Sarel Arnoldus Cilliers (1801-1871)

Daniel Lindley (1801-1880)
March 5, 2019
Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
March 6, 2019

PROFEET VAN DIE GROOT TREK

As die “Profeet van die Groot Trek” en “Vader van Dingaansdag” sal Sarel Cilliers by die nasate van die Voortrekkers bekend staan. ’n Man van moed, volharding en dapperheid was hy. Ons sal hom onthou, nie as staatsman en krygsman in die eerste plaas nie, maar as Godsman – ’n man van karakteradel, beginselvastheid, diepe godsvrug en innige vroomheid.

Sarel Arnoldus Cilliers het op 7 September 1801 op die plaas Schoongesicht, in die distrik Klein- Drakenstein, die lewenslig aanskou. Sy ouers was Sarel Celliers en Catharina Louw. Op vyfjarige leeftyd vergesel hy sy vader na die plaas Reviertje, in die teenswoordige distrik Graaff-Reinet. Agter die skape en die ploeg het hy opgegroei. Sy skoolopleiding was gebrekkig, maar die skryfkuns het hy wel aangeleer. Hy verdiep hom in Bybelstudie. Eers woon hulle in die distrik Nu-Bethesda, maar verhuis later na die Nuwe Hantam.

Foto: Sarel Cilliers (Zuid-Afrika geskiedenis in beeld – Godee-Molsbergen)

Op 34-jarige leeftyd sluit hy aan by die Potgietertrek, vergesel ’n kommissie na die Noorde in Mei 1836, en neem ’n beslissende aandeel aan die Slag van Vegkop, toe ’n Matabele-mag van nagenoeg drieduisend deur veertig man afgeslaan is. In Januarie 1837 neem hy deel aan die veldtog teen Silkaats, en in Oktober het hy die tweede veldtog teen die Matabeles meegemaak. In die loop van die jaar volg Cilliers Retief na Natal, en hier het hy die “Swart Jaar” in die geskiedenis van die Voortrek belewe.

Hy neem vervolgens ’n prominente aandeel aan die gevegte rondom Moordspruit, is later een van die afgesante na die Kolonie om hulp te kry, en op 16 Desember 1838 is hy lid van Pretorius se “Wenkommando” wat Dingaan se bendes so verpletterend verslaan het.

Sy naam sal altyd aan hierdie veldtog verbonde bly, want hy het die bewoording van die “Gelofte”  geformuleer (sien bladsy 1 19) en in die jare daarna sou hy telkens deur woord en daad die geloftegedagte weer voor die aandag bring. Cilliers was die besielende prediker in hierdie slag; hy het sy makkers met die onwrikbare Godsvertroue omgord wat alleen op ’n groot oorwinning kon uitloop.

Teen 1840 woon Cilliers met sy gesin op Houtboschrand, noord van die huidige Pietermaritzburg, maar in 1847, vier jaar na die Britse anneksasie van Natal, trek die Cilliers-familie na die Vrystaat, waar Sarel die plaas Doornkloof, in die distrik Kroonstad, gekoop het. Hy is in 1853 vir die tweede keer getroud, en wel met die weduwee Aletta Elizabeth Loots.

Ook in die Vrystaat was hy baie bedrywig. In 1854, met die onafhanklikheidsverklaring van die Oranje-Vrystaat deur Brittanje, stuur hy ook voorstelle vir die nuwe grondwet aan die volksverteenwoordigers in Bloemfontein, maar dit is veral as kerkman dat hy hom hier onderskei het.

Hy was nie net ’n troue lid van die kerk nie, maar jarelank het hy die kerk amptelik gedien, eers as diaken en later as ouderling in verskeie gemeentes. Tot sy dood op 4 Oktober 1871 het hy steeds ’n werkdadige aandeel geneem aan kerklike aangeleenthede. Wyle dr. Andrew Murray het ’n hoë dunk van hom gehad, en deur sommige is hy as model-ouderling voorgehou.

Sarel Cilliers se nagedagtenis sal altyd in ere gehou word, omdat hy deur sy onverskrokke optrede ’n baanbreker van die beskawing en ’n dapper krygsman vir vryheid was, maar bo alles was hy die besliste, besadigde Christen met rotsvaste gehegtheid aan sy kerk, die diep godvrugtige, die godsman van die Voortrek.

Die vader van Dingaansdag

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.