Roelf Meyer (1947-)

Jan de Klerk (1903-1979)
July 29, 2021
Roekeloos verlief – Rita Li
July 30, 2021

April 1 2016.Roelf Meyer.Executive Deputy Chair Tilca Infrastructure Corp (Pty) LtdPhotography for the Financial Mail by Jeremy Glyn.

deur Daantjie Dinamiet

Roelf Meyer is ’n voormalige kabinetsminister wat ’n belangrike rol in die onderhandelinge rondom ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika gespeel het.

Roelof Petrus Meyer is op 16 Julie 1947 in Port Elizabeth gebore; sy pa was ’n boer en sy ma ’n onderwyseres. Hy het in Ficksburg in die Vrystaat skoolgegaan en daarna aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer, waar hy in 1968 sy BCom-graad en in 1971 sy LLB-graad verwerf het. Op Universiteit was hy lid van die Afrikaanse Studentebond. Tydens sy diensplig was hy lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se kerkkoor en konsertgroep, bekend as die Kanaries. Daarna het hy tot 1980 in Johannesburg en Pretoria as prokureur gepraktiseer.

Hy het in 1979 tot die politiek toegetree toe hy tot Nasionale Party (NP)- parlementslid vir die kiesafdeling Johannesburg-Wes verkies is. In 1986 het hy die adjunkminister van wet en orde geword, terwyl hy van 1988 tot 1991 ook die portefeulje van staatkundige ontwikkeling as adjunkminister behartig het. In 1991 het die destydse staatspresident FW de Klerk hom as genl. Magnus Malan se opvolger as minister van verdediging aangestel. Hy het egter uit hierdie portefeulje bedank omdat hy weens sy “verligte” politieke oortuigings, nie die respek van die generaals in die Suid-Afrikaanse Weermag kon afdwing nie. In Mei 1992 het hy dr. Gerrit Viljoen as minister van staatkundige ontwikkeling opgevolg; dit was in hierdie posisie wat hy betrokke geraak het by die onderhandelingsproses en die voorsitter van die Beleidsgroep vir Hervorming geword het.

Meyer het bekendheid verwerf vir sy rol as hoofonderhanderlaar vir die NP-regering tydens die veelparty-onderhandelingsforum in 1993. Hier het hy ’n goeie verhouding met die ANC se hoofonderhandelaar, die huidige president Cyril Ramaphosa, opgebou. Nadat onderhandelinge in November 1993 afgehandel is, het hy die regering se hoofverteenwoordiger in die uitvoerende oorgangsraad geword. In 2004 het hy en Ramaphosa ’n toekenning vir diens en leierskap by die Suid-Afrikaanse Brouerye ontvang. Na die demokratiese verkiesing in 1994 is Meyer in die Mandela-kabinet as minister van staatkundige ontwikkeling en provinsiale sake aangestel, terwyl sy ouer broer Tobie Meyer die adjunkminister van landbou en grondsake was. Hy het weer saam met Ramaphosa, wat voorsitter van die grondwetgewende vergadering was, gewerk.

In 1996 het hy uit die kabinet bedank en die sekretaris-generaal van die NP geword en van 1996 tot 1997 was hy ook die NP se voorsitter in Gauteng. Nadat die nuwe grondwet teen die einde van 1996 voltooi is, het die NP aan die regering van nasionale eenheid onttrek. Hy het in 1997 uit die NP, en sy parlementêre setel, bedank.

Nadat Meyer uit die NP bedank het, was hy, saam met genl. Bantu Holomisa, die medestigter van die United Democratic Movement (UDM). Die UDM het in 1999 altesaam veertien setels in die Parlement verower, en Meyer was die adjunkpresident van dié party totdat hy in 2000 uit die politiek getree het. Hy het in 2006 aangekondig dat hy hom by die ANC sou aansluit.

Die Nasionale Orde van die Kremetart in Silwer is aan hom toegeken vir sy bydrae tot die onderhandelingsproses vir ’n nuwe grondwet.