Die Voortrekker-museum
August 20, 2018
PORT ELIZABETH – VERLEDE EN HEDE
August 20, 2018

Dit sal volgende jaar 40 jaar wees dat ’n skraal 17-jarige knaap vol hunkerende geesdrif vir die Afrikaanse toneel hom op Knysna by die destydse Hanekom-geselskap aangesluit het. Die verbintenis met dié span, wat ook Wena Naudé en Willem van Zyl ingesluit het, het slegs ses weke geduur – maar dit was ’n begin.

Vandag is dié veteraan-akteur – nog steeds skraal, geesdriftig, toegewyd, sjarmant – seker Suid-Afrika se mees geliefde en geëerde akteur: Siegfried Mynhardt. Algemeen word hy erken as ons mees ervare toneelspeler wat sy onmiskenbare stempel op selfs die “kleinste” rol kan afdruk.

Ek weet van mense wat na ’n opvoering sal gaan omdat hy daarin optree. In die teater het ek al by sy verskyning die fluistering gehoor “There he is!” Dit maak nie meer saak of hy ’n hoofrol of ’n mindere rol beset nie, of hy besonder goed of minder goed vaar nie: teatergangers bejeën sy optrede altyd met geesdrif en ’n tikkie ekstra applous.

En terselfdertyd dink hulle moontlik terug aan die lang pad wat dié man geloop het; is hulle bly oor sy nog jeugdige voorkoms, sy stamina, die indringende oorgawe waarmee hy ’n rol vertolk en eerbiedig hulle die stil, byna afsydige erkenning van hul waardering aan die einde.

Daar is baie redes hoekom toneelliefhebbers vir Siegfried Mynhardt leer liefkry het, hoekom hy ’n gesogte akteur is. Sy integriteit, sy beskaafdheid, sy erns en toewyding, sy vakmanskap, deurspek met praktiese saaklikheid, onpretensieuse werkmetode sonder vertoon of selfgenoegdoening – al dié dinge, en meer, spreek uit sy moeitelose, meevoerende verskyning op die verhoog.

Na ’n gedempte gesprek met hom in die ruskamer van die Breytenbachteater tussen optredes in TRUK se jongste opvoering (A Month in the Country van Toergenjef) het dié rare aantrekkingskrag vir my nog duideliker geword. Uit sy fynbesnede gelaat kyk hy met twee rusteloos-ondersoekende oë om hom heen, en min dinge ontsnap sy skerp aandag. Sy sprekende hande waarin soms ’n hooggespanne trilling kan kom, hou hy tog meestal gedissiplineerd op sy skoot in bedwang. Hy Iyk na ’n man wat die kleinlikhede ontgroei het van ’n naywerige beroep waarin die wedywering kwaai is; ’n man wat deur swaarkry gelouter is en homself gevind het; ’n akteur na wie sy kollegas nou met respek kan opsien.

“Toneel is my lewe”, het hy eenvoudig geantwoord. “As ek weer sou moes kies, sou ek weer toneelspeler word, maar” – en dit met ’n verleë glimlag – “ek sou begeer om ’n veel beter een te wees …

“Wat ek egter beslis nie weer wil wees nie, is ’n baanbreker. Ons ou garde het swaar geleef, soms byna te veel opgeoffer – en party het as gevolg daarvan uitgesak, verbitterd geraak, na gesondheid of gewoonte geknak of eenvoudig ten gronde gegaan. Omstandighede was só moeilik, tensy jy sterk kon wees, moes jy kraak. ’n Mens het baie dinge in die lewe ontbeer; die klompie bittereinders het maar deurgebyt en aangehou …”

Dis duidelik dat “Siegie”, soos alle toneelmense hom ken, se werk vir hom is soos enige ander werk – maar dan dié wat hy die graagste wil doen. Met groot konsentrasie doen hy dit so goed as moontlik, maar hy bly saaklik daaromtrent. Sy benadering is realisties, feitlik onromanties. Hy is vakman. “He has star quality without tantrums”, het ’n skerpsinnige Natalse joernalis van hom geskryf.

Hoewel hy feitlik ’n instelling in die Suid-Afrikaanse toneel geword het, gaan hy bedaard sy gang. ’n Mens weet min van sy privaatlewe. Min mense weet dat hy in Engeland met groot toneelkragte bevriend geraak het of dat hy ’n gesinsman is met ’n vrou en drie kinders (twee seuns en ’n dogter), of dat hy deesdae in ’n karaktervolle ou huis woon waar hy graag in die tuin rondprutsel.

“Ek beskou myself as ’n karakter-akteur”, het hy op ’n vraag geantwoord. “Ek het geleer dat as jy ’n beroepspeler wil wees, moet jy nie uitsoekerig wees en net hoofrolle verwag nie. Elke rol is belangrik. In die kleinste rol moet ’n mens jou volle gewig ingooi. Per slot van rekening is die hele stuk die spil, dis belangriker as ’n besondere rol. Vir goeie toneel stel ek samespel voorop … Deesdae verkies ek om saans vroeg op te daag, my gereed te maak en heelwat tyd agter die syskerms deur te bring voordat ek moet opgaan …”

Vandag se aspirantspelers is te beny, het Siegie beduie. Hulle kan in drie, vier jaar by ’n toneelskool leer wat hy in tien jaar se rondswerf, swaarkry en selfs hongerly wys geword het. Daarna kan hulle by een van die provinsiale streekrade of elders ’n kontrak kry met die reg om dit te hernu. Hulle trek nie maande of jare op toneelreise van dorp tot dorp rond nie, maar het ’n vaste onderdak en gereelde betaling. Hulle kan sonder swaarkry òf vasstel of hulle toneelspelers wil word òf van die “toneelkiem” ontslae raak en uitsak – wie aanbly, is verseker van ’n gereelde bestaan.

Hoe anders was dit 40 en meer jaar gelede …

Toe hy in 1930 op Knysna by die Hanekoms aangesluit het, was die beroemde George Bernard Shaw ook daar tuis, destyds op besoek aan Suid-Afrika. Onnadenkend het hy ’n gulde geleentheid Iaat verbyglip om met Shaw te gesels. As hy destyds maar kon raai in hoeveel Shaw-stukke hy nog sou moes optree, het hy met ’n spytige skouergebaar beduie, “maar ’n mens – ek altans – versplinter jou aandag en kragte en mors soveel geleenthede in die lewe …”

 

DE GROOT, ANNA KLAASSEN

Paul de Groot met sy Europese teaterondervinding was Mynhardt se volgende toneelleier. De Groot was die eerste man wat sy spelers behoorlik afgerig het, het Mynhardt vertel. Hy was gesteld op sy spelers se optrede en het hulle gebrei en gevorm en ’n grondslag gelê waarop ’n man soos André Huguenet kon voortbou.

Die stuk destyds was Die Rose-krans, ’n vertaling deur mev. E. Carinus-HoItzhausen van Andre Bisson se verwerking van die Florence Barclay-verhaal. Lydia Lindeque was daar en Henri van Wyk en Rena la Roche. (Huguenet was toe tydelik in Pretoria joernalis.) Aanvanklik het hulle taamlik goed gevaar. Die titel was destyds allerbelangrik, of dit nou met die stuk iets te make gehad het of nie. Dit moes die mense lok. Die skrywer het nie getel nie. De Groot het die toer later kort geknip en oorsee vertrek. Dit was depressietyd …

Mynhardt het werk gekry by mevrou Anna Klaassen, een van die Nederlandse (en Vlaamse) toneelspelers wat in navolging van De Groot ook hul geluk in Suid-Afrika beproef het.

“Ons stuk was Napoleon se Wasvrou – en dit was vir jou ’n ervaring van rampspoed en ellende. Soms het ons skaars kos gehad. Ons het selde betaling ontvang. Van hotelakkommodasie was daar geen sprake nie. Mev. Klaassen het die toerbus in die veld as slaapplek gebruik. Ons moes inkruip waar ons kon – dikwels het ons maar weer na die sale teruggesluip en op die verhoog onder ons toneelgordyne geslaap nadat een van ons vooraf binne weggekruip het om later te kan oopsluit.

“Dit het beroerd gegaan. Soms het ons nie genoeg geld gehad om die brandstof na die volgende dorp te betaal nie. Ek moes die toerbus bestuur en het dan doodgespanne die brandstof laat intap. Dan, wanneer die betaalslag kom, wou ek in die aarde wegsink as mev. Klaassen met haar ontsagwekkende toneelstem en Hollandse aksent verduidelik dat sy die geld nie het nie. “Ik zal het nasende …” het sy belowe en die naam en adres afgeskryf. Sover ek weet, het sy dié geld altyd weer aangestuur wanneer ons êrens ’n beter opkoms gehad het.”

Dié soort swaarkry was nie toe vir hom iets besonders nie. Dit is as deel van die wisselvallighede van ’n toneelloopbaan aanvaar. En hy is nie spyt oor die sukkelpad nie.

“Want mev. Klaassen het my een groot guns bewys – sy het my van die belang van spraak bewus gemaak. In die veld het sy ons onder hande geneem en ek bly haar daarvoor dankbaar.”

Die toer het op Wellington tot sy rampspoedige einde gekom. Die besprekings was goed, die spelers het alles vir die aand gereed gehad. Mev. Klaassen was soos gewoonlik by die Rompels in Kaapstad tuis. Toe sy glad nie betyds opdaag nie, het ’n bekommerde jong Mynhardt die Rompels gebel – om te verneem dat Anna Klaassen die middag met die boot na Holland vertrek het.

Foto: ’n Geskiedkundige handbiljet van Huguenet se aanbieding van Johannes van Wyk, verwerk uit die verhaal van J.H.H. de Waal

“Ons het verdwaas agtergebly, opgesaal met ’n ou bus en verslete kostuums, om die gelag – en die bespreekte plekke – te betaal. Ons was meer as platsak en my pa moes maar weer vir my geld stuur om huis toe te kom.”

Daarna het hy gewerk waar hy kon totdat hy in 1933 by André Huguenet se geselskap aangesluit het. Nadat hy van Paul de Groot “oorgeneem” het, het Huguenet bly toer, ten spyte van die depressie – nagenoeg die enigste man wat daarin kon slaag.

Foto: Deel van ’n ou biljet van Huguenet se aanbieding van Ek het ’n Man Vermoor, uit Siegfried Mynhardt se plakboek

Mynhardt het ongeveer vier jaar by Huguenet gebly en o.m. deelgeneem aan Johannes van Wyk, Die Swart Hand, Ek het ’n Man Vermoor en Haar Egskeiding. Hulle het in ’n sterk geselskap ontwikkel, ’n groepie jong spelers wat mekaar goed leer ken het. Daar was nog Lydia Lindeque, Ena du Toit, Paula Styger, Bettie Brits, Nico van Rooyen, Dewald van der Merwe en Johan Piek. Hul samespel het voortreflik geword. In waardering van dié span het Huguenet in sy biografie geskryf dat hulle saam gespeel, saam gesweet, saam gelag en saam gehuil het.

 

Foto: Huguenet se program spesiaal op sy gedruk – vir die première van Haar Egskeiding waarmee hy sy tiende jaar in die Afrikaanse beroepstoneel gevier het

Ewe waarderend vertel Mynhardt: “Huguenet het ons nooit tekort gedoen nie. Hy het altyd betaal wat hy belowe het en ons verder ook goed behandel met verblyfplek e.s.m. Hy was erg gesteld op ons voorkoms en gedrag en die ‘beeld’ wat ons as toneelmense geskep het.

“André het met sy opvoerings ook altyd die beste gegee. Daarom sê ek altyd dat hy meer vir die toneel in ons land gedoen het as enigiemand anders. As hy iets uit die toneel gemaak het, het hy dit weer daarin teruggeplaas in die vorm van beter stukke (waarna hy gesmag het), goeie dekor, smaakvolle kostuums, e.s.m. Ons mag André se bydrae nooit onderskat nie …”

Teen 1936 het Mynhardt in Engelse stukke in Johannesburg en Kaapstad begin optree. Daar was The Frightened Lady van Edgar Wallace en Late Night Final van Louis Weitzenkorn, opgevoer deur Charles Hickman, ’n produksieleier op besoek met spelers uit Londen. Ook het hy aan vertonings van die beroemde sir Seymour Hicks deelgeneem, alles in medewerking met African Consolidated Theatres.

Hy was nou moeg van die swerwersbestaan en wou wyer ervaring opdoen deur met die beste spelers te werk. Die kontak met die oorsese toneelkragte het hom aangespoor om na Brittanje te vertrek waar hy binne drie weke in Londen toneelwerk gekry het.

“My ervaring van verhoogwerk met al die toneelreise het my goed te pas gekom. Ek was in alles gekonfyt en waar ek miskien nie ’n toneelrol kon losslaan nie, kon ek met die toneelbestuur agter die skerms help en dit het my aan die lewe gehou.”

Die eerste stuk het gou misluk. Daarna was hy doublure van ’n belangrike rol in The Painted Smile in die Weseinde van Londen. In Money Talks van sir Seymour Hicks het hy ’n klein rol gehad, as doublure van die jeughoofrol opgetree en ook as assistent-verhoogbestuurder gewerk. Uiteindelik het hy by The Old Vic beland waar hy met groot spelers, regisseurs en opvoerings te doen gekry het. Hy het sy oë en ore oopgehou en geleer wat hy kon. Die sterre hier was Laurence Olivier, Tyrone Guthrie, Sybil Thorndike, Vivien Leigh, Robert Helpman … En hy het ’n ruk lank met die jong Alec Guinness ’n woonstel gedeel.

In 1938 is The Old Vic Company deur die British Council op ’n uitgebreide reis van 13 weke deur Europa gestuur, tot in Italië en na Alexandrië en Kairo in Egipte. Van die stukke op die repertorium was Shakespeare se Hamlet en Henry V, Shaw se Man and Superman en stukke van Priestley, Ginsburg, Sheridan en Wooll. Regie is waargeneem deur Lewis Casson, Esme Church en Tyrone Guthrie en daar was ’n sterbelaaide lys spelers op dié prestige-toneelreis. Vir die jong Suid-Afrikaner was dit ’n wonderlike ervaring.

Mynhardt het daarna ook elders in Brittanje opgetree, o.m. in Shaw se Saint Joan in Birmingham en aan Skotse repertorium-aanbiedings in Edinburgh en Glasgow deelgeneem. Later het hy saam met Rolf Lefevre, ’n mede-Suid-Afrikaner, in Judgement Day van Elmer Rice in Londen opgetree.

Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog in 1939 het die teaters in Brittanje een na die ander gesluit. Ná sy jarelange verblyf het die Britse owerheid Mynhardt uiteindelik vir krygsdiens in die R.A.F. opgeroep. Maar net voordat hy hom moes aanmeld, het hy berig ontvang dat hy dadelik saam met ’n ander Suid-Afrikaner ’n skip moes haal vir repatriasie na sy vaderland. “As ek dink aan die talle Suid-Afrikaners wat op ’n geleentheid huis toe gesit en wag het, glo ek steeds graag dat my Afrikaanse naam die deurslag in my guns gegee het.”

 

EIE GESELSKAP

Deur bemiddeling van die huidige Minister van Finansies, dr. N.J. Diederichs, en (tans) regter J.F. Marais, is Mynhardt met behulp van die Reddingsdaadbond in staat gestel om sy eie geselskap op die been te bring. Dit was die oorsprong van die puik aanbieding van die riller Die Rooi Pruik wat hy dwarsdeur die land op reis geneem het. Van oral oor het hy ’n klompie puik vrouespelers bymekaar gemaak: Maxie Potgieter, Marie du Preez, Kitty de Villiers, Cillie de Klerk, Hansje Hendrikz en Johanna Smuts.

Foto: ’n Foto uit Haar Twee Seuns (later Wat te erg is, is te erg)

Hierop het gevolg Haar Twee Seuns (The Silver Chord, van Sidney Howard, later genoem Wat te erg is, is te erg.) Deelnemers was May Pretorius, Maxie Potgieter en Hansje Hendrikz. Dié stukke is deur sy vader in Afrikaans vertaal.

Na dié twee toere het Mynhardt by Gwen Frangcon-Davies en Marda Vanne (laasgenoemde terug in haar geboorteland) se geselskap aangesluit. In medewerking met African Consolidated Theatres het hulle in Pretoria se ou Operahuis ingestudeer en al die groot stede besoek, o.a. met Shaw se Major Barbara, afgerig deur nog ’n Suid-Afrikaner wat in Europa roem verwerf het, Leontine Sagan. Ander stukke was Milestones (Arnold Bennet en Edward Knobblock); Blithe Spirit (Noël Coward), Watch on the Rhine (Lillian Hellman), Flare Path (Terence Rattigan), e.s.m. Dit was toe al 1943.

In Oktober 1942 is ’n tweetalige groep deur Mynhardt en Marda Vanne bymekaargebring wat ’n kortstondige bestaan beleef het. Jacques du Val se Mademoiselle, verwerk deur Marie Linde, is opgevoer met Lydia Lindeque in die titelrol. Dié poging is aangeprys en koerante het geskryf dat daar hoop bestaan vir die geboorte van ’n ware nasionale teater.

Foto: ’n Toneel uit Mademoiselle wat in 1942 geskiedenis gemaak het toe die eerste tweetalige beroepstoneelgroep in die land in die lewe geroep is onder aanvoering van Marda Vanne en Siegfried Mynhardt. Die stuk is deur laasgenoemde afgerig. Hier verskyn o.m. Mynhardt (middel, agter), Lydia Lindeque (op rusbank) en Marda Vanne (sittende).

Tussen al die bedrywighede deur het Mynhardt ook heelwat radiowerk saam met Rolf Lefevre en Marie Ney gedoen.

Foto: ’n Plakkaat van Mynhardt se opvoering van Die Rooi Pruik (Ladies in Retirement) wat hy met die steun van die Reddingsdaadbond op ’n landreis geneem het. Later het hy dit ook voor Suid-Afrikaanse troepe in die Middellandse See-gebied opgevoer.

Teen 1945 het Mynhardt die soeklig op die Afrikaanse beroepstoneel in toesprake en artikels gewerp en gepraat van die dekadensie wat na 20 jaar ingetree het. Daar was s.i. die beginstadium, die oorgangsjare, die klimaks en daarna die verval. Hy het dit veral gehad teen die swak stukke waarmee geselskappe die land bereis het. Huguenet was nog die een uitsondering wat gespartel het om ’n standaard te handhaaf.

In dieselfde jaar het hy saam met Lydia Lindeque in ’n geselskap vertrek om die Suid-Afrikaanse troepe in die buiteland te besoek. In Afrikaans is Die Rooi Pruik weer eens aangebied en in Engels Mrs Warren’s Profession van Shaw. Later is The Proposal ook opgevoer. “Dit was ’n heerlike ervaring. Ons het al die kampe besoek in Noord-Afrika, Italië en tot in Oostenryk.”

 

HAMLET

Op toneelgebied is 1947 ’n besonderse jaar vir die Afrikaanse toneel: die eerste beroepsopvoering van ’n Shakespeare-stuk in Afrikaans. (Volgens Huguenet het Potchefstroomse studente vroeër met prof. L.J. du Plessis se vertaling van The Merchant of Venice rondgereis.) Prof. L.I. Coertze se vertaling van Hamlet sou dié jaar verskyn en Huguenet se droom om dié klassieke stuk in sy moedertaal aan te bied, is moontlik gemaak deur die medewerking van African Consolidated Theatres. Hamlet sou tydens die feestelike opening van die nuwe His Majesty’s in Johannesburg aangebied word, daarna in Pretoria.

Mynhardt, met sy ervaring by die Old Vic, is deur Huguenet genader om saam met Anna Neethling-Pohl as regisseur op te tree. Dit was ’n reuse-poging waarby alles ingewerp en geen moeite ontsien is nie. Berlioz se musiek is gebruik en die fanfares is spesiaal deur Edgar Cree van die S.A.U.K. geskryf. Cobus Esterhuysen het die dekor ontwerp.

“Die waardering was oorweldigend vir hierdie aanbieding van een van die oudste tragedies, vertolk in die jongste taal ter wêreld”, het Huguenet geskryf.

Foto: ’n Repetisie van die swaardgeveg tussen Hamlet (André Huguenet) en Laertes (Siegfried Mynhardt) in die geskiedkundige opvoering van Hamlet in Afrikaans in die His Majesty’s skouburg, Johannesburg in 1947. Mynhardt en Anna Neethling-Pohl was mederegisseurs van dié stuk.

Die rolverdeling was geskiedkundig: Huguenet as Hamlet, Berdine Grünewald as Ophelia, Anna Neethling-Pohl as die koningin, Gideon Roos as die koning, Jan Schutte as Horatio, Mynhardt as Laertes, Philip Burgers as Polonius …

“Dit was ’n pragtige rolverdeling en ’n onvergeetlike prestasie vir die Afrikaanse toneel. Die openingsaand in His Majesty’s was ’n ware feesgeleentheid, o.m. bygewoon deur die Eerste Minister, generaal Smuts. Ek glo graag, soos ’n paar ander van ons, dat dié mylpaal ’n groot deel bygedra het tot die totstandkoming van die Nasionale Toneelorganisasie die jaar daarop. Mnr. Breytenbach was lank reeds deur FATSA besig om so iets te bepleit; ook Huguenet en ander toneelspelers en koerante. Ek dink die Hamlet-sukses het ’n verdere stoot aan die idee gegee.”

In 1947 het hy ook vir JODS deelgeneem aan Autumn Crocus onder spelleiding van Anna Romain-Hoffman.

In 1948 kon NTO sy eerste twee stukke, aanvanklik sogenaamd as eksperiment, op ’n landsreis stuur. Mynhardt het vir NTO begin speel en in die rondreise het hy soms in sowel die Engelse as die Afrikaanse stukke opgetree.

Met NTO is ’n groot stap vorentoe geneem, het Mynhardt vertel, maar vir die toneelspeler was dit nog nie alles maanskyn en rose nie. Daar was geen deurlopende kontrak van indiensneming nie en dus min sekuriteit. Die toere was geweldig lank en vermoeiend. Teen dié tyd het hy ’n vrou en kind in Johannesburg gehad van wie hy vir ’n groot deel van die jaar moes afskeid neem. Die trekpad was weer eens sy voorland …

Foto: Een van Mynhardt se onvergeetlike rolle was dié van die hofdigter Ishak in die NTO se prestige-opvoering van Hassan, afgerig deur die Britse regisseur Basil Dean. Mynhardt beskou Basil Dean as een van die grootste regisseurs onder wie hy in sy lang loopbaan gewerk het.

Uit die NTO dae is daar ’n hele paar groot vertolkings van Mynhardt wat ’n mens sal onthou. Ek dink byvoorbeeld aan die ster-belaaide prestige-opvoering van Hassan, van James Elroy Flecker (1950), onder die Britse regisseur Basil Dean. As die hofdigter Ishak het Mynhardt fyn poëtiese nuanses weergegee wat in die herinnering voortleef. Sy gevoelige spel in die titelrol van Die Vrek (Molière, 1951) is deur een kritikus om die “thistledown lightness” van sy aanslag aangeprys. Ook sy Aguecheek in Twelfth Night van Shakespeare (1953) en sy vertolking in Volpone (Ben Jonson) was voortreflik.

Tydens sy eerste verbintenis met NTO het Mynhardt ’n ruk weggebreek ten einde die droom van alle akteurs te verwesenlik. Hy het die hoofrol vertolk in Margaret Inglis se aanbieding van Hamlet, onder beskerming van die Johannesburgse Raad vir die Opvoeding van Volwassenes.

Teen 1954 het hy by die Engelse beroepsgeselskap REPS (tans die Alexander) in Johannesburg aangesluit, wat ses of agt spelers per jaar in diens geneem en stukke in Johannesburg en Pretoria aangebied het. Anthony Farmer het heelwat van dié stukke afgerig en Siegie het o.a. die hoofrol vertolk in Someone Waiting van Emlyn Williams (1955). Teen 1957 was hy by NTO terug, o.m. in Bitter Einde, Jakkalsstreke van Scapino (1958), School for Scandal (Sheridan, 1958), en Moeder Hanna (Bartho Smit, 1959).

 

BROOKE EN COCKPIT PLAYERS

Hierna het hy vir Brian Brooke opgetree. In die sprankelende Franse musiekblyspel Irma la Douce het Mynhardt homself oortref en die liefling van geesdriftige gehore in al die stede geword. As die verteller het hy 13 rolle so geniaal vertolk, dat een kritikus geesdriftig geskryf het: “he came dangerously near to stealing the show … in die end you think of him as the spirit of the show.”

Foto: Een van die hoogtepunte van Mynhardt se loopbaan was beslis sy vertolking van die verslonste ou boemelaar in The Caretaker (Pinter) in die dae toe hy lid was van Leonard Schack se Cockpit Players. Hier verskyn hy in ’n tipiese houding.

Leonard Schach met sy Cockpit Players was sy volgende “baas”. Wanneer hy daarvan vertel, is dit duidelik dat hy groot voldoening uit dié verbintenis geput het. Dié groep het die stede besoek met uitmuntende aanbiedings, soos Tenth Man, Beyond the Fringe, The Caretaker (Pinter), Night of the Iguana (Tennesse Williams), e.s.m. Die guitige, genadelose revue Beyond the Fringe met Mynhardt, David Beattie, Nigel Hawthorne en Leon Eagles het ongekende sukses beleef en is as ’n “staggering feat” aangeprys. Mynhardt se vertolking in The Caretaker bly onvergeetlik en in Night of the Iguana was die samespel tussen hom, Marjorie Cordon, Margaret Inglis en Michael McGovern voortreflik.

 

TRUK

Met die totstandkoming van TRUK in 1963 is ’n meer bestendige bestaan vir hom in die vooruitsig gestel. Hy het dadelik aangesluit en pal aangebly – die enigste speler wat daarop aanspraak kan maak. Hy was ’n man van oor die 50 jaar en vir die eerste keer kon hy eindelik sy rug op die trekpad keer en soos ander manne by sy gesin bly woon. Sy hele lewe lank het hy geswerf en feitlik elke verhoog in die land betree. Huislikheid het hy nie geken nie. Nou kon hy gevestig raak en die aankoop van die mooi ou huis – ’n ontwerp van sir Herbert Baker – in Johannesburg het hom sy eerste huislike anker gegee.

Foto: Met Frank Douglas en John Hayter in TRUK se Hadrian VII (1969) van Peter Luke, onder regie van Robert Mohr. Mynhardt se vertolking was ’n groot prestasie, nie alleen om die fyn nuanses van sy spel nie, maar omdat dit ’n ontsaglike rol is om in te studeer. Die veteraan het daarmee afdoende bewys gelewer van sy stamina, geesteskrag en vakmanskap.

Dit was dan ook die antwoord op die vraag hoekom hy nooit meer in Afrikaanse stukke optree nie. Dit tref so dat TRUK se Engelse stukke in Johannesburg ingestudeer word en lank daar speel. Wanneer hulle vir ’n korter speelvak na Pretoria verskuif, ry die spelers elke middag na Pretoria en keer snags na hul wonings terug. TRUK se Afrikaanse groep is weer in Pretoria gesetel en het ’n langer speelvak daar, ’n baie korter een in die Goudstad. Ook toer hulle gereeld na Transvaalse dorpe. Na die jare waarin sy lewe “’n opeenvolging van hotelkamers, oppak en ry” was, sien hy nie meer kans daarvoor nie, hoe graag hy ook al weer in sy eie taal sou wou speel …

In Oktober 1966 het hy tog weer in Afrikaans gespeel, toe TRUK hom aan die Universiteit van Stellenbosch afgestaan het om as Mefisto op te tree in wyle prof. Fred Engelen se opvoering van Goethe se Faust I, soos vertaal deur prof. W.J. du P. Erlank. Dit was tydens die feestelike inwyding van die H.B. Thom-teater. Die ander hoofspelers was Pieter Bredenkamp as Faust en Tine Balder as Gretchen.

“Dis ’n pragtige vertaling”, het Mynhardt geesdriftig vertel, “dit vloei so maklik dat dit net so wel oorspronklik in Afrikaans geskryf kon gewees het. Ek wens ons kon dié stuk in Transvaal ook opvoer … As toneelspeler word ek nie maklik geesdriftig oor die vertaling van Engelse klassieke stukke in Afrikaans nie. In die vertaalde vorm kan dit soms baie moeilik speel. Dit geld vir ook die Shakespeare-stukke, met die uitsondering van Uys Krige se heerlike Afrikaans in Twaalfde Nag.”

 

ROLPRENTE

Vir Mynhardt is die skrywer, d.w.s. die stuk, die belangrikste faktor in die teater. Die goeie skrywer sê hy, kan die afrigting van sy werk tot ’n mate dikteer. Dit geld ook vir rolprente, iets waarin hy intens belang stel en graag meer aan sou wou deel hê. Hy het reeds in ses of sewe rolprente deelgeneem, “maar ek het nog nie met ’n goeie draaiboek of die regte regisseur te doene gekry nie. Ek verlang werklik daarna om ’n ordentlike rol in ’n goeie draaiboek aan te pak. Rolprentwerk kan stimulerend wees – en ’n mens bereik die hele Suid-Afrika daarmee. Miskien sal die mense op die platteland voor wie ek nie meer optree nie, my dan weer onthou.”

Waarvandaan kom dié man en wat was sy wortels?

Siegie is in 1912 in Johannesburg gebore, die seun van ’n N.G. Kerk-predikant, ds. C.F. Mynhardt. Tydens die eerste wêreldoorlog het sy vader weermagskapelaan in Wynberg, Kaapstad geword. In die groot militêre kamp het die jong knaap o.m. met die teater kennis gemaak. ’n Saadjie is gesaai wat later wortel geskiet het.

Van die verruklike natuurskoon van die Skiereiland het die gesin na Vanwyksvlei in die eensame Noordweste verhuis. Siegie was ongeveer twaalf jaar oud en het op die naburige Carnavon skoolgegaan. In dié geweste was daar min te doen. Wanneer hy nie in die veld rondgedwaal het nie, het hy gelees, baie gelees.

“My vader het ’n groot boekery gehad, maar daar was ook ’n oubaas van Skotse oorsprong op Vanwyksvlei wat my leesgierigheid aangemoedig het: ou mnr. Alston. Hy was ’n wonderlike man, feitlik ’n instelling in dié kontrei. Hy het my na sy boekrakke geneem en gesê: ou seun, lees net wat jy wil en soveel as wat jy wil. So het ons groot vriende geword en het ek geleer van die groot wêreld daarbuite.”

Toe hy 16 was, het die pastoriegesin na Piet Retief in Suidoos-Transvaal getrek. Weer ’n ander soort wêreld was dit, en ander mense. Die besoeke van reisende toneelgeselskappe was vir hom ’n hoogtepunt, en dit was vanuit Piet Retief dat hy gegaan het om hom aan die Afrikaanse toneel te verbind.

Gevra of sy ouers hom in dié voorneme aangemoedig het, het hy geantwoord: “Wel, hulle was nie daarteen nie.”

Siegie is in 1945 met mej. Joss Fenton getroud. Hulle het drie kinders. Robin (22) wil graag in die Karoo gaan boer en het al twee jaar daar gewerk. Nou is hy terug in Johannesburg met die ideaal om geld bymekaar te maak vir daardie stukkie grond. Guy (18) ondergaan vanjaar sy militêre opleiding in die valskermafdeling en stel soveel belang dat hy moontlik sal aanbly. Die dogter Jill (13) is in ’n kloosterskool in Natal. “Maar die ongeluk ry haar vanjaar”, het die bekommerde vader vertel. “Verlede Desember is sy saam met maats tydens ’n woeste reënbui twee myl ver ondergronds deur stormwater weggespoel en slegs deur genade en die vinnige optrede van Bantoes van sekere verdrinking gered. Vanjaar het sy nie alleen reeds ’n operasie ondergaan nie, maar op pad terug Natal toe na die wintervakansie is sy in ’n motorongeluk beseer.”

Die kort toespraak wat hy in 1957 gelewer het by die ontvangs van die erepenning vir toneel van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns gee ’n verdere insae in Mynhardt se benadering tot sy werk.

Hy het klem gelê op die belang van behoorlike opleiding en ondervinding vir die akteur en gepleit dat NTO ’n toneelskool moes stig. Wat hy gesê het, kan as volg opgesom word. Dit kos 20 jaar om van iemand ’n toneelspeler te maak, maar die hoofoogmerke van die toneelspeler se kuns bly steeds om die gehoor te laat vergeet dat hy toneel speel. Die akteur moet soek na die oorsaak en waarheid van ’n karakter, maar hy moet saam met akteurs in ’n toneel speel. Hier soek ’n mens nie roem vir jouself, of reaksie van die gehoor nie. Die grondbegeerte moet wees om te speel, nie om te dink, te voel, groot te doen of persoonlike eer in te oes nie. As die skerm opgaan, moet jy oploop en speel.

Die basis van jou spel moet instinkmatig wees. Die voorafgaande werk en voorbereiding moet deeglik wees, volle aandag moet aan die geringste besonderheid gewy word. Gekunstelde spel is meestal die resultaat van gebrekkige studie en voorbereiding. By die latere repetisies moet die feit dat die speler gewerk het, verberg word. Toneelspel moet volkome ontspanne wees, spontaan, inspanningloos.

Daar word gesê dat ’n mens met jou gesig gebore word, maar na ’n sekere leeftyd begin elkeen sy eie gesig te vorm. Wanneer Mynhardt ’n karakter moet vertolk, soek hy heel eerste na die gesig – en daarvandaan kan hy verder aan die vertolking daarvan werk.

Mynhardt het ook ander eerbewyse ontvang, soos die Stewart Leith-trofee (meer as een keer) vir die beste speler van die jaar (Engelse beroepstoneel).

In die byna 40 jaar het dié akteur honderde rolle vertolk, soveel dat hy tred verloor het. Gevra watter rol hom die meeste bevredig het, het hy geantwoord: “’n Hele paar, eintlik. Van die vroeë jare het ek al vergeet. Ek het baie gehou van my rol in Hassan, saam met André, van Die Vrek by NTO, as Hamlet vir Margaret Inglis, my rol in Irma Ia Douce vir Brian Brooke, dié in The Caretaker vir Leonard Schach (ons was net drie en ek was nooit van die verhoog af nie), en dan die hoofrol in Hadrian VII van Truk vanjaar. Daar was ook nog die aangename jare saam met Gwen en Marda, by die REPS. Ek dink dis alles te veel om op te noem.”

 

Bron: Stead, Rinie. 1969. Lantern, September: 37-47.