Ossewataal
February 5, 2015
Speeltyd
February 5, 2015

Die Voortrekkers het nie dokters of hospitale gehad na wie hulle kon gaan as hulle siek of gewond was nie. Elke gesin het ’n medisynetrommeltjie of huisapteek gehad. Die huisapteke kon by aptekers in Kaapstad gekoop word en het patentemedisyne bevat. Daarin was pleisters, lappe, salwe en ’n paar botteltjies medisyne. Die volgende medisyne was in die huisapteek:

•    Bruindulsies vir blaasontsteking
•    Hoffmansdruppels vir hoofpyn
•    Helmontskruid, wonderessens  en kasterolie vir slegte spysvertering
•    Soetolie vir oorpyn
•    Spykersalf vir kneusplekke of wonde
•    Versterkdruppels vir algemene versterking
•    Witdulsies vir borskwale

Die Trekkers het hulleself ook met allerhande boererate en kruie gedokter. Die volgende boererate is deur die afstammelinge van die ou Voortrekkers opgeteken:

Hoes: Kanfer of boegoe.

Inflammasie: ’n Lepel bloed is uit ’n hond se oor getap en die pasiënt moes dit drink.

Keelseer: Rooipeper gemeng met fyngestampte aalwyn is gebruik.

Koors: Bloekomblare of die wortels van tamboekiegras is in kookwater getrek en dan vir iemand met hoë koors gegee om te drink. Kruie en flou asyn is as sweetmiddel gebruik.

Longontsteking: ’n Bok is keelaf gesny,  die warm bokvel op die siek persoon se bors geplaas en hy is met sakke en komberse toegedraai.

Maagpyn: ’n Bakkie nartjiebrandewyn is warm gemaak en ’n flennielap daarin gedoop. Dit is dan stomend warm op die sieke se maag gesit.

Rugpyn: Smeer aasvoëlvet aan.

Seer nek: Smeer leeuvet aan.

Skilfers: Opgekookte roosmaryn is aan die kopvel gesmeer.

Swere: Bokvet met fyngestampte naeltjies is as salf gebruik.

Veldroogheid: Bok- of beesvet is op kinders se skurwe hande en gesigte gesmeer.