Losie De Goede Hoop (Geen toegang)
December 12, 2017
Welgemeend, Kampstraat (Geen toegang)
December 12, 2017

Sir John Barrow • Rust en Vreugd c. 1800 • Africana-museum, Johannesburg

Rust en Vreugd in die Buitekant en tans ’n kunsgalery is een van die weinige indrukwekkende en mooi afgewerkte agttiende-eeuse dorpshuise wat behoue gebly het. Dit is geleë op grond wat, volgens ou kaarte van Kaapstad, reeds in die 17de eeu as “particuliere thuyn” aan ’n vryburger gegee is. Tot laat in die 19de eeu was dit dan ook ’n uitgestrekte landgoed.

Wanneer die huis gebou is, kan nie met sekerheid gesê word nie, maar dit word aanvaar dat dit min of meer in sy huidige vorm deur die berugte fiskaal Willem Cornelis Boers opgerig is, want dit is bekend dat hy die landgoed in die jare 1777-1782 besit het. Boers het oor uitgebreide magte beskik wat hy o.m. misbruik het deur korrupsie en afpersing vir eie verryking. ’n Deel van hierdie wederregtelik verkreë inkomste het hy gebruik om sy pragtig geleë landgoed te ontwikkel. Die tuinery is uitgebrei deur die aanplant van vrugteboorde en die huis is weelderig ingerig. Latere eienaars het dit waarskynlik verder vergroot en verfraai sodat dit vandag nog een van die indrukwekkendste huise in sy soort is.

Hierdie huis is, hoewel veel grootser en swieriger as die meeste ander, gebou op die plan van tipiese agttiende-eeuse dubbelverdiepinghuis met ’n platdak. Kenmerkend van hierdie huis is in die eerste plek die stoep en dit is dan ook die hoogs ornamentele vooraansig wat die aandag trek. Trappies bedek met blou plaveiklip afkomstig van Robbeneiland lei na die verhewe of “hooge” stoep, waaronder die kelders geleë is. Op die stoep is daar ’n suilegang – ’n balkon rus op vier swaar, gegroefde kiaatsuile met Korinthiese kopstukke. Hierdie balkon lyk baie soos die beroemde Kat in die Kasteel. Die voordeur sowel as die balkondeur is van kiaat en die dekoratiewe boligte is enig in hul soort. Hulle word nie slegs beskou as die beste voorbeelde van die beeldhouer Anton Anreith se houtsneewerk nie, maar ook wel as die sierlikste produk van argitektoniese houtwerk wat vir ons behoue gebly het.

Verder volg die gebou, met enkele afwykinge, die plan van ’n 18de-eeuse dorpshuis. Van die stoep het mens in die “voorhuis” gekom met sy twee ontvangskamers aan weerskante; van die “voorhuis” na “agterhuis”, wat gewoonlik as eetlokaal gebruik is en op ’n binneplaas uitgegaan het. Aan die een kant van die binneplaas was die spens en kombuis en aan ander kant die slaapkamers. Op die boonste verdieping, wat met ’n trap vanuit die agterhuis bereik is, was ’n sitkamer, slaapkamers, badkamer en pakkamer. In geheel is dit ’n stewige konstruksie met massiewe mure, kiaatbalke en kiaatvloere.

By die ingang het Boers sierlike smeedysterhekke geplaas met die naam Rust en Vreugd en die datum 1778 daarop. Hierdie hekke is honderd jaar daarna in 1878 gedurende die bewind van sir Bartle Frere verkoop en vorm tans die koorafskorting en ingang in die parogiekerk te Penkridge in Staffordshire, Engeland.

As gevolg van ’n Burgerpetisie van 1779 is Boers in 1783 na Holland teruggeroep. Rust en Vreugd het toe in besit gekom van OG de Wet, oud-landdros van Stellenbosch wat in 1782 magasynmeester in Kaapstad geword het. Ná hom het dit agtereenvolgens die eiendom van Johannes Blesser (1798) en Ryno van der Riet (1813), eweneens oud-landdros van Stellenbosch, geword. Volgens die skryfster Dorothea Fairbridge het lord Charles Somerset dit hierna vir die volle duur van sy termyn as goewerneur bewoon. In 1828 word dit die eiendom van genl.-maj. W Hopper en in 1850 dié van AQ Hopper. Hierna is dit gebruik as regeringsgebou, eers om gaste te huisves vir wie daar in Goewermentshuis nie plek was nie en daarna as deel van die ou Roelandstraatse Normaalkollege. In 1925 was dit ’n tyd lank die hoofgebou van die Cape Town High School.

Met verloop van tyd het die gebou in verval geraak, maar gedurende sy kortstondige ampstermyn as administrateur het dr. Otto du Plessis besluit om dit te laat restoureer en as kunsgalery in te rig. Hy het dit egter nie meer beleef nie, maar sy opvolger, dr. JN Malan, het as eerbetoon aan hom die projek op ruimhartige wyse uitgevoer. Sodoende is die gebou grotendeels in sy eertydse glorie herstel.

(Geproklameer 1940)

Sir John Barrow • Rust en Vreugd c. 1800 • Africana-museum, Johannesburg

Foto: Sir John Barrow • Rust en Vreugd c. 1800 • Africana-museum, Johannesburg

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 18-19.