Foto 24

In die tuin voor die Burgersentrum in Lesliestraat, Vereeniging

Reeds in 1930 het die gedagte van ’n monument om die Vrede van Vereeniging in herinnering te bring by die toenmalige voorsitter van die Vereenigingse Afrikaanse Kultuurvereniging ontstaan. Dit was egter die inisiatief van die bekende doktor SH Pellissier in 1952 wat sake aan die gang gekry het vir die oprigting van hierdie besondere monument, waarvan doktor HF Verwoerd by geleentheid gesê het: “Dit is selde indien ooit dat op ’n plek van ’n nederlaag ’n monument opgerig word. Dit is egter nie die nederlaag wat herdenk word nie, maar die vreugde wat uit die smart van nederlaag gebore is.”

Op 31 Mei 1952, vyftig jaar na die Vrede van Vereeniging, is ’n vergadering in Vereeniging gehou waar verteenwoordigers van Afrikaanse Kultuurvereniginge en enkele Oudstryders besluit het om ’n monument op te rig wat die herrysenis, geloof en toekoms van die Afrikanervolk uitbeeld. ’n Gedenkkomitee is saamgestel, met meneer H Wolff Kruger as voorsitter en dominee Lod Spies as sekretaris. Doktor SH Pellissier was ook lid van die komitee en hoofsaaklik verantwoordelik vir die insameling van die geld.

Die komitee het die ontwerp van Coert Steynberg aanvaar en die monument ten ’n totale koste van R50 000 in ’n openbare park aan die westekant van die Johannesburg-pad en Duncanville opgerig. Die terrein is deur die Stadsraad van Vereeniging geskenk. In 1986 het die Beheerraad onder voorsitterskap van meneer Freddie Steyn en die Stadsraad van Vereeniging besluit om die monument teen ’n koste van R300 000 na die tuin voor die Burgersentrum te verskuif. Dit het op 31 Mei 1988 ’n werklikheid geword.

Die monument stel ’n jong Boerekryger voor wat erg gewond op sy linkersy lê. Uit die wond in sy hart rys ’n simboliese figuur triomfantlik omhoog, die regterarm hemelwaarts gerig. Die sterwende figuur is uit blou graniet gebeeldhou; die skraal, maar kragtige abstrakte figuur wat uit sy hart groei, is van vlekvrye staal, wat sowel geestelike suiwering as ’n gees van staal versinnebeeld. Die twee figure rus op ’n hoë voetstuk, met ’n festoen aan die voorkant. Laasgenoemde bestaan uit die geweer, die leë bandelier en die hoed van die Boerekryger, alles in brons. Dit dui op die einde van die oorlog, die vrede (met die wapen wat neergelê is), maar ook rou oor die verlies van onafhanklikheid (die krans). Aan weerskante van die voetstuk is die wapens van die Republieke in reliëf uitgebeitel. Bokant die festoen staan die enigste woorde op die gedenkteken: Gewond – maar onoorwonne. Vereeniging 31 Mei 1902.

Die onthulling van die monument is op 10 Oktober 1961 deur doktor HF Verwoerd waargeneem. Hy het gesê dat dit nie bedoel is om die Engelssprekendes in Suid-Afrika seer te maak nie; dat daar geen wraaksugtige motiewe agter die oprigting daarvan skuil nie. “Die Vryheidsmonument op Vereeniging”, was sy woorde, “is nie net ’n simbool van die vegter nie. Dit is nie net die simbool van ’n volk uit wie oorwinning kan spruit nie, maar dit moet ’n simbool bly van oorwinning vir elke mens vorentoe.”

Met hierdie gedenkteken is daar vir die eerste keer van meer as een medium gebruik gemaak, naamlik van graniet en roesvry staal. Die beeldhouer het oor die gebruik van roesvry staal verduidelik dat dit ook simbolies is van die nywerheidsontwikkeling van Vereeniging, gebaseer op staal.

Die voetstuk van graniet is 2,95 m hoog. Die basis is 0,5 m hoog en 3,13 x 1,45 m groot. Bo-op die basis is die voetstuk se mate 2,90 x 1,23 m.

Aan doktor Verwoerd is ’n replika van die monument oorhandig. Die replika is ongeveer 550 mm hoog. Honderde van die replikas is later deur die Afrikaanse Volkspelebeweging verkoop en word vandag dikwels by skole en ander instellings opgemerk.

Die Vrede van Vereeniging is een van die sleutelmomente in die geskiedenis van die Afrikaner. Dit het die Boererepublieke se driejarige stryd teen Brittanje om hul onafhanklikheid te behou, finaal beëindig. Verskeie onderhandelings met die Britte gedurende die oorlog om die stryd te staak, het misluk, omdat die Boereleiers aangedring het op die behoud van die Republieke se onafhanklikheid. Die materiële verwoesting van plase en die ontberinge van vroue en kinders in konsentrasiekampe het uiteindelik te veel geword veral vir die Transvaalse Boereleiers, en in April 1902 het hulle op Klerksdorp vergader en ten gunste van vrede met behoud van hul onafhanklikheid besluit. Die Britse onderhandelaars, lord Milner en lord Kitchener, het egter onverbiddelik aangedring op die prysgee van onafhanklikheid. Vanaf 15 Mei het dertig afgevaardigdes van elke republiek op Vereeniging met mekaar beraadslaag en daarna met Kitchener en Milner. Dit het voortgeduur tot 27 Mei, toe die Britse regering uit Londen ’n ultimatum aan die Republieke gestel het: hulle moes ja of nee op die Britse voorstelle antwoord. Die oggend van 31 Mei is dit met 54 stemme teen 6 aanvaar. Dieselfde aand om 23h00 is die vredesverdrag in Melrose-huis, Pretoria, onderteken.

In die jare vorentoe sal die vredesgedenkteken die Afrikaner voortdurend herinner aan ’n vryheidstryd wat hy tydelik met die wapen verloor, maar danksy ’n gees wat onoorwinlikheid, op die lang duur gewen het. Die woord gewond op die voetstuk toon die verslaenheid aan van ’n volk wat sy onafhanklikheid verloor het; maar onoorwonne roep die geloof, hoop en moed wat uit die puin herrys het, in herinnering. Juis dit het daardie volk in staat gestel om skaars ’n halfeeu later weer sy volkome onafhanklikheid te proklameer. ’n Gebeurtenis wat smart en teleurstelling bring, louter ’n volk dikwels en staal hom vir hernude bouwerk aan ’n hoër ideaal. Dit is die boodskap van die gedenkteken op Vereeniging.

 Bron: Brits, J.P. 1989. Vredesmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 130–131.