Ons klein gemenebes

Na die Britse anneksasie van Natalia, het die Voortrekkers hulle regoor Transvaal, die Noord-Kaap en die Vrystaat gevestig. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) kom in 1852 en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) in 1854 tot stand. Verskeie kleiner republieke gesentreer rondom familiegroepe is ook gestig, soos die republieke van Stellaland, Goosen, Lydenburg en Vryheid.

Vanaf 1837 tot 1852 het die Voortrekkers se denke ontwikkel van koloniale oriëntasie tot volledige selfbeskikking op eie grondgebied. Vir die Trekkers moes die gemeenskap of gemenebes wat hulle wou stig, net soos by die ou Kaapse patriottebeweging, die algemene welsyn van al die lede van die gemeenskap bevorder. Die vestiging van die twee republieke het groot uitdagings aan die verskillende presidente en Volksraadslede gestel. Groot dele van die Suid-Afrikaanse binneland was onbewoon en moes getem word. Staatsadministrasie moes gevestig word, hoofstede aangelê word, infrastruktuur ontwikkel word en verhoudings met die inheemse bevolkingsgroepe gevestig word.

Teen 1880 het die Britse goewerneur na die Vrystaatse republiek verwys as ’n modelrepubliek. Hoekom? Giliomee verduidelik: “In die Vrystaat was daar ’n lewende gevoel dat die regering en gemeenskap een is, iets wat in die suide heeltemal afwesig was of baie onseker was.” Daarby was die OVS teen 1888 die deel van Suid-Afrika wat die beste bestuur is deur middel van ’n suksesvolle staatsadministrasie en belastingstelsels. Kwessies soos die Basoetoe-oorlog en grensgeskille met Brittanje is opgelos deur middel van diplomasie. Bekwame presidente is ondersteun deur ’n sterk, maar klein staatsdiens.

Die vryheidsideaal en onafhanklikheid van ’n gemeenskap gevestig op gesonde regsbeginsels word treffend deur die woorde van die Vrystaatse volkslied verwoord:

Sing burgers, die lied van vryheid
En sing van ons eie volksbestaan
van vreemde oorheersing vry
Ons klein gemeenskap
is op orde, wet en reg gevestig
Ons het ’n plek tussen die state
Ons het ’n plek tussen die state

Daarteenoor noem Giliomee dat die ZAR ongelukkig kenmerke van ’n mislukte staat getoon het. In die ZAR was ’n chaotiese staatsadministrasie en finansies. Konflikte is deur middel van militêre geweld onderdruk wat op ’n stadium selfs gelei het tot ’n burgeroorlog. Verskillende faksies, dorpe en gemeenskappe het die regering se gesag ondermyn. Die ZAR kon nie ’n vreedsame manier vind om minderhede in hul grondgebied te akkommodeer nie.

Die ontdekking van goud en diamante

Die twee Boererepublieke se landelike gemeenskappe was aanvanklik deur ’n rustige bestaansekonomie gekenmerk, wat grotendeels gerig was op die versorging van families, grondbesit en landbou. Bybelkennis, natuurkennis en die voortdurende stryd om vryheid het die landelike bevolking se waardes en welstand bepaal.

Die nywerheidsrewolusie in Brittanje het ’n vraag na nuwe markte en nuwe grondstowwe geskep. Met die ontdekking van diamante in Kimberley in 1866 wou Brittanje ten alle koste die twee republieke weer in die greep van die Britse Ryk kry. Alhoewel Kimberley aanvanklik binne die Vrystaatse republiek geval het, het die Britse owerheid die Vrystaatse aanspraak betwis. Die grensgeskil is na ’n lang onderhandelingsproses opgelos. Die Vrystaat het sy aanspraak op die Kimberley-diamantvelde verloor, maar het ’n paar duisend pond as vergoeding gekry. President Brand het die fondse aangewend om die Vrystaatse Republiek se staatsdiens en infrastruktuur te versterk.

Prospekteerders en goudsoekers het die ZAR reeds van 1850 af deurkruis. In Pelgrimsrus het ’n hele dorp ontstaan toe spoelgoud daar ontdek is. Die ontdekking van ryk goudriwwe in die Witwatersrand gedurende 1886 het daartoe gelei dat mense van heinde en verre na die ZAR gestroom het. Die eens kapitaalarm ZAR het oornag welvarend geword. ’n Goudstad het uit tentdorpe verrys. Teen 1888 was daar reeds 103 goudmyne aan die Rand. Die wit bevolking van Transvaal was 230 000 in 1895, teenoor die 40 000 in 1875. Johannesburg het ’n bevolking van 100 000 gehad waarvan 75 000 uitlanders was. Die impak van die statistiek op die ZAR kan eers verstaan word as die getalle vergelyk word met Pretoria se inwonertal van 6000 en Potchefstroom se 5000 inwoners.

Die dramatiese ekonomiese en maatskaplike omwenteling wat die ontdekking van goud en diamante teweeg sou bring, het landelike Afrikaners onverhoeds betrap. Die nuwe stedelike gemeenskappe was heterogeen, kapitalisties, individueel, en beweeglik ten opsigte van woonplek, beroep, status en welstand. Die politieke en kulturele verskille het vinnig tot ernstige konflik gelei.

Kampvegters vir Afrikaans

Statusbewuste koloniale Afrikaners in die stede en dorpe wou graag aanvaar word deur die toonaangewende Engelssprekendes en het om dié rede Engels verkies. Selfs in die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, het Afrikaners om dieselfde rede verkies om eerder Engels te gebruik. Teen 1880 was Bloemfontein feitlik ’n Engelse hoofstad. Dit is geen wonder nie dat CP Hoogenhout in 1880 moedeloos in Di Patriot uitgeroep het: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Op Saterdag 14 Augustus 1875 het sewe mans in die huis van die welgestelde wynmaker, Gideon Malherbe, vergader met die doel om Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te stig. Hierdie groepie Kaapse Afrikaners wou deur Afrikaans te ontwikkel as lees en skryftaal uitdrukking gee aan hul identiteit. Hul leier was die 27-jarige NG dominee, Stephanus Jacobus du Toit. Hy was ook die vader van Totius, wat later ’n leidende rol in die vertaling van die Bybel in Afrikaans sou speel. Ook teenwoordig is SJ du Toit se 29-jarige broer, Daniël Francois du Toit. Hy word later bekend as “Oom Lokomotief”. Daar was nog ’n Malherbe, Petrus Jacobus, ook ’n wynboer van 22 jaar oud. Hy was die pa van die latere skrywer DF Malherbe.foto 2

Die GRA het kort na hul stigting ’n koerant begin uitgee. Dit was Die Afrikaanse Patriot wat in Januarie 1876 die eerste keer verskyn het. Die koerant se sirkulasie was aanvanklik klein, maar het om politieke redes gewild geraak toe die koerant die kant van die Transvalers gekies het nadat Engeland eensydig dié republiek in 1877 geannekseer het. Soos wat die koerant die gevoel en standpunte van Afrikaners verwoord, het mense ook gewoond begin raak aan Afrikaans as skryftaal. Die GRA het min geld gehad, maar hulle het die Patriot aan die gang gehou, later ook ’n tydskrif, Ons Klyntji, en baie boeke uitgegee. Tot 1895 is 81 000 eksemplare van Afrikaanse boeke gedruk, onder andere ’n geskiedenis van die Afrikaners, ook ’n taalkundeboek, ’n kookboek, en die gewildste van almal die versamelings Afrikaanse gedigte wat in die Patriot verskyn het. Die GRA het ook ’n Afrikaanse skool op die plaas Kleinbosch in Daljosafat opgerig. Bekende digters soos Totius, AG Visser en DF Malherbe het hier skoolgegaan.

In die Vrystaatse en Transvaalse republieke het veral Paul Kruger Hollands in die onderwys en staatsdiens probeer bevorder en van Nederlanders gebruik gemaak om die taal te onderrig. Alhoewel Hollands die amptelike taal was, was die algemene spreektaal Afrikaans. In Transvaal het baie Afrikaners nietemin ’n betreklik goeie Hollands geleer. In die Anglo-Boereoorlog was sommige dagboeke, soos dié van Gustav Preller, die digter Jan FE Celliers en Gideon Scheepers in perfekte Hollands. Afrikaans het egter in die Vrystaat en Transvaal ’n klompie voorstanders gehad, soos FW Reitz, wat self Afrikaanse gedigte geskrywe het, asook die later bekende digter Eugène Marais en Koos de la Rey. De la Rey het in die Volksraad gewaarsku dat pogings om Afrikaans teen te gaan, vergeefs sou wees. Afrikaans was ewe goed as Hollands vir die beskaafde uitdrukking van gedagtes.

Die Transvaalse protesbeweging

Teen 1877 was die ZAR nog glad nie ’n sterk of stabiele republiek nie. Enkele maande voor die Britse anneksasie van Transvaal skryf die staatsprokureur Jorissen dat daar nie iets soos ’n “heg-aaneengesmede volk” bestaan nie. Daar was geen koerant wat die regering gesteun het nie. Die inwoners het ver uitmekaar gebly met die uitsondering van ’n paar dorpe. Die oordrewe individualisme het tot gevolg gehad dat elke burger in sy eie oë die staat was. Die ZAR se eerste paar dekades is gekenmerk deur weifelende leierskap, klein oorloggies, klein politiek, interne rusies en twiste. Tog beskryf DW Kruger die tydperk tussen 1877 en 1881 as ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hoekom? Omdat daar met die anneksasie van Transvaal op 12 April 1877 deur sir Shepstone ’n burgerlike protesbeweging ontstaan het wat Suid-Afrika onherroeplik verander het.

Foto 3

President Paul Kruger

Die vader van die burgerlike protesbeweging was sonder twyfel die 52-jarige Paul Kruger. Kruger se taak was uiters moeilik:

•    Aanvanklik het dit voorgekom asof die Britse anneksasie met gelatenheid deur die Transvaalse burgers aanvaar is en asof die vestiging van Britse gesag oor die hele Suid-Afrika ’n voldonge feit was.
•    Die verswakte president Burgers het kort na die Britse anneksasie die land verlaat.
•    Een van sy kinders was baie ernstig siek en sy vrou ongesteld.
•    Sy invloed was beperk tot Transvaal en met die uitsondering van die Vrystaatse presidente, het hy nog nooit ander staatsmanne van formaat ontmoet nie.
•    Hy het nog nooit die see gesien nie en Kaapstad nog nooit besoek nie.
•    Hy kon nie Engels praat nie en was nog nooit vantevore in die buiteland nie.
•    Kruger het nie geleentheid gehad om die Transvaalse Afrikaners oor ’n protesbeweging te raadpleeg nie. Hy het ook geen sekerheid gehad of sy protes teen die anneksasie enige openbare steun geniet nie.

Kruger was oortuig dat die Britse anneksasie nie net gelate aanvaar kon word nie. Sy strategie het op die aanname berus dat die burgers bokant hul interne verskille moet uitstyg deur hande te vat en saam teen Brittanje op te staan. Om die doel te bereik, het Kruger ’n binnelandse en buitelandse strategie ontwikkel.

1.    Kruger se buitelandse strategie

Sigbare verset

Na anneksasie het lord Shepstone Londen laat weet dat die protes blote formaliteit was en dat die Transvalers met die toestand tevrede was. Hierdie valse beeld van gewillige Transvaalse onderdane was die oorsaak dat die Britse owerheid simpatiek was teenoor Kruger se aandrang op die behoud van die Hollandse taal en die Afrikaners se tradisies en lewensgewoontes. Hulle was egter onverbiddelik oor die finaliteit van die anneksasie. Kruger het moeite gedoen om die binnelandse verset teen anneksasie so sigbaar te maak dat selfs die optimiste in Brittanje dit nie meer kon ignoreer nie. Kruger het ook lord Shepstone se swak landsadministrasie en sy swak verhoudinge met die inheemse bevolking ontmasker.

Demokratiese benadering

Kruger se konsekwente standpunt was dat slegs ’n amptelike demokratiese volkstemming legitimiteit aan die Britse bewind kon gee. Brittanje het deurgaans geweier om dit toe te staan en daardeur ’n basiese demokratiese reg opgeoffer vir hul imperialistiese strewes.

Kontak met die Britse opposisie

Kruger het na die liberale opposisieparty in Brittanje uitgereik. Vreemd genoeg het die liberale opposisie baie meer begrip getoon vir die morele hoë gronde van die Transvaalse burgers. Kruger se Engelse vriende in die opposisie het selfs ’n goue ring vir hom geskenk waarop die getal stemme teen anneksasie gegraveer was, asook die woorde: Hou moed, u saak is regverdig en moet seëvier.

In 1880 is die Britse premier, Disraeli, se Tory-regering deur Gladstone se liberale party tot ’n val gebring. Kruger is hierdeur bemoedig, veral omdat Gladstone in die aanloop tot die verkiesing beloof het dat hy reg aan die Transvalers sou laat geskied. Vir Kruger was dit ’n ontsaglike teleurstelling toe Gladstone sy beloftes verbreek het. Hy het selfs kort voor die Eerste Vryheidsoorlog ’n laaste persoonlike beroep op Gladstone gedoen. Sy ontnugtering in Gladstone se leë beloftes en koue skouer was een van die oorsake wat hom uiteindelik as laaste opsie die wapen teen Brittanje laat opneem het.

Kontak met stamlande

Kruger het Transvaal as onervare politikus verlaat en in Europa vir die eerste kennis gemaak met die wee van internasionale diplomasie. Die buitelandse besoeke het hom bekend gemaak en op die voorgrond gestel. Kruger het sy buitelandse besoeke gebruik om veral met Duitsland en Nederland kontak te maak. In Nederland het hy onder andere kennis gemaak met die Gereformeerde Kerklike kringe en noue bande gesmee met Abraham Kuyper wat later Eerste Minister van Nederland sou word.

2.    Kruger se binnelandse strategie

Die mobilisering van Transvalers

Na die aanvanklike gelatenheid het daar baie spoedig ’n gesindheidsverandering onder die Transvaalse burgers plaasgevind. Op ’n volkskongres te Doornfontein is 6591 stemme teen anneksasie uitgebring teenoor die 597 ten gunste daarvan. Die verlies aan vryheid het iets teweeg gebring wat onafhanklikheid nie kon doen nie, naamlik om die Transvaalse Afrikaners as volk saam te snoer.

Van simpatie na vennootskappe onder Afrikaners

•    Waar Kruger in Transvaal geen steun van die Transvaalse pers gehad het nie, het hy nie geaarsel om simpatieke media in ander provinsies te gebruik om sy saak te bevorder nie. Dit was uiters geslaagd. Kruger het veral moeite gedoen om met die Kaapse Afrikaners kontak te maak. Jan Hofmeyr, SJ du Toit en ander het ’n pro-Transvaalse versoekskrif aan die Kaapse goewerneur gestuur vir voorlegging aan koningin Victoria.
•    Ook in die Vrystaat is Kruger hartlik ontvang. Alhoewel Brand huiwerig was om betrokke te raak, het die Vrystaatse Volksraad met ’n groot meerderheid ten gunste van die herstel van Transvaalse onafhanklikheid besluit.
•    Uit simpatie vir die Transvalers, het die Natalse Afrikaners geweier om by die Anglo-Zoeloe-oorlog betrokke te raak. Hulle het Kruger se standpunt gesteun dat hulle die Britse leër slegs sou ondersteun indien Brittanje onafhanklikheid sou verseker. Dit is geen verrassing dat Brittanje geweier het nie. Tydens die vernietigende slag van Isandlwana het die Zulu’s die Britse leër verslaan. Koningin Victoria se kleinseun is tydens die slag dood.

Die anti-anneksasie-beweging het ’n breë Suid-Afrikaanse vraagstuk geword met morele steun van baie Engelssprekendes.

Belasting

Die oorskatting van die Britse militêre vermoëns in Suid-Afrika, die onderskatting van die omvang van die verset teen anneksasie, tesame met swak landsadministrasie, was van die grootste foute wat Shepstone en sy latere opvolgers gemaak het om steun onder die plaaslike bevolking te wen. Kruger het in die laaste helfte van 1880 al meer begin voel dat lydelike verset nie meer baat nie. Vanuit sy Christelike oortuiging het hy homself as ’n man van vrede beskou. As realis was hy baie bewus van die mag van Brittanje. Sake het spoedig op ’n punt afgestuur waar Kruger nie meer die burgers langer in toom kon hou nie. Die vonk by die kruitvat was toe Piet Bezuidenhout van Potchefstroom saam met ’n aantal Lydenburg-burgers geweier het om verder belasting te betaal aan ’n administrasie wat hulle nie as wettig erken nie. Kruger het hom na die toneel gehaas, maar agtergekom die gemoedere loop oor. Binne ’n paar dae het 8000 tot 10 000 mense by Paardekraal saamgekom. Oorlog teen Brittanje kon nie meer gekeer word nie.

Oorlog

Foto 4Op 16 Desember is ’n Boerepatrollie op die kerkplein van Potchefstroom met Engelse geweervuur begroet. Die Eerste Vryheidsoorlog het begin. Die oorlog was egter van korte duur vanweë die Transvalers se klinkende oorwinnings by Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba. Die klinkklare oorwinning by Majuba het die Britse Ryk tot in sy fondamente geskud. Naas Bloedrivier was dié slag een van die belangrikste veldslae vir die Afrikaner. Aan die Britse kant het 92 soldate gesneuwel, 135 is gewond en 53 is gevange geneem, terwyl slegs een burger gesneuwel het en vyf gewond was. Brittanje was genoodsaak om vredesonderhandelinge aan te knoop wat aan die ZAR selfbestuur sou gee.

Gevolge van die Eerste Vryheidsoorlog

Beperkte onafhanklikheid

Die Pretoria Konvensie van 1881 het nie volle onafhanklikheid vir Transvaal gegee soos hulle voor 1877 gehad het nie. Kruger het egter geredeneer ’n halwe eier is beter as ’n leë dop. Om dié rede het Kruger geskik vir volkome selfregering wat binnelandse sake betref, maar Britse oppergesag wat buitelandse beleid betref. Kruger het al die Transvalers agter hom verenig, die simpatie van die Europese gemeenskap bekom, en die aktiewe steun van Afrikaners regoor Suid-Afrika gemobiliseer.

Vryheid is voorlopig herwin, maar Kruger sou voortaan die vryheid met alle mag en krag verdedig. Die Pretoria Konvensie het, soos die latere Verdrag van Versailles na die Eerste Wêreldoorlog, die kiem van die toekomstige oorlog vervat. Vir die Britse Ryk het Majuba die simbool van vernedering geword. Hulle sou nie rus voordat Transvaal vernietig was nie.

Na drie jaar van protes het Kruger na vore getree as simbool van Afrikaners se vryheidstrewe, diplomaat, Afrikaanse kampioen en staatsman wat ver buite die grense van sy eie land gehuldig is. Die volharding, toewyding en integriteit waarmee hy as Calvinis geprotesteer het, het aan hom groot geloofwaardigheid gegee. Ook in Brittanje is Kruger erken as die amptelike leier van die Transvalers, terwyl Afrikaners regdeur die land hom as kampvegter vir hul nasionale ideale beskou het.

Afrikaanse Taalbeweging

Die Paarlse Afrikaanse taalaktivis en medestigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, SJ du Toit, het Kruger se Kaapse bondgenoot geword. Die Eerste Taalbeweging was uitgesproke ondersteuners van die Transvaalse onafhanklikheidstrewe. Die vriendskap tussen Du Toit en Kruger was die grondslag van ’n Afrikaanse nasionale beweging wat gestalte gekry het toe Du Toit die hoof van onderwys in Transvaal geword het. So het die Afrikaanse taalbeweging wat in die Kaap begin het, neerslag gevind in die noorde van Suid-Afrika. Afrikaans sou mettertyd vir Afrikaners die simbool en draer word van kulturele identiteit en protes teen Britse oorheersing en verengelsing.

Kulturele vryheid

Die beperkte onafhanklikheid het ’n staatkundige ruimte vir kulturele vryheid geskep. Die twee dekades was lank genoeg was om Afrikaners in staat te stel om ’n eie identiteit en tradisie te ontwikkel. Die Anglo-Boereoorlog kon die identiteit nie uitwis nie, maar het dit versterk.

Nuwe oorlogswolke

Britse imperialiste soos die Kaapse premier, Cecil John Rhodes, en Alfred Milner was meedoënloos in hul strewe om beheer te kry oor die Transvaalse en Vrystaatse goudvelde. Brittanje het die uitlandervraagstuk en stemregkwessie as verskoning gebruik om volgehoue druk op die Transvaalse regering te plaas. In 1895 het die skatryk Rhodes selfs gepoog om met behulp van sy vertroueling, Leander Jameson, en met goedkeuring van die Britse minister van kolonies, lord Chamberlain, deur middel van ’n staatsgreep, Kruger se regering omver te werp. Die Jameson-inval het klaaglik misluk en Rhodes moes as eerste minister bedank. Brittanje was weereens verneder.

Foto 5

Cecil John Rhodes. Rhodesië is na hom vernoem voordat die land na onafhanklikheid Zimbabwe geword het.

In dieselfde jaar as die Jameson-inval is die Bloukrans-monument ter herdenking van die 1838-moorde tydens die Groot Trek opgerig. Die Transvaalse kommandant-generaal Piet Joubert het persoonlik fondse vir die monument ingesamel en ook die onthulling van die hoeksteen waargeneem. Aan die een kant van die monument staan die woorde: “Zij kochten ons land met hun bloed.” Binne die konteks van 1895, toe die oorlogswolke digter oor die twee republieke saampak, bevestig die woorde Afrikaners se verbondenheid aan die land en die duur prys wat hulle vir vryheid betaal het.

Afrikaners het deeglik besef wat Rhodes en Milner se doelwit was. Tydens een van die vele samesprekings met Britse verteenwoordigers, het Kruger teenoor Milner uitgeroep: “Dit is nie stemreg wat julle wil hê nie, maar my land!” Die Vrystaatse republiek kon nie op die kantlyn staan in geval oorlog sou uitbreek nie. Na die Britse anneksasie van die diamantvelde en die Eerste Vryheidsoorlog, het ’n hegte verhouding tussen die republieke ontwikkel. Om dié rede het Steyn in September 1899 aan die Vrystaatse Volksraad gevra: “Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”

Tussen vuur en bloed

Op 11 Oktober 1899 word oorlog verklaar tussen die twee Boererepublieke en Brittanje. Na die val van Bloemfontein en Pretoria, in minder as ’n jaar nadat oorlog verklaar is, het Brittanje gemeen die oorlog is verby.

Foto 6

Generaal CR de Wet

 

Die Boeregeneraals het nie moed opgegee nie, maar onder leiding van Christiaan de Wet  ’n nuwe krygstaktiek ontwikkel wat later bekend sou word as guerrilla-oorlog. Beweeglikheid is as suksesvolle wapen gebruik. Klein groepies krygers het die Britse soldate aangeval, van voorrade beroof en spoorlyne en brûe opgeblaas. Die guerrilla-oorlog was effektief, maar het nie sonder groot persoonlike ontbering gepaard gegaan nie. DJ Opperman vra in Die Joernaal van Jorik (1949):

 

Foto 7

Bittereinders te velde

Hóé kon die rykes van ’n ryk ooit weet
dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
Al moes ons in die veld rysmiere eet?

Foto 8

Lord Milner

 

Om die Boerekommando’s te ontmoedig, het die Britte ’n verskroeideaarde-beleid gevolg, waarvolgens die Boere se huise, plase, lande en vee vernietig is. Milner het sy verskroeideaarde-beleid as verskoning gebruik om die duisende vroue en kinders wat daardeur dakloos gelaat is, in konsentrasiekampe te plaas. In hierdie helkampe was vroue en kinders blootgestel aan die ergste vorme van lyding en ontbering. Verskeie Afrikaanse digters het na die oorlog deur hul digkuns die tragedie van die kampe probeer verwoord, soos Totius se gedig, “In die kamp”:

 

 

 

Kind:Foto 9
My moeder, my moeder, ek het tog so honger;
Kom gee tog vir my so klein stukkie brood!

Moeder:
My kindjie, jou moeder weet jy het honger,
Maar kom rus eers in jou moeder se skoot.

Kind:
My moeder, ag, help my, ek kan nie meer loop nie;
Ek voel tog so moeg al; my honger is groot.

Moeder:
My kindjie, jou moeder die weet dat jy moeg is,
Maar slaap bring versterking op moeder se skoot.

Kind:
My moeder, ek kan nie, ek het tog so honger,
Gee eers aan jou kleintjie ’n klein stukkie brood.

Moeder:
Nee, kom maar my liefling rus eers in my arme,
En as jy ontwaak, help die Heer uit die nood.

Kind:
Ek kan nie meer wag van honger, my moeder;
Maar waarom tog so? Het die Heer ons verstoot?

Moeder:
Nee, liefste, verstoot sal die Vader ons nimmer,
Maar hier in die tent is geen krummeltjie brood

Kind:
Geen brood nie, my moeder, ek kan nie meer hou nie,
Moet ek dan verhonger op moeder se skoot?

Moeder:
Nee, kindlief, die son is al amper weer onder,
En weer is dit awend, dan kry ons weer brood.

******

Haar kleintjie slaap in die soete gedagte:
As ek ontwaak help die Heer uit die nood.
Die moeder ontvang met vermagerde hande
Haar deeltjie oplaas – maar die kindjie was dood.

Dikwels het vroue en kinders nie net onder die Britse bevelvoerders gely nie, maar veral onder die hand van Afrikanerjoiners. Voor die Anglo-Boereoorlog was Irene nie net die eerste spoorwegstasie tussen Pretoria en Johannesburg nie, maar veral bekend as ’n “verrukelijkste picnic-plaats”. Die Irene-konsentrasiekamp is in 1901 op die plaas Doornkloof gevestig en teen die einde van die oorlog was daar 5700 persone in die kamp. Twee Afrikanerjoiners, ’n ene Scholtz en Esselen, was die eerste twee kampkommandante. Onder hul leiding het die toestande in die kamp vinnig versleg. Weens siektes, blootstelling, swak voorsiening van lewensmiddele en onvoldoende mediese sorg, het daar in die Irene-konsentrasiekamp in ’n kwessie van enkele maande ongeveer 1200 persone gesterf waarvan meer as ’n duisend kinders onder 15 was. Op ’n stadium is selfs die vrywillige verpleegsters die kamp verbied.

Eers nadat die inwoners uit desperaatheid vertoë tot die Britse bevelvoerders gerig het, word drie dames weer toegelaat om hulp te verleen, onder andere Henrietta Armstrong, een van die stigterslede van die latere Suid-Afrikaanse Vrouevereniging. Alhoewel daar ’n gemiddeld van 540 siekes per dag was, het die kampowerheid bepaal dat daar op geen stadium meer as ses verpleegsters in die kamp mag wees nie. Die mediese dokter, C Louis Leipoldt, het ’n gedig oor haglike toestande in die Irene-konsentrasiekamp geskryf met die titel: “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”. Hieronder is ’n kort uittreksel:
Foto 10

Siembamba, siembamba
Mamma se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die Noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai waar hy wil;
Net jyself kan kreun en steun:
Niemand sal dit hoor nie, my seun

Siembamba, siembamba,
Mamma se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk
Bitter is vir jou die lewenskelk!
Daar is jou plek by die graffies daar-
Twee in een kissie, ’n bruilofspaar!
Al wat jy wen is dat ons onthou
Alles vir ons en niks vir jou
Vou maar jou handjies dig tesame
Sluit maar jou ogies en sê – ame…

Die Afrikanerjoiners het in die Irene-kamp ’n “kraal” as strafmaatreël vir vroue geskep. Dit was ’n kaal veld en rotse omhein met doringdraad, waar vroue soms vir ’n hele dag sonder kos of water gelos was omdat hulle “oproermakers” was, of bloot omdat hul mans nog op kommando was. ’n Vrou wat gedurende Esselen se tyd daar opgesluit was, moes die aand uitvind dat haar kind gedurende die dag gesterf het. Selfs die protes van die gemeenskap oor die martelingmetode het niks gehelp nie. Esselen het aan die Britse bevelvoerders gerapporteer dat hy verskeie male die strafkamp met veel sukses gebruik het.

Foto 11Rantsoene was ten alle tye onvoldoende. ’n Week se rantsoen het bestaan uit 7 lb meel, 4 oz sout, 6 oz koffie en 12 oz suiker. Kinders het die helfte daarvan gekry. Melk, vars groente, seep, kerse en toiletware was skaars en slegs voorsien wanneer die kampdokter dit as ’n “medical comfort” voorgeskryf het. Hierdie rantsoen verteenwoording ongeveer 29% van ’n volwassene se kalorievereistes, en slegs 15% van dié van ’n kind. Vleis was selde beskikbaar en die gesinne van vegtende kommandolede het niks gekry nie. Leipoldt skryf:

Hier struikel ’n kind wat te vroeg gebore was
Hier sterwe ’n oumens te swak vir die stryd
Hier kom ’n gekerm en geskree teen jou ore
Hier tel jy met angs elke tik van die tyd

Die Afrikanervroue in die kamp het by die Britse bevelvoerders gepleit om eerder ’n Brit as ’n “Engelschgezinde Afrikaner” as kamphoof te stuur. In November 1901 is die versoek toegestaan toe luitenant Alexander Bruce, voorheen van die Britse mediese korps in Upington, as kampkommandant aangestel is. Hy het binne ’n paar weke die hele kamp herorganiseer. Op sy aandrang is 180 skape geslag en 600 pruimpoedings gebak as Kersete vir die kampbewoners. Hy het ’n sportterrein in die middel van die kampterrein opgerig en ’n kolfblad vir krieket aangelê. Die eerste krieketwedstryd is op 9 November 1901 op die verjaarsdag van koning Edward gespeel. Die sportterrein wat as die Oval bekend staan, is met die dorpsuitleg van Irene behou en is vandag sowat 200 meter van die kampkerkhof geleë. Die ontwikkeling van ’n sportterrein was maar ’n klein deeltjie van Bruce se omvattende herstrukturering wat ook beter mediese sorg, kos en skuiling ingesluit het. In die sewe maande wat hy kampkommandant was (November 1901‒31 Mei 1902), het slegs 35 kinders gesterf, teenoor die byna 1000 kinders onder Esselen en Scholtz se bevel.

Foto 12

Emily Hobhouse

Emily Hobhouse was ’n Britse burger en die dogter van ’n Anglikaanse predikant. Tydens die oorlog kry sy toestemming om die konsentrasiekampe te besoek. Sy was geskok oor die haglike toestande, die wanvoeding, die gebrekkige sanitêre geriewe en die swak mediese behandeling. Sy het ’n fonds gestig om geld in te samel vir basiese kos en klere, beswaarskrifte aan die Britse bevelvoerders en parlement gerig oor die kamptoestande, en in die kampe self ook verpleeg. NJ van der Merwe was as 12-jarige seun in Norvalspont-konsentrasiekamp ’n ooggetuie toe sy ’n sterwende kind bygestaan het. Die beeld op die Nasionale Vrouemonument van die ma wat in die niet staar terwyl sy haar seun vashou wat pas gesterf het, is gemaak na aanleiding van ’n vertelling van Emily Hobhouse. Die Afrikaner het die hoogste eer wat hulle kon aan haar gebring deur haar stoflike oorskot na haar verassing aan die voet van die Nasionale Vrouemonument te plaas, saam met ander Afrikanerhelde soos MT Steyn, CR de Wet en JD Kestell. Die impak van die konsentrasiekampe op Afrikaners se psige was so groot dat FW de Klerk in sy outobiografie opgemerk het dat sy geslag in die sewentigerjare die eerste geslag Afrikaners was wat sonder pyn oor die oorlog kon praat.

Bittereinde-vrede

Foto 13

Generaal JH de la Rey

Teen 1902 het die Boeregeneraals besef die suksesse van die guerrilla-oorlog kan nie opweeg teen die lyding van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe nie. Op 31 Mei 1902 word die bittereinde-vrede in Vereeniging gesluit. De la Rey verwoord iets van die gemoedstemming tydens die vredesamesprekinge by Vereeniging: “U spreek van geloof – wat is geloof? Here, laat U wil, nie my wil, geskied! Ek vernietig my onder Gods wil!”

Foto 14

‘n Plaashuis word afgebrand as gevolg van die verskroeideaarde-beleid.

Die oorlog wat sowat twee en ’n halwe jaar geduur het, het Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond en sowat 20 000 Britse lewens gekos. Milner se verskroeideaarde-beleid het die twee voormalige Boererepublieke ekonomies vernietig. Bothaville, Bultfontein, Heilbron en Fouriesburg is in geheel verwoes. In Bethulie het daar slegs een bewoonbare huis oorgebly. In Frankfort het daar net agt huise bly staan. Dit was die geval in die meeste dorpe. Daar is bereken dat 30 000 plase tydens die oorlog afgebrand is. Voor die oorlog het Transvaal konserwatief bereken 1000 000 beeste, 200 000 perde en 1 500 000 skape gehad. Na die oorlog was die getalle onderskeidelik 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape. Die koste van die oorlog het vir die Republieke tussen £70 en 80 miljoen beloop. Die lewensverlies aan Boerekant word konserwatief op 35 000 bereken. Uiteindelik is 31 000 boere as krygsgevangenes na bannelingkampe soos Bermuda, Ceylon, Dalmanuta en St, Helena gestuur. Selfs Milner moes erken: “This place is a total wreck.”

Ramsay MacDonald, latere Eerste Minister van Brittanje, skryf in sy boek What I saw in South Africa dat na sý waarneming minstens twee uit elke drie Afrikaners deur die oorlog geruïneer is. In die hoofartikel in De Vereeniging van 23 September 1903 word vermeld dat daar na die oorlog 20 000 weeskinders in die twee gewese republieke was. Steyn, wat gedurende die oorlog deurentyd saam met die manskappe in die veld was, se gesondheid is in so mate verswak dat hy nooit weer ten volle herstel het nie.

Foto 15In 1904 het Kruger as ’n banneling in Clarens, Switserland, gesterf. Kort nadat die skoknuus van Kruger se afsterwe Suid-Afrika bereik het, skryf Smuts aan Emily Hobhouse: “Hy was sonder twyfel die grootste figuur, beide moreel en intellektueel, wat die Boere tot dusver opgelewer het. In sy yster wil en volharding, sy vasberadenheid om nooit op te gee nie, sy mistieke geloof in die hoër wêreld het hy die mees positiewe in almal van ons verteenwoordig. ’n Volk wat so ’n mens kan voortbring kan nooit ondergaan nie, en sal met God se hulp voortleef.”