Schoemansdal, die Voortrekkerdorp wat verdwyn het

Die eerste treinspoor na Lourenço Marques
April 9, 2017
Die Klein Vrystaat
April 9, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1962)

Naby die huidige Louis Trichardt het daar ongeveer ’n honderd jaar gelede ’n mooi dorpie aan die voet van die Soutpansberg gelê. Hierdie dorpie was die middelpunt van groot bedrywighede van die Voortrekkers in Noord-Transvaal.

Schoemansdal was in daardie dae baie goed bekend. Die naam het gebly voortlewe, maar die dorpie het verdwyn. Vandag kan daar op die plek waar die mooi Voortrekkerdorpie gestaan het, hier en daar net hopies grond gesien word wat die plekke aandui waar die Voortrekkerhuisies gestaan het.

Die volgende inligting is ontleen uit die boekie wat ongeveer twaalf jaar gelede tydens die Soutpansbergse Eeufeesviering te Schoemansdal, uitgegee is.

 

Stigting en verwoesting van Schoemansdal

Verdring deur die uitgestrekte boswêreld van Noord-Transvaal, vasgedruk en verskuil onder die tronende kranse, was die ongeveer 278 baksteenhuisies van Schoemansdal, die verste voorpos van Boerebeskawing en terselfdertyd die middelpunt van ’n bloeiende handel en verblyfplek van ongeveer 1,800 ekonomies-selfstandige Voortrekkers.

Dit is die algemene indruk wat ’n besoeker sou kry van hierdie blanke nedersetting in die woeste noorde ’n tiental jare na die aanleg van die dorp in 1848.

Generaal Andries Hendrik Potgieter was genoodsaak om Ohrigstad te verlaat en sy trek verder noordwaarts te lei om sodoende weg te kom van die 25ste graad Suiderbreedte, wat ’n soort denkbeeldige grens was. Naby Pietersburg word die Generaal egter na Potchefstroom ontbied, en die trek gaan verder onder leiding van Veldkornet Jan Valentyn Botha tot by die plek waar Schoemansdal aangelê is.

Die pragtige omgewing, en vrugbare grond, het die trekkers beïnvloed om ’n dorp aan te lê.

Vir die eerste paar jaar van sy bestaan het hierdie voorpos geen bepaalde naam gehad nie, maar met die afsterwe van Generaal Potgieter, neem generaal Stephanus Schoeman die leiding op hom en Schoemansdal is na hom vernoem.

Die inwoners van Schoemansdal was ver verwyder van die ander boeregemeenskap in Transvaal, en om ’n onafhanklike bestaan te vind, was byna ’n onoorkomelike struikelblok. Hulle moes voorsien word van lewensbelangrike artikels soos kruit, lood, koffie, suiker en medisyne, en dit is te verstane dat hulle alles in hulle vermoë sou doen om daaraan geholpe te raak en sodoende hulle permanente verblyf op Schoemansdal te verseker. Om hierdie lewensmiddele van die Suide in te voer, kon alleenlik met die grootste moeite en opoffering geskied, en die trekkers het derhalwe ’n makliker uitweg gevind en hulle gewend na die Portugese van Inhambane en Lourenço Marques. Verskeie Portugese handelaars het hulle op Schoemansdal gaan vestig, en die winkels van Augusto Crevallio, Cassimer en Bras Perreira was die bekendste. In ruil vir ivoor en ander handelsware het die trekkers die nodigste lewensmiddele gekry.

Baie spoedig het ’n uitgebreide handel ontstaan en ’n denkbeeld daarvan kan gevorm word as in gedagte gehou word dat die trekkers in Schoemansdal jaarliks 25,000 pd. buskruit en 40.000 pd. lood weggeskiet het, terwyl hulle elke jaar 5,000 pd. koffie en 10,000 pd. suiker verbruik het. Die jaarlikse uitvoer aan ivoor het ongeveer 200,000 pd. bedra. Hulle het ook allerlei graansoorte soos mielies, koring, rog, bone, ens. uitgevoer. Heuning, gedroogde vrugte, velle, sout, renosterhoring, seekoeitande, gesaagde balke, planke, botter, ens. was onder andere van die verdere artikels wat die trekkers aan die Portugese handelaars verkoop het. Die houtsaery op Schoemansdal was een van die belangrikste bedrywe, en die natuurlike houtsoorte van die distrik het groot byval gevind by die ander trekkers in Transvaal wat groot hoeveelhede daarvan gekoop het.

Nou verbonde aan die geskiedenis van Schoemansdal en die lewe van sy inwoners, is die naam van Joao d’ Albasini, destyds Portugese konsul en naturelle kommissaris van die Republiek, en seker een van die merkwaardigste figure uit die woeste noorde van daardie dae.

Hy was die vernaamste skakel tussen die Boere op Schoemansdal en die Portugese in Delagoabaai, en terselfdertyd ook een van die beste kopers van die Boere se handelsware.

Die toenemende welvaart van die Noordelike boeredorp het die belangstelling gaande gemaak van die Portugese owerheid in Inhambane en stappe is gedoen om ’n verdrag van handel en vriendskap tot stand te bring; d’ Albasini het Goewerneur van Inhambane aangeraai om ’n gevolmagtigde na Schoemansdal te stuur om sodoende ’n ooreenkoms met die Boere te tref.

Op 6 Julie 1855 het ’n Portugese kommissie aan die hoof waarvan Eerwaarde Vader Juaquim da Santa Rita Montanha, Ridder van die Orde van Christus gestaan het, na Schoemansdal vertrek en hulle is hartlik deur die inwoners van Schoemansdal ontvang. ’n Geruime tyd lank het die afvaardiging op Schoemansdal vertoef en suksesvolle handelsooreenkomste is getref.

Van die oplettende Portugese Priester verneem mens interessante besonderhede van Schoemansdal en sy inwoners. Dit toon o.a. die werksaamhede van die vroeëre Voortrekkers.

Die dorp se strate, so vertel Vader Montanha, was reghoekig uitgemeet, en 35 vt. breed. Langs die strate bruis frisse waterstrome uit die berg by die woonhuise verby. Die dorp het 278 woonhuise gehad wat wel nie almal ruim was nie, en met gras of palmiet gedek was. Die kerk was ’n nuwe baksteengebou, 48 vt. lank en 24 vt. breed, met vier deure en agt vensters. Omheining van die erwe was verpligtend, en geen vee of varke was op straat toegelaat nie. Die manne van Schoemansdal was bekwame ambagsliede in die oë van Vader Montanha, terwyl die vroue die naaldwerk en kleremakery behartig het. Die inwoners het groot vrugteboorde gehad waarin perskes, kwepers, appels en piesangs pragtig gegroei het.

Daar was nie dokters op Schoemansdal nie, en die gevreesde malaria het baie slagoffers geëis. Gedurende die laaste drie jaar van die bestaan van die dorp het Dr. Marthinus Eysell, ’n Nederlandse geneesheer hom egter daar gevestig, wat veel daartoe bygedra het om die lyding van die trekkers te versag.

Schoemansdal het nog 12 jaar bestaan na die besoek van die Portugese afvaardiging, toe breek daar opstand onder die Bawenda uit en dit was die begin van die einde van die florerende Voortrekkerdorp.

Duisende naturelle wat deur die ivoorhandelaars van wapens en ammunisie voorsien is, het teen die boeremagte opgetrek. Schoeman was nie sterk genoeg om die aanvallers te verslaan nie. Hy het versterking uit die suide gevra en eindelik daag Paul Kruger met 400 man op.

Die vyand was egter te goed verskans in die berge, grotte en klowe waarvandaan hulle op die boere geskiet het. Na lang beraadslagings besluit die Boere om die posisie prys te gee en die dorp te verlaat. Hulle het die ivoorjagters verwyt dat hulle die oorsaak was van die opstand.

Op 15 Julie 1867 het die Schoemansdallers hulle goedjies op hulle waens gepak en teruggeval op Marabastad , Makapaanspoort en Pretoria.

Nouliks was die laaste waens weg of die Bawendahordes storm op die dorp af om dit te plunder en te verwoes.

Dit was die eerste en enigste boeredorp wat ooit in die hande van die barbare geval het. Dit is nooit opgebou nie, en vandag getuig net die tekens van die vergane murasies waar die eerste ligpunt van blanke beskawing in Soutpansberg was.