DF Malherbe (1881–1969)

deur Dawie du Plessis

dfmalan

DF Malherbe

Daniël Francois Malherbe is op 28 Mei 1881 op Daljosafat gebore. Malherbe is eers op die ouderdom van nege skool toe – die beroemde Gedenkschool in sy tuisdorp. By geleentheid het hy ook as jong seun van die skool af weggeloop om ’n taalkongres in die Paarl by te woon. Op Daljosafat was hy tydgenote van Totius en AG Visser, en saam het hierdie seuns gretig vir die poskar gewag om Di Patriot en Ons Klyntji te ontvang. Vir sy hoërskoolopleiding is hy na Wellington, waar hy die Hoër Jongenskool bygewoon het. Ná hy op Stellenbosch die intermediêre eksamen afgelê het, gee hy skool op Montagu. Hy behaal op 21 die BA-graad, waarna hy Duitsland toe vertrek vir verdere studie.

Na hy sy doktorsgraad in Filosofie in Freiburg behaal het, keer hy in 1907 na Suid-Afrika terug waar hy hom dadelik in die stryd om Afrikaans werp. Malherbe was sedert 1913 lid van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en van 1926 tot 1928 dien hy as voorsitter. Daarby was hy ook redakteur van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. Verder was hy ’n lid van die Taalkommissie, die skrywer van die eerste taalwetenskaplike boek oor Afrikaans (1917), betrokke met die opstel van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, en die skrywer van die reuse werk Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1923). In 1918 word hy die eerste professor in Afrikaans aan die Grey-universiteitskollege (vandag die Universiteit van die Vrystaat). Hier word hy onthou as die persoon wat dit reggekry het om Afrikaans as universiteitstaal erken te kry. Buiten sy skrywes en redevoering het Malherbe ook doelbewus sy digkuns aangewend as propagandamiddel vir die Afrikaanse taal – dit was vir hom belangrik om te toon dat kuns en poësie in Afrikaans gelewer kan word.

As dosent het DF Malherbe se studente hom onthou as ’n formidabele leermeester, ongeduldig en met ’n kort humeur, maar tegelykertyd ook vol humor, deernis en simpatie. Sy belangstelling in en ywer vir die Afrikaanse taal was opvallend, maar gelukkig ook aansteeklik. Malherbe het maklik sy liefde vir Afrikaans aan studente kon oordra. Die genoemde ywer om die skeppingskrag van Afrikaans aan te toon is iets wat egter Malherbe se poësie enigsins leed aandoen. Die oordrewe simboliek en die “boodskap” is soms ’n juk op die skouers van sy verskuns. Maar hy het ook die potensiaal van die Afrikaanse woord voldoende uitgebuit deur te vervorm, deur nuutskeppings en unieke samestellings. As skeppende kunstenaar was dit egter in die verhalende prosa waar Malherbe se grootste nalatenskap lê. Sy werk val in die sfeer van die Romantiek, en hy maak gebruik van Bybelfigure, grootse helde en die vaderlandse geskiedenis. Hy het dit as die taak van die skrywer beskou dat hy nie slegs ’n spannende verhaal moet vertel nie, maar dat hy ook sy leser moet ontroer. In ’n boodskap aan voornemende skrywers sê hy: “Delf dieper. Moenie slegs skryf oor die toon wat by die gebarste velskoen uitloer nie. Skryf ook oor die innerlike gevoel van die persoon wat dit dra.” Teen 1939 is hy reeds drie maal die Hertzogprys bekroon.

In sy leeftyd het DF Malherbe drie eredoktorsgrade ontvang – van Stellenbosch, die Oranje-Vrystaat, en Potchefstroom. In 1960 oorhandig die Akademie die Stalsprys aan hom, en in 1968 ken die FAK ’n erepenning aan hom toe. Amper 40 jaar vroeër, in 1929, was Malherbe die voorsitter van die reëlingskomitee met die FAK se stigtingskongres. Sy groot wens was om eendag 80 jaar oud te word. Hy is net voor sy 88ste verjaarsdag op 12 April 1969 oorlede. “Skuldenaar – dis wat ek is,” het hy aan die einde van sy lewe opgemerk. “Ek het so baie goeie dinge van die lewe ontvang.”

Verdere leesstof:

•    Baker, E. 1981. D.F. Malherbe: Mens en meester. Pretoria: Juventus.
•  De Villiers, H. 1999. D.F. Malherbe. (In Van Coller, H. red. Perspektief en Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik. pp. 647-656).
•    Kok, B., Lategan, F.V. & De Beer, R. 1981. D.F. Malherbe in woord en beeld. Johannesburg: Perskor.