Rhodes help beplan ’n aanslag

“Dit was heerlik om jonk te wees!”
May 23, 2015
Jameson val Transvaal binne
May 25, 2015

Cecil John Rhodes was fabelagtig ryk. Deur sy belange in De Beers en Consolidated Gold Fields was hy omstreeks 1895 ’n multimiljoenêr met ’n jaarlikse inkomste van meer as ’n miljoen pond. Die bepalings van die trustaktes het hom in staat gestel om ’n deel van die opbrengs van die twee groot myngroepe vir sy imperialistiese planne te gebruik. Tot 1895 was die British South Africa Company feitlik sy persoonlike werktuig. Dit was ’n maatskappy wat Rhodes in 1889 saam met Alfred Beit gestig het vir die kolonisering van die gebied noord van die Limpopo. In die laaste dekades van die 19de eeu het Rhodes al meer na vore getree as die teenstander van president Kruger. As gevolg van Rhodes se optrede het die Company betrokke geraak in politieke avonture.

Rhodes was parlementslid vir Barkly-Wes, maar was die meeste van die tyd nie eers in die parlement nie. Hy het egter teen 1890 ingesien dat hy politieke mag nodig het as hy na die noorde wou uitbrei. Van 1884 het hy al hoe meer die steun gekry van JH Hofmeyr (“Onze Jan”), leier van die Afrikanerbond. Teen 1890 het Hofmeyr Rhodes gesteun in sy uitbreidingsplanne na die noorde.

Die Kaapse parlement was in 1890 op die punt om ’n wet te maak wat spoorweguitbreiding na die noorde sou stopsit sodat die Oos-Kaap meer lyne kon kry. Rhodes en Hofmeyr het daarin geslaag om die wetsontwerp te kelder. Gordon Sprigg moes bedank as premier en Rhodes het hom opgevolg nadat hy verseker is van Hofmeyr se steun. Rhodes het sy steun onder die Afrikanerbond versterk deur aandele van die British South Africa Company onder lede uit te deel en vir hulle plaasgrondkonsessies in die noorde aan te bied. Hy kon ook hul steun wen deur maatreëls soos die invoer van nuwe wingerdwortels uit Amerika om filloksera te bestry en die skilpadbesie om sitrusplae uit te roei.

Dit was Rhodes se ideaal om ’n ekonomiese unie van Suid-Afrikaanse state tot stand te bring wat tot ’n staatkundige unie onder Britse vlag sou lei. Hy moes dus noodwendig in botsing kom met president Kruger wat Transvaal onafhanklik wou hou. Rhodes, ’n chroniese hartlyer, het mettertyd ongeduldig geraak om voor sy dood sy doel te bereik, en omstreeks 1894 het hy al hoe meer daaraan begin dink om van Kruger ontslae te raak en Transvaal met geweld in ’n Britse federasie te dwing. Tot in daardie stadium het hy hom min gesteur aan die griewe van die Transvaalse uitlanders, wat nie deur die “dom Boere” geregeer wou wees nie en die stemreg wou hê. Kruger het gevrees dat die uitlanders die Boere kon oorstem en die grondwet so wysig dat Transvaal weer prakties onder beheer van Engeland kan kom. In 1890 is die grondwet so gewysig dat nuwe inkomelinge ná twee jaar vir ’n Tweede Volksraad en ná tien vir die Eerste Volksraad kon stem. Dit het die uitlanders glad nie tevrede gestel nie.

Kort ná ’n besoek aan Transvaal in Oktober 1894 het Rhodes begin beplan aan ’n opstand, wat aangeblaas moes word deur Consolidated Gold Fields. Saam daarmee sou die land binnegeval word deur polisie van die British South Africa Company wat op die Betsjoeanaland-grens sou wag.