Reise op swak paaie

Sewe duiwels
May 12, 2015
Vermaak en werk
May 14, 2015

Een van die verdienstes van Ou Oom Jan is dat hy in sy Sewe Duiwels ’n deel van ’n vergane werklikheid laat herleef. In Di Geldduiwel skets hy ’n situasie wat in die jare van swak paaie baie lewens geëis het. Die gierige ryk ou oom moes gou by die dorp kom, maar die spruit was vol. Ná ’n lang gewag waag hy dit om deur te ry. Cachet beskrywe dan hoe die perde naderhand moes swem, die kar omslaan en die reisiger in die water beland en op die ou end sterf aan die beserings wat hy so opgedoen het.

Suid-Afrika is tans een van die lande met die hoogste padongeluksyfers ter wêreld. Maar ook voor die motor was daar padongelukke van alle soorte. So het twee De Beer-broers van Queenstown in 1860 te perd huis toe gery. Die pad het leeg gelyk en die twee het besluit om resies te jaag. Toe hulle bo-op ’n hoogte kom, kom hulle af op ’n paar kalwers wat daar gelê het en wat hulle nie kon sien nie. Die perde het oor die kalwers geval – die ruiters, perde en kalwers “waren voor een korten tijd onder elkander gemengd”, berig die Swellendamse blad De Overbergsche Courant van 15 Februarie 1860. Die dokter was gou op die plaas, maar die oudste seun was reeds sterwend. Die ander was erg beseer, maar het herstel.

Hoeveel disselbome het nie gebreek, hoeveel kinders nie onder kar- of wawiele beland as hulle voete by die op- of afklim aan iets vashaak nie! Dikwels het perde geskrik en op loop gesit met ’n kar as dit met een van die wiele oor ’n groot klip of miershoop ry. Die kar het gewoonlik omgeslaan en die mense daarop is beseer of gedood. Dit het ook gebeur dat ’n perd val, die disselboom breek, die perde op hol raak en die passasiers en die drywer uitgeslinger word. Soms het reisigers by ’n vol rivier of spruit moeg geword van die wag dat die water afloop, en dit dan maar met die kar en perde in die stroom gewaag met droewige gevolge. Ou Oom Jan vertel ook in Di drankduiwel van “bestuur onder die invloed”: “In woeste vaart gaan dit oor klippe en bosse, terwyl Hendrik maar gedurig sy sweep laat hoor … Die perde was egter gelukkig ’n dronk koetsier gewend.”

Omdat die perdekar en ossewa die vernaamste vervoermiddels was, het mense baie minder rondgereis as vandag. Jong mense het grootgeword sonder om meer as hul eie distrik en miskien ’n paar buurdistrikte te sien. Toe pres. Brand van die Vrystaat in 1881 na Natal is om as bemiddelaar tussen Transvaal en Engeland op te tree, het hy met ’n wa en agt muile gereis. Lede van sy geselskap het hom te perd vergesel. Dit het die hele ent van Bloemfontein tot by Newcastle gereën. Modder en water het van die muile se hoewe en van die wiele opgespat, en die pad was nat en glyerig. Op plekke moes die muile deur strome water gaan en soms was die grond so sag dat die wiele byna heeltemal weggesak het. Twee keer moes leë toegemaakte vate langs die wa vasgebind word sodat dit in ’n vol rivier agter die swemmende muile bo die water kon bly.

Dit het transportwaens vier tot ses weke gekos om van die Vrystaat Kaap toe te ry. Karavane van tot veertig ossewaens het met wol uit Bloemfontein na Port Elizabeth vertrek op ’n reis van 28 dae. Transport ry was een van die maniere waarop mense ’n bestaan probeer maak het. Dit was ook ’n goeie leerskool, want die sakemense het die transportryers dikwels probeer kul. ’n Vragbrief kon melding maak van 6000 pond, terwyl die handelaar 9000 gelaai het. ’n Slim man wat sy vrag weeg, kon aan die eindpunt dan 3000 pond agterhou, of ’n dubbele tarief vra vir die oorgewig. Dikwels het transportwaens passasiers saamgeneem. Die reis per poskoets van die Kaap na Kimberley het twee weke geduur, maar die reisiger moes baie betaal. Die transportwa was veel goedkoper. Toe die jong JD Kestell en sy pa in 1871 na die diamantvelde is, het die reis met die ossewa van Pietermaritzburg na Kimberley sowat twee maande geduur weens swaar reëns, en die modderpaaie sonder brûe.