Resensie: Afrikanerjoernaal – ’n Vervolgverhaal in 365 episodes

Hoe het die Voortrekkers ’n kookhuis gebou?
November 17, 2016
4 DESEMBER
December 4, 2016

Outeur: J.C. Steyn

Afrikanerjoernaal neem sy leser op ’n reis wat elke uithoek van die Afrikanergeskiedenis se landskap besoek – ’n jaar lange verkenningstog wat die volle spektrum van die Afrikaner se historiese geheue in herinnering roep.

Lesers kry die geleentheid om by prominente figure en groot geeste kers op te steek, verwonderd te staan oor die minder bekende detail wat oor groot en kleiner gebeurtenisse weergegee word en ’n paar dinge wys te word uit die insig wat die outeur bied.

Daar is ’n eerste keer vir alles. Afrikanerjoernaal noem ’n paar van daardie eerstes in Suid-Afrika, soos die eerste skool wat in 1663 aan die Kaap geopen is, die eerste literêre werk wat op tuisbodem geskryf en gepubliseer is, die eeste koerant wat die lig gesien het en die eerste rugbywedstryd, wat in 1862 gespeel is. Die outeur delf ook dieper in die historiese gegewens om die eerste kapitalis uit te wys en die eerste demokratiese opvattings in die land te bespreek.

Die bundel behandel Afrikaans se ontwikkeling en groei, die ontstaan van Afrikaner-gebruike en -maniere en die belangrikheid van godsdiens. Hoogte- en laagtepunte van die geskiedenis word uitgewys, met helde en belangrike figure soos Wolraad Woltemade, Hertzog, Totius en Langenhoven wat hulle regmatige plekkie in die kollig kry. Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog word met ’n vergrootglas bekyk, terwyl die groot invloed wat die ontdekking van diamante en goud op die Arikaner uitgeoefen het, ook aandag geniet.

Tog word die alledaagse lewe van Afrikaners oor die jare heen ook beskryf. Die konsertina as hoofinstrument van boeremusiek en ander vorme van vermaak bly nie agterweë nie. Om die agtergrond van die FAK-sangbundel en organisasies soos die ATKV te lees, inspireer sommer nuwe geesdrif vir kultuuraktiwiteite.

As jy meer wil weet oor die invloede wat tot boerekos gelei het, lees jou dagstukkie op 1 Februarie. Het jy al gewonder oor die oorsprong van die volksliedjie “Sarie Marais”? Blaai dan na 5 Julie vir ’n antwoord. As die legende van die Kruger-miljoene jou ook fassineer, moet beslis nie 28 Junie se dagstukkie oorslaan nie.

Met die taalstryd wat onlangs weer by universiteite geveg is, is dit insiggewend om te lees watter bepalings en voorwaardes Jan Marais – wie se geld die stigting van die Universiteit van Stellenbosch moontlik gemaak het – in sy testament verewig het. Lees daarvan op 21 September. Die taalstryd is oor die eeue heen meermale gestry, met Afrikaans wat wonder bo wonder van krag tot krag gegaan het. So lees mens in Oktober van die prestasies wat die Afrikaanse taal behaal het – van digkuns, rolprente en boeke tot die wêreld van beeldende kuns, sport, sakeondernemings en mediese wetenskap.

Alles wat elke Afrikaner oor die geskiedenis van sy eie ontstaan, beproewing en herlewing behoort te weet, is in hierdie bundel saamgevat. Die kort en bondige dagstukkies is so maklik verteerbaar en smaaklik aangebied soos ’n daaglikse snytjie melktert. Dit bied ’n gebalanseerde blik op alles wat goed en sleg was in die Afrikaner se verre en onlangse verlede. Die bundel sluit af met ’n bespreking van die Afrikaner se toekomsvooruitsigte – die volgende hoofstuk van die verhaal. Prof. Steyn skryf tereg: “Die verhaal van Afrikaans en sy mense duur voort.”