Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1
  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis
    • FAK-Fotoversameling
    • Tydvakke
    • Kultuurorganisasies
    • Klankargief
    • Afrikanergeskiedenis algemeen
    • Geskiedenisdagboek
    • Afrikaanse Kultuuralmanak
    • Kultuurkroniek
  • Word ‘n vriend
  • Besoek die FAK
  • Soek ons
  •           
✕

Sandrivierkonvensie-monument

  • Tuis
  • Presidente Artikels
  • Sandrivierkonvensie-monument
President Kruger se laaste besoek aan Rustenburg
April 10, 2017
Sir George Grey
April 10, 2017

(Oorgeneem uit Die Mylpaal, soos verskyn in Junior Historia, Mei 1972)

Die reisiger wat die krag van sy vuurwa langs die gedenktekentjie op die koppietjie langs die hoofweg aan die noordelike oewer van Sandrivier afskakel, sal nie alleen ’n eienaardige bouwerk en ’n panoramiese landskap in die omgewing van die rivierdrif sien nie, maar hy sal by ’n tasbare mylpaal op die Pad van Suid-Afrika staan, wat in sy betekenis en gekristalliseerde simboliek van vryheidstrewe, opoffering, lyding, smart, helde-heldinne- en kinderdade moontlik groter is as die grootste monument in ons Republiek.

Op hierdie plekkie op die plaas van PA Venter het generaal Andries Pretorius en vyftien Transvaalse afgevaardigdes die Britse verteenwoordigers, Hogge en Owen, ontmoet en die samesprekings het daarop uitgeloop dat op 17 Januarie 1852 die betekenisvolle Konvensie van Sandrivier onderteken is, waardeur Groot-Brittanje die onafhanklikheid van Transvaal erken het.

’n Onafhanklike vrye staat en ’n eie veilige woonplek was die doelwit waarvoor duisende vaders, moeders en kinders in die dertigerjare van die vorige eeu huis en haard, vriende en familiebetrekkinge, besittings en kerkhofankers vaarwel gesê het, en met hulle vernaamste besittinkies op die tingerige Voortrekkerwaentjies na die vreemde en onbekende wêreld noord van die Oranje- en Vaalriviere en oor die Wolk- en Drakensberge getrek het.

Vryheid en ’n vaderland vir hulle kinders het Hans van Rensburg en sy vyftigtal siele verder as die Soutpansberg laat trek waar swart gedaantes hulle koppe met knopkieries veertig myl noord van die sameloop van die Olifants- en Limpoporiviere platgeslaan het.

Dieselfde vryheidsgees het Louis Trichardt en sy mense hulle waens weer laat oppak waar hulle ’n jaar aan die voet van Soutpansberg vertoef het, om langs onbekende vanggatweë en oor hoë berge en rotse waar die ribbok en die klipspringerbokkies beswaarlik kon speel, hulle gesinne en duisende stuks vee te laat neerdaal op pad na Lourenço Marques waar hulle ’n hawe en rus kon vind, maar die prooi geword het van en vernietig is deur die tsetsevlieg en die malaria-muskiet. Hulle het verdwyn.

Piet Retief, Piet Uys, Gerrit Maritz, Hendrik Potgieter en duisende ander Voortrekkers kon die vryheidsdrang in hulle siele nie doodsmoor nie, maar het die roepstem gevolg om oor die Drakensberg na Natal te trek waar honderde van hulle by Ungungundlovu, Italeni, Bloukrans en soveel ander plekke die marteldood gesterf het.

Die vryheidsvisioen het die moeders in Pietermaritzburg aan die Britse afgesant onomwonde laat verklaar dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou terugstap as om onder die vreemde regering te buk. Toe die Boererepubliek Natalia in 1842 tot niet gegaan het, het talle Trekkers na die Vrystaat en die Overvaal uit die Tuinkolonie padgegee en getrek.

Vier jaar voor die onafhanklikheidsverklaring by Sandrivier het generaal Andries Pretorius met ’n kommando uit Transvaal gekom om die Vrystaters te help en daar het ’n hewige geveg in 1848 by Boomplaas plaasgevind waar die Voortrekkermense die wyk moes neem. Sir Harry Smith het die Britse gesag noord van die Oranjerivier weer herstel.

Kort daarna het die Basoetoe-opperhoof, Mosjesj, weer moeilikheid begin gee en hy het selfs met generaal Andries Pretorius in verbinding getree om hulp teen die Britse beheer te verkry.

Sir Harry Smith en die Britse regering wou verdere botsings en onkoste vermy. So het Transvaal in 1852 vry en onafhanklik geword. Die Bloemfonteinse Konvensie van 1854 het ook vryheid en onafhanklikheid aan die Oranje Vrystaat besorg. Die Voortrekkerideale het geseëvier.

Wonderlik hoe groot volksideale soms sonder bloedvergieting so maklik bo verwagting werklikheid word.

Die mens wik maar God beskik.

Share
0

Related posts

July 27, 2022

Die Slag van Diamond Hill


Lees meer
November 30, 2021

Vroue van ons leiers 2: Nonnie de la Rey – vir haar vyande ’n vriendin


Lees meer
November 30, 2021

Vroue van ons leiers 1: Tant Siena – almal se tante


Lees meer

Navigasie

  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis algemeen
  • Tydvakke
    • Pioniers (1652–1820)
    • Groot Trek (1820–1845)
    • Presidente (1845–1902)
    • Generaals (1902–1948)
    • Nasionaliste (1948–1976)
    • Militariste (1976–1994)
    • Afrikaners na 1994
  • Geskiedenisdagboek
  • FAK-Fotoversameling
  • Suider-Afrika Geskiedenis
  • Afrikanerkultuur
  • Kultuurorganisasies
logo
Word 'n vriend

Kontak Ons

Moerdijkhuis,
Voortrekkermonumentterrein Eeufeesweg,
Pretoria

012 301 1777
fak@fak.org.za

1m

© 2021 FAK. Kopiereg voorbehou