Rolprent belaster Jan van Riebeeck én Afrikaners

Lydenburg se Voortrekkerskooltjie in brand beskadig
Augustus 10, 2017
Vermaak in Duet-formaat
Oktober 3, 2017

Anti-wit propaganda-stuk blaas rassehaat en etniese grondonteiening aan

 

Deur Marthinus van Bart

[email protected]

 

’n Pseudo-dokumentêre TV-rolprent, Krotoa, is pas in Suid-Afrika op die TV-kanaal channel24.co.za bekend gestel om kwansuis hulde te bring aan die Koina-vrou Krotoa (Eva) van Meerhoff (c. 1642-’74), wat Maria van Riebeeck in die 1650’s as ’n jong tiener in diens geneem het om die gesin se kamerbediende en kinderoppasser te wees.

Kommandeur Jan van Riebeeck het indertyd met sy gesin in die Fort die Goeie Hoop aan die voet van Tafelberg tuis gegaan. Die taamlik beknopte klein vesting, van moddersteen gebou, was die voorganger van die latere ruim en stewige, met klip geboude Kasteel die Goeie Hoop, vandag een van Kaapstad se bes bewaarde argitektoniese erfenisse. 

Die rolprent, vervaardig deur  Penguin Films onder die redigering van Roberta Durrant en met draaiboekskrywers Kaye Ann Williams, inhoudshoof van MNet, en Margaret Goldsmid, is ’n populisties-politieke prul gegrond op skandalige verdraaiings van die geskiedenis met die doel om onverbloemd rassehaat, seksisme en irrasionele etniese grondeise – alles onder die dekmantel van ’n historiese dokumentêr – aan te blaas.

 

1904 plaasmoorde sedert 1990

In die lig daarvan dat sedert 1990 tot einde Augustus vanjaar reeds  4356 terroristiese plaasaanvalle oor die hele land gepleeg is waarin 1904 wit plaasboere, hul gesinne, besoekers en ook bruin en swart plaaswerkers vermoor is (90% wit boere, hul gesinne en kuiergaste, 10% bruin en swart plaaswerkers), kan die rolprent se ongenuanseerde, anachronistiese ophaal van etniese grondbesit en beweerde grondroof deur “Van Riebeeck en sy mense”, as kwaadwillige opruiing gesien word.

Dit is ’n wetenskaplik bewese gegewe dat die televisie ’n baie magtige propagandamedium is indien dit gerig word op die ongekunstelde massamens, wat geen kennis van en insig in die landsgeskiedenis het nie. ’n TV-rolprent wat voorgee om ’n gebalanseerde historiese dokumentêr te wees, word instinktief deur die emosioneel opsweepbare massamens vir die waarheid aanvaar.

In die rolprent Krotoa word die waardige beeld van Jan van Riebeeck, grondlegger van die beskawing in Suider-Afrika, op ’n kru manier afgebreek deurdat hy valslik beskuldig word van pedofilia en kinderverkragting – misdade wat veral die bruin gemeenskappe van die Kaapse Vlakte epidemies teister. Dit spreek duidelik dat die vervaardigers probeer om die oorsaak vir hierdie bose sweer nou beskuldigend op die historiese figuur van Jan van Riebeeck en sy nakomelinge, die Afrikaners, te projekteer. Op amateuragtige wyse word gepoog om kollektiewe skuld vir ’n fundamentele gemeenskapsdisfunksionaliteit in ’n spesifieke gemeenskap aan die Afrikanergemeenskap op te dwing.

In wese is die rolprent verder ook uiters ’n vyandige en kwetsende aanval op die nakomelinge van die Ou Kaapse Hugenote en Dietse gemeenskappe wat Van Riebeeck en sy Europese nalatenskap met groot eerbied in gedagtenis hou. Dit is strek juis veel verder as karaktermoord op Van Riebeeck as individu, en is geskoei op die ou Boere-haat resep van die Britte.

By wyse van die skeefgetrekte etniese grondeis-kwessie, wat politieke opruiers soos Julius Malema so graag dag vir dag ophaal om stembusvee mee te trek, dra Durrant, Williams en Goldsmith se rolprent die boodskap oor dat die Afrikaners die nasate van koloniale grondrowers en kinderverkragters is, en dat hulle in die nuwe Suid-Afrika ongewenstes is wat weens oorgeërfde kollektiewe skuld verdien om op die kruste wyse verneder en ontheem te word. Hulle kon sommer vir die dekorasie ook “Remember Majuba” bygevoeg het.

 

Dieselfde Nazi-patroon vir Joodse vervolging

Hierdie laakbare soort propaganda volg dieselfde patroon as die vervolging van die Joodse gemeenskap in Nazi-Duitsland voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.    

Tipies van die hedendaagse anti-wit propagandiste, is die rolprent die afgelope anderhalwe jaar eers in die buiteland op kultuur- en filmfeeste vertoon, voordat dit nou eers aan die Suid-Afrikaanse kykers bekend gestel word. Dié strategie is kennelik gevolg om te voorkom dat die rolprent van meet af aan deur kundiges uitgewys word as ’n sameflansing van halwe waarhede, onwaarhede, verdraaiings en blatante leuens. Die onkundige en liggelowige buitelanders het die rolprent op hul filmfeeste gebruiklikerwys alle lof toegeswaai, woes geprys en luid toegejuig.   

Die draaiboek beeld Van Riebeeck uit as ’n manlike chauvinis, egbreker, pedofiel, kinderverkragter en grondrower uit. Deur voor te gee dat hierdie uitbeelding “maar net simbolies (‘metafories’) is,” probeer die Durrant en kie. hul kwetsende lasterlikhede verskans agter “digterlike vryheid” of “romantisering”, wat so dikwels deur lafhartige skrywers onoortuigend as skans gebruik word van waaragter met klippe of bomme gegooi kan word. 

In Roberta Durrant se eie woorde (soos aangehaal op www.channel24.co.za): “There’s no concrete evidence that that [dat Van Riebeeck ’n kinderverkragter was] happened other than supposition. In terms of the rape, it was a very complicated moment in the film. And hopefully it comes across, but theirs was a complicated relationship and we chose to make it that way … But we hope that people see in the rape a metaphor. We want to look at the rape in terms of an attraction to a country and a place by the Dutch, and how they ultimately settled here and they took this as their place. And it was a brutal occupation, in the sense that the Khoi people were displaced, a lot of them did die, and there were the Dutch-Khoi wars, and land was taken.”  

Roberta Durrant is ’n oud-Matie en dogter van Robert (Bob) Durrant, parlementslid van die United Party (Verenigde Party) in die dae van die vurige Afrikaner-hater Helen Suzman en die diamantmagnaat sir De Villiers Graaff. Durrant het later, toe die United Party nie meer so “united” was nie, na die Nasionale Party oorgeloop. Met sulke oorlopers in sy geledere, was die skrif gou ook aan die muur vir die Nasionale Party. 

 

Die ware karakter van Jan van Riebeeck

Uit  Het Daghregister, kommandeur Van Riebeeck se amptelike dagboek wat hy self in veerpen-en-ink bygehou het, skryf hy dat Krotoa ’n buitengewone taal-aanleg gehad, Nederlands gou baasgeraak het, en dat sy naas haar huislike pligte ook as tolk kon optree tussen haar Koina-mense, die Strandlopers van die Goringhaikona-stam onder hoofman Herry en die Cochoqua (Saldanhars) onder kaptein Oedasoa, enersyds, en die kommandeur. Hy gee haar krediet vir haar bystand om ’n Nederlandse glossarium van Koina-woorde saam te stel. 

Die standbeeld Jan van Riebeeck in Kaapstad

Van Riebeeck het agteroor gebuig om in vrede met die nomadiese Koina aan die Kaap die Goeie Hoop te leef, en met ruilhandel albei partye te bevredig. Hy het herhaaldelik gekeer dat sy onderdane hulle op Koina-bendes wreek wat hul beeswagters vermoor, hul tabaklande kaalgestroop, hul toerusting gesteel, hul vee geroof en hul wonings aan die brand gesteek het. Selfs Van Riebeeck se plaashuis aan die hang van Duiwelspiek is deur die Koina tot op die grond toe afgebrand. Dit was eers toe hy en sy volgelinge deur algehele uitwissing bedreig is, dat hy tot wapenweerstand teen die aanvallers toegetree het.  

Van Riebeeck was ’n geniale mens wat onder meer op wetenskaplike wyse sy ingewinde kennis van die inheemse mense, plante en diere opgeteken het in ’n tyd toe daar geen boekstawing daaroor bestaan het nie. Met die hulp van Krotoa het hy byvoorbeeld die Koina-name van die Koina-stamme en die van die Kaapse fauna en flora gefonetiseer, en so die eerste kennis-ensiklopedie oor Suid-Afrika ingelui. Hy het die Kaap van ’n onherbergsame woesteny in ’n lowerryke Eden omskep, en die Kompanjiestuin, as net een voorbeeld daarvan, staan vandag steeds daar as stille getuienis vir ’n regdenkende grondlegger en pionier vir die vestiging van ’n Christelike beskawing in ’n chaoties-heidense Donker Afrika. 

Al Van Riebeeck se geskrewe dokumente word in die Kaapse, Amsterdamse en Den Haagse argiewe bewaar, en is reeds deur die Tanap-projek, ’n samewerkingsprojek tussen die Kaapse Argief en die VOC-argiewe in Nederland, getranskribeer en elektronies in ’n rekenaar-databasis vasgelê. Dit is via die internet vir enigeen toeganklik. Niemand kan die verskoning opper dat hy of sy nie die waarheid aangaande Van Riebeeck geweet het nie.

Die Van Riebeecks was net tien jaar aan die Kaap, en toe hulle in 1662 na die Ooste (Batavia) vertrek het, het Krotoa agtergebly. Net voordat hulle vertrek het, is sy op 3 Mei 1662 deur ’n besoekende leraar van die Gereformeerde Kerk, ds. Petrus Sibelius, in die kapel van Fort die Goeie Hoop as Eva gedoop.

Twee jaar later, op 26 April 1664, het Eva met een van die VOC se soldate aan die Kaap, Pieter van Meerhoff, oorspronklik van Kopenhagen, getrou. Hy was 27 jaar oud en Eva 21. Hulle het drie kinders gehad en het op Robbeneiland in ’n mooi huis met ’n fraai tuin gewoon, aangesien Van Meerhof die poshouer (opsigter), tronkbewaarder en boer – met varke, skape, beeste en pluimvee – van die eiland was. In 1668 is hy ten tyde van ’n slawekoop-ekspedisie na Madagaskar vermoor, vermoedelik in opdrag van die Britse slawehandelaars wat ’n monopolie op die slawehandelsbedryf daar en aan die kus van Oos-Afrika gehad het. Lees meer hieroor in my boek Kaap van Slawe: Die Britse Slawebedryf van Elizabeth I tot Alfred Milner.

 

Krotoa die kranksinnige alkoholis

Op 30 September 1668 het Eva en haar kinders Robbeneiland verlaat en weer in Kaapstad gaan woon, maar sy het haar kinders verwaarloos en in drankmisbruik en seksuele losbandigheid verval. Geeneen van die hubare wit mans aan die Kaap wou met haar trou nie, en ook haar eie Koina-stam het haar verwerp omdat sy haar met die witmense en hul Christelike kerk vereenselwig het.

Eerstedag-koevert vir Krotoa

Eva is van 1869 af as kranksinnige (vermoedelik weens die nagevolge van die oormaat drank) op Robbeneiland aangehou, waar sy op 27 Julie 1674 op 32-jarige ouderdom dood is. Haar oorskot is in Die Kasteel die Goeie Hoop se kerkie, Die Ark, onder die plank-oordekte grondvloer begrawe. Later is dit twee keer verskuif, steeds binne die Kasteel se terrein. Haar laaste rusplek was in die Groote Kerk se begraafplaas aan die noordekant van die kerk. Vandag is hierdie perseel oordek met teer, en is daar ’n steeg tussen die kerkgebou en die Groote Kerk-sakesentrum.

Eva se kinders – ’n vierde is buite-egtelik deur ’n onbekende rondslaper verwek – is aanvanklik deur die Vryburger Jan Reyniersz en sy gesin aangeneem en versorg. Later is twee, Pieternella en Solomon, in die pleegsorg van Bartholomeus Borns en sy gesin geplaas, en is hulle na Mauritius, toe Borns daarheen verplaas is, geneem. Pieternella het in 1709 as  ’n geleerde en verfynde, getroude vrou na die Kaap teruggekeer en het  ’n voorbeeldige lewe in die wit gemeenskap gelei.

Dr. J Celestine Pretorius het ’n insiggewende biografiese hoofstuk oor Krotoa, “Tussen twee wêrelde: die verhaal van Eva van Meerhoff”, geskryf vir haar boek Al laggende en pratende – Kaapse vroue in die Sewentiende en Agtiende Eeu, Human & Rousseau, Kaapstad, 1998. Dalene Matthee se deeglik nagevorste roman Pieternella van die Kaap is gegrond op die lewe van Pieternella van Meerhoff, en dr. Dan Sleigh, wêreldkundige historikus oor die VOC-tydperk en hoogaangeskrewe opvoedkundige, se bekroonde roman Eilande handel oor Krotoa en haar mense in die tyd van die VOC.

 

Geen klad op bekwame Van Riebeeck se naam

In hierdie betroubare boeke, soos ook in die talle outentieke geskiedkundige bronne oor die VOC-tydperk, is hoegenaamd geen verwysing na enige vorm van seksuele misdryf of kriminele pedofilie wat Van Riebeeck met enige Koina-kind of wit kind sou gepleeg het nie. Ook is daar geen sweem van waarheid in die implisering van sy kwansuise ontrouheid aan sy vrou, Maria, nie en hy het hom nooit skuldig gemaak aan enige skandelike gedrag wat sy waardige amp as goewerneur aan die Kaap die Goeie Hoop sou aantas nie. Daar bestaan voorts geen outentieke boekstawing in die noukeurige oorspronklike VOC-dokumentasie oor Jan van Riebeeck dat hy ooit ’n buite-egtelike verhouding met enige vrou aan die Kaap, Nederland of in Batavia sou gehad het nie.

Seksuele misdadigheid en ook homoseksualisme was in die VOC-tydperk met die dood strafbaar. Enige vorm van misdadigheid of onwaardige gedrag van watter aard ook al deur ’n VOC-amptenaar sou tot sy summiere ontslag uit VOC-diens gelei het.

In sy lang en indrukwekkende loopbaan as VOC-amptenaar het Jan van Riebeeck van krag tot krag gegaan totdat hy in Batavia aan koors beswyk het.

Luidens die verskeie onbetwisbare biografiese bronne is Krotoa kort na die aankoms van die Van Riebeecks aan die Kaap in die Van Riebeeck-huishouding onder Maria se leiding en toesig opgeneem. Maria het haar saam met haar kinders onderrig, ook in Bybelkunde, laat katkiseer, en in die Gereformeerde Kerk laat doop. Krotoa het volgens Kerklike gebruik vir gekerstende heidinne ’n Bybelse naam gekry. Sy is na Eva, die eerste vrou van die Skepping, genoem.

Johan Antoniszoon van Riebeeck  (1619-1677) was ’n hegte gesinsman wat sy vrou en kinders met die grootste liefde, respek en deernis behandel het. Die gelukkige en godvresende gesin het saam in die klein fortjie met sy min leefruimte gewoon. Dit sou onmoontlik vir Jan gewees het om onder daardie maatskaplik-huislike omstandighede enige onbetaamlikhede met die Koina-kind te pleeg. Maria was die hele tyd daar, besig met die versorging en opvoeding van haar kinders – klein en groot. Krotoa is as een van die gesin behandel.

Jan was ’n verfynde, uiters voorbeeldige en bekwame goewerneur, skeepsdokter, eggenoot en gesinsman. Sy karakter en herkoms was onbesproke. Voor hul koms na die Kaap was daar pogings van sy mededingers (om die pos van opperkoopman in Batavia) om hom te beswadder met bewerings oor private handel wat hy glo vir sy eie sak sou gepleeg het. Die beskuldigings is deur die VOC se regslui ondersoek, en geen getuienis kon gevind word dat hy hom daaraan skuldig gemaak het nie. Sy luisterryke loopbaan – hy was later ook president van Malacca en sekretaris van die goewerneur-generaal en raad van Indië – en ook dié van sy seun Abram, opperkoopman van Batavia en goewerneur van Nederlands Oos-Indië, getuig van die geestesgesonde, onbesproke karakters en inbors van die Van Riebeecks en dat albei deur die direkteure van die VOC, die Here XVII, hoog aangeslaan en vertrou is.

Die VOC het by hooggeplaasdes geen oortreding, hoe ligtelik ook al, oor die hoof gesien nie. Summiere ontslag en ander kwaai strafmaatreëls was die enigste antwoord daarop. 

 

Louis Leipoldt skryf mediese biografie

C Louis Leipoldt se biografie van Jan van Riebeeck

Louis Leipoldt, mediese dokter, joernalis, skrywer en digter, het deurtastende navorsing oor Jan van Riebeeck se opvoeding, opleiding en loopbaan as medikus gedoen. Dit is in sy boek Jan van Riebeeck: Die Grondlegger van ʼn blanke Suid-Afrika, Nasionale Pers Beperk, Kaapstad, 1936 (Ons Geskiedenis-Serie) opgeneem. Leipoldt ondersoek selfs die beskuldigings van Jan se vyandige mededingers oor die beweerde private handel, en bevind (as duiwelsadvokaat) dat dit ’n beuselagtigheid sou gewees het indien dit ooit waar sou gewees het.

Die belastering van die Afrikanergemeenskap deur die tenakoming van sy Dietse en Hugenote voorouers – kennelik die doel van verfoeilike, leuenagtige politieke propaganda – is ’n baie ou beproefde oorlogswapen, wat hand aan hand met die politieke oogmerke van die antagonis loop. Deur die antagonis self te ondersoek en sy (of hul) propaganda te ontleed, kan die onderliggende politieke ideologieë aan die lig gebring word.

Die enigste kuur vir hierdie soort laegraadse terrorisme vestig in kriminele vervolging en die afdwing van Strafproseswetgewing.

 

Lasterlike propaganda in die Britse tydperke

Kort nadat die Britte die Kaap in 1795 die eerste keer met bloedige oorlogsgeweld van die Kapenaars beroof het, het hierdie soort geskrewe en gesproke volksbeswaddering (Boer-bashing) in werking gekom. Nog ’n doel daarvan was om die misdadigheid van die Eerste Britse Besetting te verdoesel deur voor te gee dat die oorwonnenes (die Kapenaars) ’n spul kriminele was, en die invallers (die Britte) “die redders van die onderdruktes”.

* Dr. John Barrow, ’n propagandis vir die Britse Ryk, het in hierdie soort belasteringpolitiek uitgeblink en dik boeke geskryf waarin hy die Kapenaars van Dietse en Hugenote herkoms roekeloos en onbeteueld beswadder het. 

Die eerste argitek van die demokrasie in Suid-Afrika, advokaat Jacob Abraham Uitenhage de Mist (1749-1823), skryf  in 1802 in sy Memorie vir die ordelike bestuur van die Kaapkolonie hy staan verstom oor die “nasionale nyd en laster” in die amptelike Britse verslae van Barrow, wat beskuldigings van “wreedaardighede teenoor die inheemse bevolkings” teen die Dietse koloniste aan die Kaap die Goeie Hoop opstapel. Barrow het sy verslae in 1804 en 1806 deur die uitgewer T. Cadell & W. Davies van Londen in twee boekdele gepubliseer. Die titel daarvan is Travels into the Interior of Southern Africa, in which are described the character and the condition of the Dutch Colonists of the Cape of Good Hope.

Hierdie verslae word die afgelope tweehonderd jaar al deurlopend as ’n uiters gesogte verwysingsbron deur Afrikanerhaters benut. Selfs hoog aangeslane akademiese verhandelings aangaande die sogenaamde slawe-era in Suid-Afrika van die laat 1600’s tot die middel 1800’s steun swaar op Barrow se “nasionale nyd en laster” asof dit suiwer Evangelie is.

Barrow se boeke gaan so mank aan geloofwaardigheid, dat selfs die gedetailleerde landkaarte van die Kaapkolonie daarin – die eerste om in ’n algemene publikasie gedruk te word – deur die Duitse ontdekkingsreisiger dr. M.K.H. Lichtenstein, wat die Kaapkolonie van 1803 tot 1806 deurkruis, beskryf, geïllustreer en gekarteer  het, gekritiseer is dat “dit so foutief is dat geen mens sy weg daarmee sou kon vind nie.”

Lichtenstein se reisbeskrywinge, in Duits geskryf,  is in 1930 deur die Van Riebeeck-Vereniging in Engels uitgegee. Sy objektiewe (inderdaad vleiende) karakterontledings van die Dietse koloniste word egter selde in Engelse geskiedenisboeke gevind.

De Mist, een van die mees verligte staatkundiges van sy tyd, kan met reg die vader van die demokrasie genoem word. Hy het die verligte filosofieë van René Descartes en Jean-Jacques Rossouw – met die onderskeie slagspreuke “Ek dink, daarom is ek” en “Vryheid, Gelykheid en Broederskap” – vir die praktyk verwerk om in staatsadministrasie neerslag te vind. Die Kaap die Goeie Hoop was geoormerk om die eerste toetsterrein vir hierdie “maatskaplike ingenieurswese” te wees. De Mist het terselfdertyd ook die Vrymesselaarsbeweging in Suid-Afrika gevestig en die Losie die Goeie Hoop, wat vandag die Parlementêre terrein in Kaapstad deel, laat oprig.   

Toe die Kaap in 1803 met die Vrede van Amiens uit Britse beheer oorgeplaas is na Nederlandse beheer (die Bataafse Republiek onder die Napoleontiese bewind), het De Mist in Kaapstad voet aan wal gesit. Sy eerste taak was om slawerny alhier uit te wis.

Hy het Barrow se handgeskrewe verslae reeds in Europa gelees, dit vir die waarheid aanvaar en dienooreenkomstig sy Memorie vir ordelike landsbestuur opgestel. Hy het dadelik ’n uitgebreide reis deur die hele Kaapkolonie onderneem – waarop sy dogter, Julie Philippe Augusta Uitenhage de Mist, en sy oudste seun, Arnoldus Lambertus Uitenhage de Mist, asook Heinrich Lichtenstein, hom vergesel het.

Julie het ’n dagboek van die reis gehou, en dit in 1821 in Frans laat publiseer. Hierdie belangrike werk is eers in 1954 in Engels deur A.A. Balkema in Nederland uitgegee. Dit is nog nooit in Afrikaans vertaal nie.

By De Mist se terugkeer in Kaapstad na afloop van hierdie reis en sy eerstehandse kennismaking met die koloniste en inboorlinge, het hy onder meer die volgende inskrywing in sy Memorie teenoor  Burrows se verslag van mishandeling van die Koina deur koloniste gemaak: “Ik dagt toen niet dat het mooglyk was, uit enkel nationalen nyd  zo veele lasteringen te kunnen uitbreken. Indien men de helft daar van terstond afsnydt, een vierde voor twyffelachtig houdt, en het laaste vierde door goede inligtingen verbetere, zullen de Hottentotten nog gelukkiger zyn, dan een Meyereysche kleine boer.”

Researches in South Africa deur dr. John Philip

* Die superintendent van die Londense Sendinggenootskap, dr. John Philip (1777-1851) het na die Tweede Britse Besetting tot aksie oorgegaan en Barrow oortref met sy lasterlike “geskiedskrywing” van die Dietse en Hugenote Kapenaars en hul nasate. Dit is vervat in sy Researches in South Africa, waarin hy naas die Afrikaners ook die Britse Setlaars met sy gifpen bykom.

Barrow raak toenemend ook so braaf, dat hy verskeie Engelse amptenare, ook die Kaapse  goewerneur, sir Benjamin D’Urban, in Londen by regeringsamptenare belaster. D’Urban laat daarop Philip se bewerings in sy Researches oor die mishandeling van slawe deur die Afrikaners en die Britse Setlaars ondersoek, en bevind dit ’n spul vergesogte leuens.

In daaropvolgende lastersake in die hof word Philip telkens aan ernstige laster skuldig bevind, en moet hy skadevergoeding aan die belasterdes betaal.

En toe vlek joernaliste in Engeland ’n reuse-slawernyskandaal oop: Ierse weeskinders word uit inrigtings daar ontvoer en in Suid-Afrika en Australië as slawe – huisbediendes en plaasarbeiders – verkoop. En die organiseerder van hierdie immorele geldmaak-skandaal in medewerking met Britse vlootoffisiere is toe niemand anders nie as die “vrome” dr. John Philip. 

Desondanks, word sy Researches vandag nog deur die vyande van die Afrikaners as lasterwapen teen hierdie gemeenskap benut.

Die volle aangrypende verhaal van die geheime Britse slawebedryf in Suid-Afrika is opgeneem in my boek Kaap van Slawe: Die Britse slawebedryf van Elizabeth I tot Alfred Milner. (Navrae daaroor per e-pos aan: [email protected] of bel 072 740 5203.)

 

Die Kunste as voertuig en dekmantel vir lasterlike propaganda 

Ook Afrikaanssprekendes (nie noodwendig Afrikaners nie) tel onder daardie gewetenlose propagandiste wat volkslaster ter wille van hul eie, verwronge ideologieë, binnekring-aansien en finansiële eiegewin pleeg.

Generaal Mannetjies in die Nico Malan, Kaapstad.

* In 1998, met die oog op die herdenking van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), het ’n Vrystaatse skrywer Christoffel Coetzee ’n uiters kru stuk pornografie saamgeflans waarin hy die Boere van die Anglo-Boereoorlog as seksmaniakke van die ergste soort uitbeeld. Hy het dit genoem: Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Daarluidens het die Boere Engelse soldate gevang, hulle summier ontman en die geslagsorgane gesout en gedroog. Dit is dan aan die vroue in die kampe gestuur, wat dit dan sou gebruik het om onder meer sokkies te stop.

Vir hierdie walglike boek, geskryf deur ’n volslae alkoholis, het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1999 die Eugène Marais-prys vir literatuur toegeken, en in die hoofstroommedia het MNet, De Kat en Sanlam alle lof aan Coetzee, wat in Julie 1999 op 53 jaar dood is, toegeswaai.

Coetzee se pa was ’n Vrymesselaar van Smithfield in die Suidoos-Vrystaat en sy suster is met die destydse kommissaris van Polisie, George Fivaz, getroud. As student was sy raak-beskrywende bynaam “Chris Kommunis”. Sanlam het R200 000 aan Coetzee geskenk, wat gebruik is om ’n verhoogstuk oor sy boek by die 1999-Aardklopkunstefees en in Artscape, Kaapstad (25 November tot 3 Desember 1999), op die planke te bring. Naspers het laasgenoemde geborg.

Die enigste akademikus wat die manhaftigheid aan die dag gelê het om die volstrekte onwaarheid van die “roman” aan die kaak te stel, was die literator prof. Wium van Zyl.

* In Januarie 2008 het die Joodse vermaaklikheidskunstenaar David Kramer ’n toneelstuk vir die Naspers/Media24-ondersteunde Kaapse Suidoosterfees, Die Ballade van Koos Sas, in die Nico Malan-teater in Kaapstad op die planke gebring. Daarin vergelyk Kramer godslasterlik ’n Boesman moordenaar, wat ’n jong Afrikanerseun en teologiese student van Universiteit Stellenbosch, Danie Botha, in ’n plaaswinkel op Montagu koelbloedig vermoor en beroof het (’n ware gebeurtenis), met die verloënde en gekruisigde Christus aan die Kruis. Dit na aanleiding daarvan dat ’n polisieman, konstabel Jurie Dreyer, die voortvlugtige Sas tot in Namakwaland agtervolg en in Januarie 1922 doodgeskiet het.

David Kramer se toneelstuk Koos Sas by Suidoosterfees

Vir sy kwetsende “Boer-bashing” is Kramer ruim deur die Afrikaanse hoofstroommedia vir sy lasterlike toneelstuk vereer, en dit is met die geldelike steun van Naspers ook op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn opgevoer. Verskeie kultuurorganisasies was in die koor om hierdie rassistiese en opruiende politieke prul op te hemel. 

Daar word nou met afwagting gekyk watter “Afrikaanse” kultuurorganisasies Durrant en haar trawante tot helde van “Die Kunste” gaan verhef, terwyl die landbougemeenskap al hoe meer wit kruise plant vir elke boer en sy gesin wat nog vermoor gaan word.  

 

Wiel moet nou begin draai

Dit het haas tyd geword dat die wiel begin draai, en dat diegene wat gemeenskappe met voorbedagte rade belaster, strafregtelik vervolg word. Dit is elders in Afrika en ook oor die res van die wêreld heen herhaaldelik bewys dat die irrasionele en leuenagtige belastering van etniese gemeenskappe uiteindelik tot menseslagtings lei. Die kwaadwillige propagandiste skuil dikwels agter mooiklinkende eufemismes, soos “Romans”, “Fiksie”, “Metafore” en “Skinderstories”, so asof  ’n bom in ’n mandjie blomme die ploftoestel of terreurdaad minder gevaarlik en meer aanvaarbaar sou maak.

En daardie media en die sogenaamde kultuurorganisasies wat die laster en haat help verkondig en dit aanblaas, dit besing en prys, en die wesenlike gevaarlikheid daarvan onder die dekmantel van “Die Kunste” verdoesel, behoort insgelyks deur die breë, wetsgehoorsame belastingbetalersgemeenskap in die howe tot verantwoording geroep te word. Waar toepaslik, moet hulle krimineel vervolg word. Naas tronkstraf sonder die keuse van ’n boete vir skuldige individue, moet swaar boetes van miljoene rande aan skuldige maatskappye en organisasies opgelê word. Die geld moet dan aan die oorlewendes van plaasaanvalle en die nasate van vermoorde slagoffers gegee word.