Selfbestuur vir Transvaal en die Vrystaat

Die keuse van ’n standaardvariëteit
January 23, 2015
Nuwe beleid oor onderwystaal
January 23, 2015

Terwyl die eerste boeke in Afrikaans geskryf en in klein onaansienlike uitgawes gedruk is, was daar politieke prosesse aan die gang wat die ontwikkeling van Afrikaans tot volwaardige kultuurtaal moontlik sou maak.

Vroeg in die twintigste eeu het die verhouding tussen Brittanje en Duitsland versleg. Die toestand in Europa het dit vir Brittanje nodig gemaak om die bande met die verskillende dele van sy ryk te verstewig. Dit was dus in die belang van Brittanje dat die kolonies tevrede gehou word sodat hy al sy aandag aan Europa kon wy. Aan die einde van 1905 het die Britse liberale party onder leiding van sir Henry Campbell Bannerman aan bewind gekom Hy was ten gunste van volle verantwoordelike bestuur vir die twee gewese republieke. In Februarie 1906 het koning Eduard VII verklaar dat stappe daarvoor gedoen sal word.

So kon daar ’n nuwe staatkundige bedeling in elk van die twee gewese republieke kom wat die grootste Afrikanergrief kon verwyder, naamlik die miskenning van hul taal. “Verzoening is onmogelik als zaken blijven als ze  zijn… “, het ’n afgevaardigde in 1904 gesê op ’n Vrystaatse Afrikanerkongres op Brandfort. ’n Goeie samevatting van die gevoel oor taalregte word geopenbaar in die besluit wat die kongres eenparig geneem het:

“Die Kongres, –

1.    Lettend op die inhoud van Artikel 5 van die Vredestraktaat van Vereeniging; –
2.    Oorwegend dat die Hollandse taal die taal is van die oorgrote meerderheid van die bevolking van hierdie Kolonie; –
3.    Oorwegend dat ’n volk wat homself respekteer, nie kan toelaat dat sy taal verdring word nie; –
4.    Oorwegend bowendien dat die gebruik van die Engelse taal as enigste offisiële taal veel las en nadeel en onbillikheid veroorsaak; –
5.    Besluit om by die regering van SM [Sy Majesteit] daarop aan te dring dat beide tale, Hollands en Engels, in alle publieke kantore en alle offisiële stukke van die Wetgewende, Uitvoerende en Regterlike gesag, gelyke regte sal hê, en beide tale as offisiële taal erken sal word, en geen amptenaar of verteenwoordiger van die offisiële gesag aangestel sal word nie as ná die aflegging van ’n eksamen waarin hy blyk gegee het dat hy beide tale voldoende magtig is” (De Vriend, 9 Desember 1904).

Die Britse regering het egter in 1905 sy standpunt gestel dat Engels die enigste offisiële taal moes wees hoewel kennis van Hollands onder amptenare op plaaslike vlak aangemoedig moet word. Milner het reeds op 13 Junie 1904 ná eise dat Nederlands en Engels gelyke behandeling in die skole kry, geskryf: “The principle of the equality of the two languages has been consistently rejected by us from the first.” Milner was dan ook ’n teenstander van selfbestuur. Ander Engelse meningsvormers was daarteen dat Afrikaans of Nederlands as offisiële taal erken word.

In albei die gewese republieke het die twee partye wat oorwegend Afrikaans was, die oorwinning behaal. Hulle kon die gebruik van Hollands bevorder.