Die museum is ongeveer 40 km van Pretoria, langs die ou pad van Pretoria na Bronkhorstspruit

Die museum is ongeveer 40 km van Pretoria, langs die ou pad van Pretoria na Bronkhorstspruit

Die Willem Prinsloo-landboumuseum wat deel vorm van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria, lê ongeveer 40 km oos van Pretoria, aan die ou Bronkhorstspruit-Pretoria-pad. Hierdie museum is ’n nasionale landboumuseum wat die arbeidsveld van die hele land insljuit en die manifestasies van landbou-arbeid en -ontwikkeling, dus ons landboukultuur, stoflik en geestelik, wil weespieël.

Die ontstaan van die Willem Prinsloo-landboumuseum is te danke aan mevrou Miertjie le Roux (geb Prinsloo), wat ’n afstammeling is van Willem Prinsloo wat hom in 1888 op die plaas Kaalfontein, waarop onder meer die Landboumuseum geleë is, kom vestig het. Mevrou Le Roux, die huidige besitter van die plaas Kaalfontein, se oorlede broer, vader, grootvader en oorgrootvader (lg die eerste Prinsloo wat hom op hierdie plaas kom vestig het) het almal die naam Willem Petrus Prinsloo gehad. In 1976 het mevrou Prinsloo 16 ha van die plaas waarop die ou opstal en buitegeboue voorkom, aan die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum geskenk, met die versoek dat dit as ’n museum ontwikkel moet word. In 1980 het sy ongeveer tien hektaar tot hierdie skenking bygevoeg.

Die opening van die Willem Prinsloo-landboumuseum het op 29 Maart 1980 plaasgevind toe deit deur meneer Hendrik Schoeman, toenmalige Minister van Landbou, geopen is. By dié gleentheid het mevrou Le Roux ook ’n gedenkplaat teen die muur van die opstal waarin sy self grootgeword het, onthul. Die ou opstal op die plaas is in 1882 gedurende die oorlog teen die Ndebele-stam van Mapog deur Bap Massyn en Koos Koekemoer van Witfontein, Bronkhorstspruit, gebou. Hier het die Prinsloos tot in 1970 gewoon.

Genoemde opstal met sy buitegeboue vorm die historiese gedeelte van die museum. Om praktiese oorwegings is ’n deel van die Landboumuseumterrein afgesonder vir ’n moderne hoofgebou met kafeteria, geriewe en groot uitstalsale. In die uitstalsale word uitstalkings aangebied oor die geskiedenis van die landbou in Suid-Afrika, en ook oor die ontwikkeling van die verskillende fasette van veeteelt en akkerbou in die besonder. ’n Groot hoeveelheid ou landbougereedskap wat menige besoeker met heimwee oor sy kinderdae vervul, word ook vertoon.

Lokomotief klein Trekker kleinDie Willem Prinsloo-landboumuseum is tans ’n baie gewilde opelugmuseum wat deur groot getalle besoekers van oor die hele land besoek word. ’n Groot hoeveelheid demonstrasies word van tyd tot tyd by die Landboumuseum aangebied. Hieronder is die melk van koeie, botterkarring, broodbak in die buiteoond, seepkook, koffiebrand en -maal, kerse maak, ensovoorts. Die Museum het in die besonder bekend geword vir die mampoer en witblits wat daar gestook en ook verkoop word. Duisende leerlinge besoek die museum jaarliks om hier te kom hoe daar op ’n tradisionele Boereplaas geboer is. Menige kind sien hier vir die eerste keer hoe ’n koei gemelk en ’n skaap geskeer word.

Die Landboumuseum het in die kort bestek van sy bestaan reeds ’n gevestigde bymekaarkomplek van die Afrikaner geword. Kultuurfeeste word gereeld deur die Museum aangebied en Republiekfees- en Geloftefeesaanbiedings het reeds ’n instelling geword.

Die Trekos-beeldgroep

Op 12 November 1988, op ’n sonnige Saterdagoggend, is die Trekos-beeldgroep deur staatspresident PW Botha onthul. Hierdie treffende beeld is aangebring voor die hoofingang van die Willem Prinsloo-landboumuseum.

Die lewensgrootte beeldgroep uit brons, geskep deur die beeldhouer Phil Minnaar, bestaan juit twee osse wat in ’n dramatiese, aksiebelaaide trekaksie gestol is. Dit is asof ’n mens kan sien hoe die twee osse met gespanne spiere en swaaiende koppe teen die juk beur. Die trekketting is aan ’n granietrots gekoppel. Hierdie rots is geskenk deur die bekende veekundige, professor Jan Bonsma. Dit is by geleentheid deur sy studente aan die Universiteit van Pretoria aan hom geskenk. ’n Klip-gemesselde voetstuk van 4 m x 2,8 m, met ’n effense helling, vorm die basis van die beeldgroep.

Twee Afrikanerosse wat deur die bekende beesteteler, meneer Henning van Aswegen, aan die Willem Prinsloo-museum geskenk is, het as modelle gedien. Aanpassings is deur die beeldhouer gemaak sodat die een os  ’n tipiese Groot Trek-os voorstel, en die ander ’n meer moderne Afrikanertipe os. Dit simboliseeer  die aansluiting van die verlede by die hede.

Die Trekos-beeldgroep

Die Trekos-beeldgroep

Krag en diensbaarheid is die twee hoofeienskappe van die trekos wat deur die beeldgroep vergestalt word. Die rots simboliseer die gebondenheid aan die aarde en die onverganklikheid daarvan. Die koppeling van die osse met die rots en die grond dui op die verband met die landbou en die landbouer – en die diens van die trekos aan die landbou.

Op ’n koperplaat voor op die voetstuk van die beeldgroep staan die woorde:

Trekos-beeldgroep onthul deur die Staatspresident
mnr. P.W. Botha
op 12 November 1988.

’n Ander koperplaat aan die sykant van die voetstuk het dié woorde:

Opgerig deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Land-
boukultuur om eer aan die trekos te betoon vir sy rol in die
ontwikkeling van Suid-Afrika.
Beeldhouer: Phil Minnaar

In sy onthullingswoord het die Staatspresident gesê: “Ons is vandag hier om ’n ereskuld te betaal aan die trekos se bydrae. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die vestiging van die Blankes in die  binneland van Suid-Afrika.” President Botha het verder gesê die boodskap van die trekos virdie huidige Suid-Afrika is die les van spanwerk en eendragtigheid. Die onthullingsfunksie het saamgeval met die beëindiging van die  FAK se Noordwes-trek op 12 November by die Willem Prinsloo-landboumuseum. By dié geleentheid het die FAK se Dirkie Uys-wa, ’n honder-jaar-oue kakebeenwa, wat ook die 1938-Dirkie Uys-trek in die Kaap waargeneem het, ook aan die feesverrigtinge deelgeneem.

Kort na sy stigting in 1980 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Landboukultuur besluit om aandag te skenk aan die belangrike rol van die trekos in die ontwikkeling van Suid-Afrika. Daar is besluit om ’n standbeeld ter ere van die trekos te laat oprig en ’n publikasie in verband met die trekos, deur meneer DJ Bosman, Voorsitter van die Instituut, het intussen verskyn.

Dit is betekenisvol dat die trekos ook in 1988, die jaar waarin die 150-jarige herdenkingvan die Groot Trek gevier is, sy erkenning gekry het vir die rol wat hy in die oopmaak van Suid-Afirka gspeel het. Hierdei standbeeld sal die geslagte wat kom altyd hieraan herinner.

Bron: Cronjé, B. 1989. Willem Prinsloo-landboumuseum. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 211–213.