Kommandant-generaal Pieter Potgieter
June 27, 2017
Burgerspark: ’n Monument vir ’n vertrapte president
June 28, 2017

(Geskryf deur LT de Jager, soos verskyn in Historia Junior, November 1962)

Oom De Beer, sy vrou en hul twaalfjarige dogtertjie Rachel en haar boetie van ses jaar het op ’n plaas bo-op die Drakensberge tussen Transvaal en Natal gewoon. Hulle het in ’n klein hartbeeshuisie gewoon. Rachel se Pappie was maar baie arm. Hy het maar iets in die twintig beeste gehad en ’n klein klompie skape.

Op hierdie gedeelte van die Drakensberge is dit van die koudste gedeeltes van Suid-Afrika. Elke winter val daar sneeu. Hierdie sneeustorms kom altyd so skielik en dit word so koud dat mens en dier op die oop vlaktes verkluim.

Een middag het ’n groot storm opgekom. Groot wolke het oor die bergspitse gewaai en ’n yskoue wind het deur murg en been gesny. Rachel en haar Pappie het dadelik die beeste en skape in die kraal gaan jaag.

Sy was ’n regte boeredogter. Sy kon osse drywe, inspan en koeie melk. Sy was partykeer ook beeswagter. Terwyl sy en haar Pappie die beeste en die kalwertjies in die kraal jaag, merk hulle dat een van die koeie gekalf het en dat die kalfie nie daar was nie. Die sneeuvlokkies het reeds soos klein veertjies op die aarde begin neersif.

“Raggie, (so het haar ouers haar genoem) dit lyk my Blom se kalfie is weg,” sê Pappie.

“Ons sal moet gaan soek. Die kalfie sal in hierdie sneeustorm verkluim as hy buite moet slaap.”

Pappie kyk bekommerd na die bergspitse wat in ’n donker wolkkombers gehul is. “Gelukkig het die beeste vandag net hier in die eerste laagte gewei. Dit is nie ver nie. Ek en Moos sal na hom gaan soek,” sê Pappie.

“Pappie, kan ek ook gaan help soek?” bied Rachel aan.

“Pappie, ek wil saam met Raggie gaan,” sê haar fris sesjarige broertjie.

“Goed, my flukse kinders. Gaan soek julle hier in die eerste laagte. Ek en Moos sal verder gaan soek,” sê Pappie.

“Julle moet tog net voor donker terug wees, my ou staatmakers,” sê Pappie met ’n trotse maar bekommerde trek op sy gesig.

Rachel het gou vir Boetie ’n skaapvelkarossie by die huis gaan omhang. “Moenie te ver gaan nie, Raggie,” het Mammie gewaarsku.

Mammie was nie bekommerd nie, want die laagte is mos nie ver nie en buitendien, Boetie en Raggie is gebrei in die skool van die veld.

Rachel en haar boetie het na Blom se kalfie gaan soek. Hulle het al verder en verder geloop. Hulle wou tog so graag Blom se kalfie kry. Dit het naderhand begin donker word.

Boetie het bekommerd om hom heen begin kyk en sy karossie stywer en stywer om hom getrek. “Raggie, dit word donker. Ek kry ook so koud,” sê Boetie met ’n klein bibberende stemmetjie.

“Ons moet omdraai, Boetie, voor dit heeltemal donker is,” sê Rachel.

Die donker het vinnig toegesak en die sneeu het sterker geval en die wind het harder gewaai. Rachel het haar boetie se handjie styf vasgehou en vinnig begin terugstap. Hulle kon die huis nie meer kry nie. Hulle tandjies het op mekaar begin klap van die koue en hulle hande en voete het daarvan begin pyn. Dit was naderhand pikdonker en Rachel het glad nie meer geweet waar hulle was nie.

“Sussie, ek kry baie koud en ek is so moeg dat ek nie meer kan loop nie,” het Boetie huilend gekerm.

“Toemaar, my Boetie, hou maar net uit. Ons is nou-nou by die huis,” het sy wanhopig en moedeloos probeer troos.

“Ek kan nie meer nie, Sussie,” en huilend het Boetie uitgeput op die koue wit sneeu gaan sit. Rachel het ook gevoel dat sy dit nie meer lank sal kan volhou nie.

“As ek tog maar net my Boetie kan red,” het dit deur haar gedagtes gemaal. Gou het sy met haar koue, bewende, stywe hande haar rokkie uitgetrek en dit vir haar boetie aangetrek. Sy het hom opgetel en met hom aangestap. Twintig tree verder het sy ’n half-uitgeholde miershoop aangetref. Sy het met vingers wat pyn van die koue en met ’n skerp klip die miershoop verder uitgehol. Dit gaan maar moeilik en stadig, want sy kry nou so koud dat sy elke beweging baie pynlik vind.

Intussen troos sy maar: “Toemaar, Boetie, nou-nou het Sussie vir jou ’n lekker oondjie om in te lê. Dit sal die nare ou koue uit hou,” het sy deur stywe lippe getroos.

Met groot inspanning het sy ook haar onderkleertjies uitgetrek en dit vir haar boetie aangetrek. Haar kappie het sy ook oor haar boetie se koppie getrek. Sy het net haar veldskoentjies aangehou. Rachel het met groot kraginspanning haar boetie in die holte van die miershoop neergelê en sy het nakend met haar ruggie styf teen die opening van die miershoop gaan lê om die koue af te weer.

Dit was al pikdonker toe Pappie by die huis terug kom. Buite waai die wind sterker en die sneeu val al vinniger.

Toe Pappie alleen in die huis kom, vra Mammie verskrik: “Waar is die kinders?” Ontsteld vra Pappie: “Is die kinders nie hier nie? Ek het gedink hulle is hier by jou.”

“Pappa, ons moet dadelik gaan soek,” sê Mammie met ’n snik.

“Ons arme kinders in hierdie verskriklike storm …” Haastig en stil word die lanterns opgesteek. Die volk word geroep. Toegewikkel in komberse en karosse begin Pappie en die volk soek.

Mammie pak ’n groot vuur buite die huis en gooi baie hout daarop. “Ag, as hulle tog maar net die vuur sien,” wens sy uit die diepte van haar hart.

Die bure help ook soek. Die hele bittere koue nag deur word daar gesoek. Die lanterns word geswaai. Die hele laagte word gefynkam. Hulle roep: “Raggie, Boetie. Waar is julle? Hier is ons. Hoor julle ons?” Daar word ook skote geskiet. Alies tevergeefs. Dit is net die wind wat te kere gaan en deur die rotse en bote loei. Rachel en Boetie het in die donker baie verder afgedwaal as wat Pappie-hulle gedink het. Daar was van hulle geen teken of spoor nie.

Met dagbreek die volgende môre het die storm bedaar. Die wind het gaan lê en die sneeu het opgehou om te val. Die miswolke het opgeklaar en daar het ’n wit sneeukombers oor die aarde gelê. Die strale van die son, wat agter die bergspitse uitloer, het op die sneeu geskitter.

Mammie het ook nou gaan help soek. Daar was nou min hoop en ’n groot hartseer in Pappie en Mammie se harte. Waar sou Rachel en Boetie skuiling kon vind om die verskriklike koue nag te oorleef?

Net na sonop het Moos die kinders se spore gevind en dit gevolg. Hy het die spoor ook deur die tweede laagte gevolg en eindelik het hy hulle gevind. Die laaste twintig tree wis dit net Rachel se spore. ’n Bewys dat sy haar Boetie die laaste twintig tree tot by die miershoop gedra het. Aan sy gebare en armgeswaai het die ander soekers afgelei dat hy hulle gevind het. Binne ’n paar minute was al die soekers daar.

Voor die mond van die uitgeholde miershoop het Rachel gelê met haar ruggie styf teen die uitgeholde miershoop. Sy was dood. Haar liggaampie was koud en styf en net so wit soos die sneeu waarop sy lê.

Agter haar in die holte het haar boetie styf van die koue gelê – hy het nog gelewe. Hoeveel ure moes Rachel nie gely het voor sy gesterwe het van die koue nie! Deur haar klere uit te trek en vir haar Boetie aan te trek, het sy sy lewe gered.

Ons sal Rachel de Beer onthou as een van die dapperste dogters van ons volk. Sy het die hoogste offer gebring om haar boetie se lewe te red.