Sharpeville en moordaanslag op Doktor Verwoerd

Doktor HF Verwoerd neem oor
January 25, 2015
Die tuisland-beleid
January 25, 2015

Die regering het die Tomlinson-aanbevelings op twee na aanvaar. Die een was dat tradisionele stambesit van grond deur individuele besit vervang word. Die tweede was dat blanke sakemanne geld in die tuislande moet belê vir die ontwikkeling van nywerhede. Verwoerd het gemeen dat wit nyweraars die swartes sou ontneem van wat hul eie is. Geleidelike ontwikkeling deur swartes sou beter wees. Om daarmee te help, is die Bantoe-ontwikkelingskorporasie (1959) gestig.  Ongelukkig is tuislandontwikkeling nie in die volgende klompie jare op groot skaal onderneem nie.

In 1960 het verskeie dramatiese gebeurtenisse Suid-Afrika getref. Die ergste was ’n skietery op 21 Maart in Sharpeville, ’n swart buurt digby Vereeniging. Dit het gespruit uit ’n besluit van die Pan-African Congress (PAC) om ’n veldtog teen die dra van bewysboeke te voer. Hierdie militante beweging het die vorige jaar van die African National Congress (ANC) weggebreek. Die bewysboeke het die passe vervang wat swartes ter wille van instromingsbeheer moes dra. PAC-leiers het sonder bewysboeke by polisiekantore opgedaag en daarop aangedring dat hulle gearresteer word.

In Sharpeville was daar tussen 5000 en 7000 swart mense by die polisiekantoor. Die getal het gegroei en die spanning onder die swart en wit polisiemanne het gestyg. Sonder dat ’n offisier dit beveel het, is ’n skoot iets oor een die middag gevuur, waarskynlik deur ’n senuweeagtige konstabel. Die ander het dit opgeneem as ’n bevel om te vuur en ’n paar salvo’s is afgeskiet voordat die offisiere ’n einde daaraan kon maak. Tog, 67 mense was dood, 178 gewond, en 12 polisiemanne beseer.

Volgens die historikus THR Davenport was die skietery geen “calculated massacre” nie maar ’n paniekreaksie ná die moorde by Cato Manor in Durban.  Daar het ’n swart skare nege polisiemanne, onder meer ’n paar swartes, vermoor.

Die skietery in Sharpeville is gevolg deur ernstige onluste in Langa, ’n swart woonbuurt by Kaapstad. Die regering het ’n noodtoestand afgekondig en ’n deel van die leër gemobiliseer. Talle mense is aangehou en die PAC en ANC is albei verbied. Selde het ’n skietery sulke ernstige gevolge gehad. ’n Storm van woede het oor die hele wêreld losgebars. Die Burger het op 24 Maart 1960 gesê: “Dit is bittere dae vir Suid-Afrika. Dit is bitter om in die rol van die wêreld se muishond gedruk te word.” Baie het saamgestem met minister Paul Sauer: “Die ou boek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is in Sharpeville afgesluit.”

Op 9 April het nog ’n gebeurtenis die land geskok. ’n Britse boer, David Pratt, het op die Randse Paasskou tot by Verwoerd uitgekom en van baie naby twee skote met ’n ligte pistool op hom afgevuur. Doktor Verwoerd is aan die wang en in die oor gewond, en die geneeshere wat hom behandel het, het gesê dat dit ’n wonderwerk is dat hy bly leef het. Dit het volgens JJJ Scholtz ’n byna mistieke band tussen Verwoerd en die Afrikaner geskep. Pratt is van moord aangekla, maar geestelik versteurd verklaar en na die Oranje-hospitaal in Bloemfontein verwys. Daar het hy hom op 1 Oktober 1961 op sy 52ste verjaarsdag met ’n laken opgehang.