Raak betrokke en verseker gehalte onderwys in Afrikaans

‘n Nuwe klipmonument vir oom Paul
Oktober 11, 2018
Kleindorp-dromer – Elandré
Oktober 12, 2018

Deur Elaine Krige, skakelbeampte vir Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS)

Die enigste manier wat die Afrikaanse gemeenskap die toekoms van gehalte onderwys in ons moedertaal kan verseker, is om aktief betrokke te raak by projekte om ons openbare skole meer selfstandig te maak en nuwe, onafhanklike skole tot stand te bring.

In die lig van ’n reeks openbare vergaderings wat die Gautengse onderwysdepartement in Augustus met ouers in die provinsie belê het, is ingryping deur die gemeenskap belangriker as ooit.

Tydens die vergaderings het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, sy planne uiteengesit vir nuwe regulasies met betrekking tot die toelating van leerlinge tot Gautengse skole.

Voorgestelde regulasiewysigings, wat in Julie in die staatskoerant gepubliseer is, poog om skoolgemeenskappe van alle mag te stroop om die taal, toelating en kapasiteit van hul skool te bepaal.

Sou hierdie regulasies aanvaar word, sal die LUR vir onderwys in die provinsie die finale sê hê oor waar en in watter taal leerlinge skoolgaan. Die regulasies bepaal selfs dat leerlinge nie gedwing kan word om die bepaalde gedrags- of etiese kodes van ’n skool te onderskryf nie.

Hierdie wysigings druis in teen die waardes van ’n demokratiese skolestelsel, waar ouers self oor die bestek van hul kinders se opvoeding mag besluit. Dit is ook teenstrydig met bepalings uiteengesit in die 1996-Witskrif oor Onderwys en Opleiding. Dié Witskrif bepaal dat die gemeenskap ’n aktiewe rol behoort te speel in die opvoeding van ons kinders en dat die staat se mag oor openbare skole tot ’n minimum beperk moet word. Dit is ook so dat suksesvolle openbare skole dié skole is waar die gemeenskap ’n aktiewe rol speel in die skool se bestuur.

Dit was egter reeds met die tweede openbare vergadering by Hoërskool Montana in Pretoria duidelik dat Lesufi nie bereid was om met ouers te onderhandel oor sy planne vir nuwe regulasies in Gauteng nie. Tydens hierdie vergadering het menigte lede van die gemeenskap die geleentheid aangegryp om Lesufi te konfronteer en kritiese vrae te vra oor beplande regulasies. “Julle Afrikaners moet dankbaar wees ek is bereid om my planne met julle te bespreek. Die volgende LUR sal nie met julle in gesprek tree nie, maar bloot doen wat ons (die regering) wil hê,” het Lesufi gesê.

Hy het selfs verwys na grondhervorming en gesê boere het die regering “’n middelvinger” gewys toe die staat vir grond wou betaal. “Nou sal ons die grond vat. Al die grond, sonder vergoeding.”

Ouers is veral bekommerd dat die voorgestelde regulasies Afrikaanse skole se ondergang sal beteken, aangesien Lesufi sal kan besluit om Engelse kinders in ’n Afrikaanse skool te plaas en só die skool dwing om sy taalbeleid te hersien. Die Hoërskool Overvaal in Vereeniging moes reeds vanjaar ’n hofbevel kry om die departement te keer om Engelse leerlinge hier te plaas. Ouers wat hierdie kommer uitgespreek het, is egter as rassiste uitgekryt. “Mense wat lief is vir Mandela, is lief vir nie-rassigheid. Julle kan dankbaar wees ons (die ANC) is aan bewind, want ons is ’n nie-rassige party.”

Dit is te verstane dat Engelse leerlinge in Afrikaanse skole wil skoolgaan. Volgens ’n verslag deur die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) het 86% van Afrikaanse skole se matrieks die 2017-matriekeksamen geslaag – 11% meer as die nasionale slaagsyfer. Verder behaal Afrikaanse skole bykans drie keer meer onderskeidings as hul Engelse eweknieë in belangrike vakke soos Wiskunde.

Die grootste rede hiervoor is Afrikaanse onderwysers se uitstekende vakkennis en toegewydheid, sowel as ’n betrokke skoolgemeenskap wat hul tyd, kennis en geld aan die skool wei.

Die harde werklikheid is egter dat Afrikaanse skole wat na parallel medium oorskakel, dikwels op die lange duur heeltemal ver-Engels. Dit is omdat parallelmediumskole duurder is om te onderhou. Hierdie model vereis amper dubbeld soveel onderwysers en klaskamers, omdat alle onderwysers nie in Engels én Afrikaans kan klas gee nie. Die skool moet self hierdie hulpbronne voorsien, omdat onderwysposte wat deur die staat aan skole voorsien word, jaarliks afneem. Die staat se bydrae per leerling aan skole het ook die afgelope tien jaar met 9% afgeneem. Hierdie model is dus nie altyd finansieel volhoubaar nie.

In antwoord op ’n parlementêre vraag verlede jaar het Angie Motsekga, minister van basiese onderwys, gesê die aantal Afrikaanse skole het sedert 2002 met amper 600 skole afgeneem, van 1 800 na net meer as 1 200 in 2016. Slegs 10% van alle skole landswyd is dus Afrikaans.

Dit is egter nie rede vir Afrikaanse ouers om in sak en as te sit nie. Oplossings bestaan om te keer dat Afrikaanse skole tot niet gaan. Een hiervan is die opsie vir skole om meer selfstandig van die staat te funksioneer. Skole kan byvoorbeeld onafhanklike regsentiteite soos trusts gebruik om geld en bates te bestuur. Geld wat deur die gemeenskap geskenk of ingevorder word tydens fondsinsamelings, moet eerder in die trust belê word, sodat dit deur die skool eerder as die staat, besit word. Die trust kan dan ook voorskryf hoe geld wat hy aan die skool oorhandig, aangewend moet word. So kan ’n trust bepaal dat geld of geboue gebruik word om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder.

Afrikaanse skole word ook aangemoedig om munisipale grond langs die skool aan te koop en te ontwikkel. Indien klaskamers op hierdie grond geleë is, het die departement van onderwys geen seggenskap oor die gebruik hiervan nie en kan die skool dus nie gedwing word om Engelse leerlinge in hierdie klaskamers te plaas nie. Skole moet ook hande vat met maatskappye in die gemeenskap wat bereid is om in die skool te belê.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet bied openbare skole boonop die opsie om te privatiseer, mits die departement hiertoe instem. Daar is ook reeds van die vooraanstaande Afrikaanse skole wat hierdie opsie oorweeg. Hierdie skole betaal reeds meer as die helfte van hul personeelsalarisse en ander hulpbronne uit hul eie sak.

Dit is dus moontlik om die voortbestaan van gehalte onderrig in Afrikaans te verseker, al dreig diktators soos Lesufi met “onteiening” van skole. Al wat dit sal verg, is dat die Afrikaanse gemeenskap kragte saamsnoer en hul tyd, geld en kundigheid in ons skole belê.

 

 

The post Raak betrokke en verseker gehalte onderwys in Afrikaans appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico