Prof. dr. N Mansvelt

Droomvrou
January 18, 2019
Droomvrou
January 19, 2019

Nicolaas Mansvelt was beslis die suksesvolste en mees dinamiese superintendent van onderwys gedurende die ZAR-tydperk; onder sy leiding het die onderwys ’n bloeitydperk beleef.

Op 20 Julie 1852 aanskou hy die eerste lewenslig op die dorp Wassenaar in Suid-Holland. Na voltooiing van sy laerskoolloopbaan gaan hy na De Klokkenberg, ’n private normaalskool wat teen die liberale staatsnormaalskole gerig was, om opleiding as onderwyser te ontvang.

Dr. Mansvelt se geboortehuis, Wassenaar, Suid-Holland (Transvaalse Onderwysmuseum)

Die kuratore van die Gimnasium op Stellenbosch was teen die jaar 1874 bekommerd dat hierdie inrigting onder die invloed van sy oorwegend Engelse en Skotse onderwysers, net soos sy eweknie – die South African College – sou verengels. Om dit te voorkom, ontvang ds. Frans Leon Cachet opdrag om gedurende sy verblyf in Nederland ’n leraar in die moderne tale, waarby Nederlands inbegrepe was, te werf. Uit die agt kandidate het sy keuse op Nicolaas Mansvelt geval. In September 1874 kom die 22-jarige Mansvelt op Stellenbosch aan. Toevallig weet ons wat sy indrukke van die Afrikaanse lente in sy nuwe land was: ‘Het was een verrukkelijk September-ochtend, die mij aan een aardsch paradijs herinneren …’

Mansvelt het hom van die begin af met volle oorgawe aan sy nuwe taak gewy. Hy het hom egter nie net tot die akademie beperk nie, maar hom ook volkome in sy nuwe Afrikaanse omgewing ingeleef.

Wat dr. Mansvelt die meeste ontstel het, was dat so baie Afrikaners se huistaal Afrikaans was, maar dat hulle by voorkeur Engels gelees en geskryf (en dikwels ook gepraat) het, omdat hulle Hollands nie meer magtig was en Afrikaans nog nie as kultuurtaal wou erken nie. Mansvelt het volstaan met die gedagte van eers weer terug na Nederlands om op krag te kom en dan kan die Afrikaanse vorm van Nederlands veilig aan die toekoms oorgelaat word. In dié opsig verskil hy dus van die Patriot-beweging wat die waarde van Hollands nie gereken het nie. Teenoor die nuwe, opkomende taal het hy egter geensins onverskillig gestaan nie. Dit word bewys deur sy Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon wat in 1884 verskyn het. Hierdie lys woorde, 188 bladsye lank, wat hy sedert 1874 aan die Kaap versamel het, bevat onder meer woorde wat aan die Kaap ontstaan het; woorde waarvan die oorspronklike betekenis wysiging ondergaan het, terwyl hulle in Nederlands uitgesterf het; en ontlenings aan vreemde tale in Suid-Afrika. Dis Mansvelt se belangrikste bydrae op taalgebied. Dit het nie alleen sy studente se belangstelling in hul eie taal geprikkel nie, maar ook geblyk – mistastings ten spyt – die belangrikste, volledigste en noukeurigste leksikografiese poging in Afrikaans tot op daardie tydstip te wees. By latere polemiek oor die ontstaan van Afrikaans word voortdurend na hierdie werk verwys.

Hoofsaaklik deur die toedoen van dr. Mansvelt en ds. A Moorrees kom ‘De Zuid Afrikaansche Taalbond’ op 31 Oktober 1890 tot stand. Die doel van hierdie instelling was die bevordering van kennis van die volkstaal en ’n nasionaliteitsgevoel. Onder die term ‘volkstaal’ het Mansvelt natuurlik Hollands in gedagte gehad.

Prof. Mansvelt was meer as bloot professor. Hy het nie slegs wetenskap doseer nie, maar ook karakters gevorm deur woord en voorbeeld. Dit was dan ook sy voorreg om op Stellenbosch te help vorm aan manne wie se name onuitwisbaar gegraveer staan op die geskiedenisrolle van Suid-Afrika. Daar was onder meer generaal JC Smuts, generaal JBM Hertzog, hoofregter JAJ de Villiers, generaal CF Beyers, minister FS Malan, ds. JD Kestell, asook die here Geo M Hofmeyr en WA Hofmeyr. Hierdie manne het in hul latere lewe met innigheid getuig van die voorreg wat hulle beskore was om deur prof. Mansvelt onderrig te word. In 1898 skrywe generaal Smuts in antwoord op ’n gelukwensing met sy benoeming tot ’n hoë pos in die Z A Republiek aan dr. Mansvelt onder andere: ‘Het is mijn wensch dat de banden jaren geleden tusschen ons als professor en student gelegd hechter mogen worden. Veel heb ik aan u te danken’.

Die resultaat van die werk van prof. Mansvelt kan soos volg saamgevat word: hy het die antagonisme wat daar geheers het teen alles wat Duits was, gestuit en die onderwys van Hollands op Stellenbosch op ’n baie hoër peil gebring. Die versterking van Hollands het laasgenoemde in staat gestel om ’n afweringstaak teen Engels te vervul; iets waartoe die Afrikaans van die laaste helfte van die 19de eeu nog nie by magte was nie.

In Oktober 1891, nadat die pos hom ’n tweede maal aangebied is, aanvaar prof. Mansvelt die betrekking van superintendent van onderwys van die Zuid-Afrikaansche Republiek. (Sy voorganger, ds. SJ du Toit, het in 1889 reeds na die Paarl teruggekeer.) Treffend stel G Besselaar hierdie omwenteling in die rustige lewensgang van Nicolaas Mansvelt: “Zijn levensgeluk is er niet door verhoogd, stoffelijk voordeel heeft hij er niet behaald; zijn tocht naar Pretoria was uiteindelijk de tocht naar zijn maatschappelijke ondergang en die zijner idealen, welk tragisch lot hij gewillig en eervol deelde met het volk van Transvaal’.

Villa Eugenia, die Mansvelt-woning in Sunnyside, Pretoria. Barclayplein is later op die perseel gebou (Transvaalse Onderwysmuseum)

Om die rol wat Mansvelt in die opbou van die onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek gespeel het in die regte perspektief te sien, moet daar kennis geneem word van die onderwystoestande wat sy oorname voorafgegaan het.

Primitiewe onderwysmetodes was aan die orde van die dag. Die uitgediende spelmetode het steeds gegeld vir die onderrig van lees. Die Trap der Jeugd was nog net so gewild soos vroeër. Die gemeenskap en die onderwysdepartement het Bybelgeskiedenis as die belangrikste vak beskou. Almal was tevrede solank dit net goed gegaan het in hierdie vak. Van die 538 onderwysers wat aan die einde van 1891 in diens van die onderwysdepartement was, was net 105 min of meer gekwalifiseer. In sy eerste rapport maak prof. Mansvelt daarvan melding dat daar heelparty onderwysers was wat nie eenvoudige berekeninge kon doen nie en selfs nie woorde soos ‘Pretoria’ en ‘Potchefstroom’ kon spel nie!

Skoolgeboue en toerusting het veel te wense oorgelaat. Kort na sy oorname moes Mansvelt dikwels met ’n staking van die subsidie dreig indien die boer nie onverwyld sy pampoene, aartappels en droëvoer uit die skoollokaal verwyder nie. Soms het nie-noodsaaklike leermiddels soos meester se katel die reeds beknopte vertrek vol gestaan.

Om die groot uitdaging die hoof te kan bied, het Mansvelt onder andere krag geput uit die volgende doelstelling: ‘Van het onderwijs en opvoeding van het opgroeiend geslacht toch hangt naar mijn bescheiden mening de geheel toekomst des lands af’. In sy bekende Onderwyswet (nr. 8 van 1892) handhaaf hy die gangbare Christelik-nasionale beginsels van die Transvaalse onderwys. Sy wet word gekenmerk deur strenger toesig oor die onderwys, hoër eise ten opsigte van leerplanne asmede die bevoegdhede van onderwysers, en behoorlike toesig oor die nakoming van geldelike bystand vir die moedertaal.

Aanvullend by die Mansvelt-wet kom daar deur ’n volksraadbesluit van 1893 die toekenning van subsidie aan skole met ’n ander voertaal as Nederlands, die sogenaamde Besluitscholen. Die snelle uitbreiding van die uitlanderbevolking aan die Witwatersrand het die Volksraad laat besluit om die Engelse skole tegemoet te kom mits hulle minstens vyf uur per week aan die onderrig van die Hollandse taal en die geskiedenis van die Republiek bestee. Hierdie tegemoetkoming laat die bekende opvoedkundige dr. EG Malherbe tot die slotsom kom dat: ‘It is hard to see how a foreign people could have expected better treatment in any other country as far as education was concerned.’

Mansvelt se omstrede onderwyswetgewing (Transvaalse Onderwysmuseum)

Prof. Mansvelt het weldra getoon dat hy die hele breë spektrum van onderwys en opvoeding onder beheer het. So vind ons byvoorbeeld dat hy, in ’n poging om te voorkom dat leerlinge se oë en asemhaling benadeel word en om hul handskrif te bevorder, deur middel van Schoolgids in 1892 aanbeveel dat skoolkommissies moes sorg vir meubels van verskillende groottes in die skoolkamers. Elke lokaal moes behoorlik verlig wees en lig moet van die linkerkant af val. Elke skool moes voorsien word van behoorlike ‘buiten gemakken’ (‘privaten’). Op inisiatief van prof. Mansvelt vind die oprigting van verskeie model-onderwysinrigtings in Pretoria plaas.

Een van die belangrikste datums in die Transvaal se onderwysgeskiedenis is ongetwyfeld 15 Augustus 1893. Op daardie datum het die opening van die Staatsgimnasium plaasgevind. Transvaal het nou doelbewus van die res van Suid-Afrika weggebreek en ’n daadwerklike poging aangewend om die Engelse onderwysstelsel wat sy stempel reeds geheel of gedeeltelik op die ander landsdele afgedruk het, deur sy eie stelsel te vervang. Die doel van hierdie inrigting was om ‘jongelieden’ vir universiteitsonderwys voor te berei. Die standaard van die Staatsgimnasium was besonder hoog. In 1905 het Fabian Ware, destydse Transvaalse direkteur van onderwys, in die Londense Times van 13 November 1905 geskryf: ‘As far as standard and methods of instruction are concerned, the Gymnasium in Pretoria was both in organization and staff probably unequalled in South Africa.’

Die Staatsgimnasium (1900). Ten spyte van groot teenkanting is hierdie gebou gesloop (Transvaalse Onderwysmuseum)

Met die oprigting van die Staatsmodelskool (die gebou is tans ’n Nasionale gedenkwaardigheid) het Mansvelt die opleiding van onderwysers en voorbereiding van leerlinge vir toelating tot die Staatsgimnasium voor oë gehad. Hierdie ‘modelskool’ moes in elke opsig ’n voorbeeld stel. Gedurende Januarie 1897 is die sierlike gebou in Van der Waltstraat in gebruik geneem.

Die Staatsmodelskool (1900) (Transvaalse Onderwysmuseum)

Mansvelt was van mening dat daar in die hoofstad ’n deeglike skool moes bestaan waarheen ouers wat buite Pretoria woon, met vertroue hul dogters kon stuur. Aanvanklik het hierdie poging teenstand van president Kruger ondervind omdat hy gevrees het dat ’n geleerde vrou haar huislike pligte sou verwaarloos en dit die grondslae van die samelewing sou ondermyn. Toe hy egter verneem dat die skool ‘… onzer eigen onderwyzeressen’ sou oplei, het hy sy algehele samewerking verleen. Die lot van die Staatsmeisieskool is deur die Tweede Vryheidsoorlog beklink. Die reëlings vir die inwyding van die praggebou in Visagiestraat (tans ook Nasionale gedenkwaardigheid) was reeds getref toe die oorlog uitbreek. Die onderwyseresse het verpleegsters geword en die skool is in ’n hospitaal omskep.

Die Staatsmeisieskool (Transvaalse Onderwysmuseum)

Ondanks heelwat teenkanting bring dr. Mansvelt veel tot stand. Tydens sy bewind verdubbel die getal leerlinge, die getal onbevoegde onderwysers daal skerp, dorpskole word uitgebou en gesentraliseer, en die getal plattelandse skole vermeerder. Die onderwysbegroting vermeerder meer as viervoudig. Hierdie moeilike jare het vir dr. Mansvelt ook oomblikke van groot vreugde besorg. Op 17 Januarie 1894 word, op grond van sy verdienstelike werk vir die Nederlandse taal en kultuur, ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Utrecht aan hom toegeken.

Terwyl Transvaal reeds besig was om te stry vir sy voortbestaan, het die uur van grootste triomf vir Mansvelt se onderwysstelsel aangebreek. Aan die Wêreldtentoonstelling in Parys (1900) was ’n belangrike onderwysafdeling verbonde. Die ZAR het ook ’n inskrywing gestuur wat sowel in die afdeling vir Laer Onderwys as in die afdeling Middelbare Onderwys bekroon is met die hoogste onderskeiding, die ‘Grand Prix’. In Maart 1901 is dr. Mansvelt benoem tot ridder in die Franse Legioen van Eer.

Toevallig was dit dan sekerlik nie dat die superintendent van onderwys die eerste amptenaar van die Zuid-Afrikaansche Republiek was wat na die besetting van Pretoria deur die Engelse bewindvoerders die land uitgesit is ‘because your department has always been known to be anti-British’. Hierop het Mansvelt geantwoord: ‘You mean always been known to be pro-Dutch.’ Gedurende Junie 1900 is Mansvelt en sy gesin per oop beestrok na Oos-Londen vervoer en met die veerboot Manhattan na Vlessingen verskeep. Hulle vestig hulle te Utrecht.

Vir ’n fynopgevoede egpaar met ’n groot gesin wat gewoond was aan sekere geriewe, moes dit bepaald ’n vernedering gewees het om meteens tot die bedelstaf gebring te word. Die Mansvelt-egpaar het egter nie verslap nie; hulle het dadelik vir hul eertydse land aan die werk gespring. Hy word uitgenooi om oral in Nederland en België oor die ZAR lesings te hou en laat verskeie publikasies die lig sien, onder andere sy welbekende Hollands-Afrikaanse Liederbundel (1908) wat ’n mylpaal op die gebied van die volksang in Suid-Afrika en die voorloper van die FAK-sangbundel is. As sekretaris van NZAV sit hy van 1908 tot 1921 sy kulturele werksaamhede in verband met Suid-Afrika voort; hy word ook bestuurslid van die Herman Coster-fonds en die Zuid-Afrikaansche Voorskotkas. Beide instellings het hulle beywer vir die heropbou van die twee vernietigde Republieke.

Aan hierdie baanbreker op die gebied van taal en kultuur, en oortuigde voorstander van die kulturele samewerking tussen Nederland en Suid-Afrika, ken die Universiteit van Stellenbosch in 1931 ’n eredoktorsgraad toe.

Die Mansvelt-gesin, Utrecht, Nederland, 1905 (Transvaalse Onderwysmuseum)

Gedurende 1920 het Mansvelt se gesondheid in so ’n mate verswak dat hy uit die meeste van die komitees waarin hy gedien het, moes bedank. Op 6 Februarie 1933 het hy te Haarlem, Nederland, die tydelike met die ewige verwissel.

Bron: Hofmeyr, J.H. 1983. Prof dr N Mansvelt. Lantern, April, 13-20.