Sewe duiwels

“Ek het elke dag vir jou gebid”
May 11, 2015
Reise op swak paaie
May 13, 2015

“Jy doen nooit iets agter my rug nie.” Dié woorde van Kruger aan Leyds was kenmerkend van die President. In die presidentsverkiesing van 1893 het die verkiesingskomitee van sy teenstander, generaal Piet Joubert, hom beskinder. Toe hy dit hoor, sê Kruger dat hy ook heelwat weet van Joubert, wat teen hom gebruik sou kon word. Op ’n vraag waarom hy dit dan nie doen nie, was sy antwoord: “Nee. Dit verbied ek elkeen, want dit weet ek uit die tyd toe ons nog vriende was.”

Die President was dus ’n vyand van die Praatduiwel, soos Ou Oom Jan dit sou genoem het. Die Praatduiwel was een van die duiwels wat die skrywer Ou Oom Jan van 1882 af aan die lesers van die Patriot voorgestel het. Hulle was ook as klein boekies by DF du Toit & Co te koop. Dit was Di drankduiwel (1882), Di geldduiwel (1882), Di liegduiwel (1883), Di praatduiwel (1884), Di spogduiwel (1892). Later was daar ook Di afgunsduiwel (1897) en Di baasduiwel (1898). Die verhale is naderhand in een bundel uitgegee en het bekend geraak onder die titel Sewe duiwels en wat hulle gedoen het. Dit was een van die mees gelese vroeë boeke. Minstens een groot moderne roman sluit by Sewe duiwels aan. Dit is Kroniek van Perdepoort van Anna M Louw (1975).

Ou Oom Jan was Jan Lion Cachet (1838–1912), die derde seun van gekerstende Amsterdamse Joodse ouers, uit Lyon (vandaar die Lion), Frankryk. Sy jonger broer was Frans Lion Cachet wat NG predikant in Transvaal was. Jan Lion Cachet was predikant in ’n paar Gereformeerde gemeentes en van 1892 professor aan die teologiese skool van die Gereformeerde kerk in Burgersdorp. Hy was ’n vurige ondersteuner van die Afrikanerbond en medewerker van die Patriot. Die Dorslandtrekkers het Cachet beroep vir die “trekkende gemeente der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika”. Hy het vir die beroep bedank, maar hulle in 1881 in Angola besoek. In 1869 het hy sy allegoriese gedig “Di Afrikaanse taal” geskryf wat in 1896 gepubliseer is. Daarin is Afrikaans ’n “boerenôi” wat by vele “min geag” is; maar as sy eendag haar vryer kry, “’n Digter fol van moed”, dan “fat ek hom by di hand,/ En maak ek hom, hoe swak ek skyn, / nog koning in die land”.

Sewe duiwels was knap geskryf, al wil Cachet sy lesers elke keer iets leer, baie keer met tekste wat in die storie aangehaal word. In Di Liegduiwel het die dominee gepreek oor: “Lieg niet tegen elkander”; en Ou Oom Jan voeg by: “Party mense het kwaad geword, omdat Meneer die leuen ’n Afrikaanse landsonde genoem het.” Dit was ’n kwaai aanklag, en daarby ’n oorveralgemening. Maar sommige buitelanders het Afrikaners in die negentiende eeu van oneerlikheid en onbetroubaarheid beskuldig. ’n Nederlandse vrou in Transvaal was geskok dat mense soms hul onderneminge nie nakom nie en hulleself dan verweer met die woorde: “Ek is nie ’n slaaf van my woord nie.” Inderdaad was dié houding ver verwyder van die tyd toe ’n Afrikaner se woord sy eer was.

Cachet het gespot met die ydelheid en Engelse mode van sy tyd. In Di praatduiwel wou die jong nooiens Praatville hul ongetroude jong nuwe dominee met ’n adres verwelkom. Party wou dit in Engels hê, maar dit word afgestem, “die Patriot sou net weer spot”. Di Spogduiwel begin met Oom Karel se woede omdat sy pleegseun die naam van sy plaas Saaifontein verdoop het na Poplar Grove. Cachet het glo die meeste van Di Geldduiwel as verhaal gehou. En die Baasduiwel? Dit was die Duiwel van Huigelary!