MER (1875-1975)

Maria_Elizabeth_Rothmann_MER

deur Dawie du Plessis

Min Afrikanervroue het so ’n groot invloed op die letterkundige, kulturele en maatskaplike lewe van die volk gehad soos Maria Elizabeth Rothmann. Selfs in die tye van verandering in die laat 50’s en 60’s was daar in toenemende mate besef dat haar kuns ’n blywende bydrae tot die Afrikaanse prosa was, en dat sy inderdaad ’n vormende krag in die Afrikaanse letterkunde en die Afrikaner se geesteslewe was. Selfs in haar latere jare het sy die belangstelling getrek van “die literêr bewuste jongere generasie in Suid-Afrika,” – die einste geslag wat met skerp kritiese insig ’n herevaluasie van die “aanvanklik oorskatte werk” van haar tydgenote onderneem het, praat hoofsaaklik met lof van haar sketse en verhale. Literêre geskiedskrywers beskryf MER as “ons fynste prosakunstenares”, en noem dat sy gedurende haar laaste jare in die Afrikaanse kultuurlewe die plek ingeneem het wat in haar werk aan bejaarde vrouens slegs met uitsonderlike persoonlikhede toegeken is. Sy het geword die enigste oorlewende van ʼn vergange generasie na wie opgesien en na wie met respek geluister word.

Maria Elizabeth Rothmann is op 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore, waar sy in dié verengelste dorpie haar skoolopleiding in Engels ontvang. As besonder skrander skolier ontvang sy ’n beurs om by die South African College in Kaapstad (voorloper van die Universiteit van Kaapstad) te studeer – op daardie tydstip maar die vierde vrou in die geskiedenis van Suid-Afrika om ’n tersiêre onderrig te geniet. As ’n tipiese koloniale Afrikaner was sy by uitstek Engels-georiënteerd in haar optrede en uitkyk, tot die Jameson-inval in 1896 haar tot ’n drastiese inkeer bring en sy opnuut van haar Afrikanerskap bewus word. Sy vertrek ook dan na die Transvaalse Republiek om daar onderwys te gee, waar sy ook vir president Paul Kruger ontmoet wat ’n blywende indruk op haar gemaak het.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 gaan MER se broer Frits op kommando, waar hy ook ʼn dagboek hou. Hierdie dagboek sou amper ’n halfeeu later deur MER verwerk en uitgegee word. In 1900 verlaat sy en haar ouer suster die Transvaal vir die Kaapkolonie vanweë die feit dat die (hoofsaaklik Engelse) skole waar hulle werksaam was as ’t ware leeg geloop het. In die Kaap kon hulle egter nie aanstelling kry nie weens hul Republikeinse gesindheid – MER het byvoorbeeld tydens die treinrit na die Kaap ’n klein Vierkleurtjie teen haar bors vasgespeld. Metteryd kry MER wel aanstelling by ’n privaatskool in Grahamstad waar ene Oakshott die hoof is. In 1902 tree sy met hierdie veel ouer Engelsman in die huwelik. Weens sy finansiële roekeloosheid en koopsug was hy gou bankrot. Hierdie spandabelrigheid, gepaard met sy leuens en oneerlikheid oor sy persoonlike geskiedenis, maak dat MER “tydelik” van hom skei in 1905 toe sy na Swellendam terugkeer. Sy verander haar van weer terug na Rothmann, en herdoop haar kinders met Afrikaanse name.

Twee jaar later stig sy en haar suster ’n privaatskool wat later saam met die dorpskool saamsmelt, waar sy nog ’n aantal jare onderrig gee. In 1917 gaan woon MER by haar broer op ’n plaas in die Laeveld, waar sy begin skrywe, en ook artikels instuur na Die Brandwag. In 1920 verhuis sy na Pretoria waar sy by Die Boervrou gaan werk. Na slegs twee jaar verhuis sy weer na Kaapstad, waar sy aangestel word as redaktrise van Die Burger. Tydens haar verblyf in die moederstad het ’n aantal kinderboeke uit haar pen verskyn. In 1928 word MER aangestel as die sekretaresse van die Afrikaner Christelike Vrouevereniging (ACVV), ’n pos wat sy vir tien jaar beklee. In dieselfde jaar word sy ook aangestel as lid van die Carnegie-kommissie vir die ondersoek van die armblankevraagstuk.

In die volgende aantal jare na haar uittrede uit die joernalistiek skryf sy die meeste van haar werke, maar sy was ook aktief betrokke by die Afrikaner se maatskaplike en kulturele lewe. Sy was kennisse van of bevriend met tydgenote soos generaal Hertzog, doktor Malan, Eugène Marais en CJ Langenhoven. Sy was betrokke by die stigting van die Voortrekkers en ’n aktiewe lid van beide die Nasionale Party en later die Ossewabrandwag. Voorts was sy ook ’n vurige voorstander vir vroueregte, of – soos dit destyds beskryf is – die “geslagspolitiek”.

As lid van die Anglikaanse kerk, ’n universiteitsgeleerde en ’n uitgesproke “feminis” was MER inderdaad ʼn unieke figuur. Op die rype ouderdom van 97 publiseer sy haar herinneringe, getiteld My beskeie deel. Haar eie beskouing oor haar werk spruit uit Spreuke 30:8 in die ou Nederlandse Bybel: “IJdelheid en leugentaal doe verre van mij; armoede of rijkdom geef mij niet; voed mij met het brood mijns bescheiden deels.” Op die ouderdom van 100 jaar sterf sy op 7 September 1975 in haar huis op Swellendam, Komnader.

Verdere leesstof:

•    Nienaber-Luitingh, M. 1982. M.E.R. (In Nienaber, P.J. red. Perspektief en Profiel – ʼn Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde. 5de uitg. Johannesburg: Perskor. pp. 323-339).
•    Nienaber-Luitingh, M. 1999. M.E.R. (In Van Coller, H. red. Perspektief en Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik. pp. 684-693).
•    Rothmann, M.E. 1972. My beskeie deel: ’n outobiografiese vertelling. Kaapstad: Tafelberg.
•    Steyn, J.C. 2004. Die 100 Jaar van M.E.R. Kaapstad: Tafelberg.
•    Verskeie. 1975. M.E.R. 100. Kaapstad: Tafelberg.