Johannes van Melle (1887-1953)

johannes-van-melle

deur Dawie du Plessis

Johannes van Melle is op 11 Februarie 1887 in die dorpie Goes in Nederland gebore, waar sy pa bakker was. Na sy skoolloopbaan by die christelike nasionale skool behaal hy sy onderwysdiploma te Doetinchemop, waarna hy al voor sy agtiende verjaarsdag begin skoolhou. In 1906 kom hy na die Transvaal, waar hy privaatklasse op plase in die Dullstroom en Wakkerstroom-distrikte gee. Hy keer in 1909 terug na Europa, maar weens heimwee en verlange vestig hy hom in 1913 opnuut in Suid-Afrika. In hierdie tussenpose in Nederland begin hy die eerste maal sy idees neerpen, hoofsaaklik religieuse opstelle wat in plaaslike tydskrifte verskyn. Sy terugkeer het tot gevolg dat sy huwelik “met die handskoen” plaasvind, en sy vrou haar eers later in die Transvaal by haar man aansluit. Van Melle vereenselwig hom volkome met die Boerebevolking, soveel so dat hy in 1914 aktief aan die Rebellie deelneem onder generaal Muller. Self in bevel van ’n kommando ervaar hy aanvanklike suksesse, maar word later as offisier in die Pretoria gevange gehou. Vanweë ’n hofbevel wat hom toegang tot publieke skole weier, gee hy weer privaatonderwys – iets wat hom in staat stel om meer te skrywe.

Sy eerste verhale word in Nederlands met Afrikaanse dialoog geskryf, en verskyn in 1921 as Zuid-Afrikaanse Schetsen. Na ’n halwe jaar in Nederland verhuis hy in 1924 na Johannesburg om daar skool te hou, waar en wanneer hy ook in Afrikaans begin skrywe. Hierdie sketse en verhale verskyn dan in onder meer Die Brandwag, Die Huisgenoot en Die Volkstem. Van Melle voel hom vreemd in die “wêreldstad” Johannesburg, waar die maatskaplike gevolge van verstedeliking onder die Afrikanerdom hom aan die hart gryp. ’n Oplossing vir die armblankevraagstuk is iets wat hom, met sy diep en opregte Christelike geloof, deurentyd sou besighou. In die stad sou sy verlange na die Transvaalse veld ook toeneem, wat in sy skryfwerk sou deursyfer. In 1933 verskyn sy eerste Afrikaanse roman, Dawid Booysen. Hierdie werk speel in die landelike omgewing af, maar het ook te make met ’n aantal maatskaplike kwessies. Voortaan sou volhou met die skryf van kortverhale en toneelstukke, werke wat deurlopend in tydskrifte verskyn en ook gebundel word. In 1936 verskyn ’n Nederlandse werk (met Afrikaanse dialoog) genaamd Bart Nel, de Opstandeling (wat reeds in 1937 in Duits vertaal word as Bart Nel der Rebell), wat redelike goeie kritiek in Nederland ontvang.

Daarna verskyn in die dertigerjare nog kortverhaalbundels – Oom Freek le Grange se derde vrou, Vergesigte, Oom Gideon ontmoet die Voortrekkers, en Oom Daan en die Dood, wat sekerlik die toppunt van Van Melle se skrywerskap verteenwoordig. Van 1942 af wy hy hom volkome aan die skryfkuns, en dit is ook die jaar wat Bart Nel, de Opstandeling deur hom in Afrikaans vertaal word en onder die titel En ek is nog hy verskyn. Die boek sou in 1951 as Bart Nel sy finale beslag in Afrikaans verkry. Maar 1942 verteenwoordig ook die einde van Van Melle se literêre uitset, aangesien hy hom nou op Bybelstudie en teksverklaring begewe. Die godsdienstige onderstroom wat sy werk nog altyd gekenmerk het word nou die oorheersende element. Hy publiseer ’n groot aantal godsdienstige oordenkinge in Afrikaans, wat hy op sy eie koste laat druk. Weens ’n tekort aan onderwysers vestig hy om weer in 1948 in Johannesburg om skool te gee. Hy sterf op 8 November 1953. In 1961 verskyn sy derde groot roman, Verspeelde Lente, wat postuum sy kunstenaarskap herbevestig.

Een van die redes waarom Johannes van Melle hom tot die skryfkuns gewend het was die lees van ’n stuk deur die groot Nederlandse digter Willem Kloos:

“Hoe het komt weet ik niet, maar Christelike mensen hebben over het algemeen een weinig ontwikkelde literêre smaak en Christelike schrijvers schijnen het te moeten doen met een zwak letterkundig vermogen.”

Vir die diep gelowige Van Melle was hierdie inderdaad ’n uitdaging. Buiten die natuurskoon en nog maagdelike landstreke in Suid-Afrika was die ou Boere se leefstyl en hul godsdiens die rede vir sy langdurige verblyf in Suid-Afrika, en sy aanneem van die land as sy eie. Daarom dat die Voortrekkers so gereeld in sy werk figureer. Hul oortuigde goedsdienstigheid wat die riglyn was van hul maatskaplike lewe het hy as die hoogste ideaal beskou. Behalwe die soeke na moontlike uitgewers, was die rede agter sy besoek aan Nederland in 1947 die gee van lesings oor die Afrikaanse literatuur. Sodoende wou hy bydrae tot ’n kulturele toenadering tussen Nederland en Suid-Afrika. Van Melle kon inderdaad uit twee wêrelde spreek.

Verdere leesstof:

•    Botha, E. 1982. J. van Melle, 1887-1953. (In Nienaber, P.J. red. Perspektief en Profiel – ʼn Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde. 5de uitg. Johannesburg: Perskor. pp. 369-379).
•  Jonkheere, W.F. 1968. Johannes van Melle: Realist tussene twee werelden. Pretoria: J.L. van Schaik. (Nederlands)
•   Jonkheere, W.F. 1999. Johannes van Melle. (In Van Coller, H. red. Perspektief en Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik. pp. 700-708).