehelp, ander het geen skade gedoen nie, maar minstens een keer, in 1860 op Robertson, het dit ’n ramp veroorsaak. In dié tyd het ’n maselepidemie op verskeie plekke in die Kolonie gewoed. ’n Jong meisie het van die plaas af dorp toe gegaan om spesiale eredienste by te woon, moontlik van die opwekkingsdienste wat toe so gewild was. Sy was onbewus daarvan dat sy masels gehad het en het saam met haar verloofde kerk toe gegaan en verskeie mense aangesteek.
Die siekte is toe gedokter met “’n goeie raad” – ’n bokmis-aftreksel. ’n Ou bruin vrou is laat kom omdat sy geweet het hoe om die middel voor te berei. Tot almal se ontsteltenis het ’n verskriklike “koors”-epidemie uitgebreek. Dit was vir almal ’n skok toe die plaaslike geneesheer, ’n gebore Duitser, bevind het dat die bokmis met dodelike kieme besmet was. Hy het die publiek toegesnou: “Jullie kryg die koors van die goed wat jullie vir die masels gesuip het!”” In die klein gemeenskap is 79 wit mense uit ’n bevolking van 700 dood. Ook in die distrik was daar sterfgevalle. Die publiek het die pa van die verloofde dogter die skuld gegee. Haar verloofde het boonop die verlowing verbreek.
Dokters was skaars en die oorsake van siektes soos “koors” onbekend. Maagkoors het jaarliks voorgekom op baie dorpe met primitiewe sanitasie en watertoevoer.
In die republieke was min dokters. Dokter CJG Krause was lank die enigste arts in Bloemfontein en feitlik die hele Vrystaat. Twee van sy seuns, OCH en JW Krause, het later bekende dokters in die Vrystaat geword.