“Rooi Bul” vang Churchill

President Kruger keur koerant op Sondag goed
January 22, 2015
Oorwinning verander in neerlaag
January 22, 2015

Terwyl die Boere in Natal gewag het op die aankoms van die veel sterker Britse magte van Durban af, het hulle een van die merkwaardigste wêreldleiers van die 20ste eeu gevange geneem. Dit was die Britse staatsman sir Winston Churchill, seun van lord Randolph Churchill. Hoewel die jong Churchill die Jameson-inval afgekeur het, was hy kort daarna van mening dat die Britte ter wille van hul ryk en hul ras vroeër of later teen die Boere sal moet veg – hetsy om ’n regverdigbare saak, hetsy oor ’n geskil wat Brittanje doelbewus uitlok.

Op 31 Oktober 1899 het hy as oorlogskorrespondent van die Britse koerant Morning Post in die Kaap aangekom. Gou was hy in ’n sensasionele voorval in Natal betrokke. Op 15 November was hy saam met ’n afdeling soldate onder kaptein A Haldane met ’n pantsertrein op ’n verkenningstog. Die Boeremagte onder generaal Louis Botha het die trein tot by Chieveley laat gaan, maar met die terugreis drie trokke laat ontspoor.

Churchill het tydens die aanval kalm gebly en, soos die historikus JH Breytenbach skryf, met “koelbloedigheid, volharding en moed” die leiding geneem om die spoorlyn te probeer oopstel. Hy en verskeie ander Britte is egter gevang. Wie hét hom eintlik gevang? Hieroor is later jare lank gestry. Die aanneemlikste antwoord kom van CJ Barnard in Generaal Louis Botha op die Natalse front, 1899–1900. Dit was veldkornet SF Oosthuizen (1862–1900), wat weens sy voorkoms as die “Rooi Bul van Krugersdorp” bekend was, ’n baie beminde aanvoerder weens sy dapperheid en trou. Generaal Joubert het sy onverskrokke optrede spesiaal onder die aandag van die regering gebring. Oosthuizen is in Julie 1900 gewond nadat hy ’n Britse mag by Dwarsvlei naby Krugersdorp deeglik verslaan het. ’n Paar weke daarna is hy aan sy wonde oorlede.

Churchill is saam met die Britse offisiere na die Staatsmodelschool in Pretoria gestuur. Daar het hy en ander offisiere ’n ontsnapping beplan. Aanvanklik wou hulle glo dat die Britse offisiere die skool oorneem, die 2000 ander Britse soldate in ’n nabygeleë kamp bevry, Pretoria inneem en president Kruger en sy regering gevange neem. Volgens Churchill het senior offisiere die plan geveto. Hy en twee ander het toe beplan om oor die muur van ’n latrine te klim, maar die nag van 12 Desember het hy alleen ontsnap en in ’n goederetrein weggekruip. ’n Mynbestuurder en sy vriende het hom toe in ’n mynskag van die steelkoolmyn in Witbank weggesteek waarna hy saam met ’n besending wolbale per trein na Lourenço Marques gesmokkel is. Daarvandaan is hy per skip na Durban, waar hy op 23 Desember ’n helde-ontvangs gekry het.

In Januarie is hy terug na die Natalse front en is toegelaat om aan die oorlog deel te neem en tog korrespondent te bly tot hy in Julie terug is na Engeland. Hy het in 1900 twee boeke oor die oorlog geskryf wat hom bekend gemaak het, en hy is tot parlementslid gekies. Hy was gekant teen die metodes wat die Britte teen die einde van die oorlog gebruik het en het in ’n brief aan Milner verwys na die barbaarsheid daarvan.