TF Burgers klein

TF Burgers-standbeeld in Burgerspark wat tussen Van der Walt- en Andriesstraat geleë is

Thomas Francois Burgers het in 1872 Staatspresident van die ZAR geword, ’n amp wat hy met ’n mate van omstredenheid beklee het tot April 1877, toe die Zuid-Afrikaansche Republiek deur Brittanje geannekseer is.

In die Ou Begraafplaas van Pretoria, binne die terrein wat vandag die Heldeakker genoem word, staan hierdie grafsteen, ’n massiewe reghoekige granietblok wat die hele graf bedek. Daarop is die Transvaalse wapen uitgegraveer met die spreuk Eendragt maakt magt en daaronder die woorde: Hier rust Thomas Francois Burgers, overleden 9 Dec. 1881. De Volksraad der Z.A. Republiek bereide deze rustplaats voor haren vroegeren Staatspresident van 1872 tot 1877. Door zijne vrienden N.J. en J.S. Smit. En daaronder: Hier rust ook zijn geliefde vrouw, Mary Bryson. Overleden 26 April 1929. Ter nagedachtenis aan onze geliefde ouders.

By die graf het president Kruger die woord gevoer en daarop gewys dat hy (pres Burgers) sy plig teenoor die Staat gedurende sy presidentskap getrou en ywerig gedoen het.

Gebore op 15 April 1834 in die distrik Graaff-Reinet, was hy 47 jaar toe hy op Richmond, KP, gesterf het.

Wanneer die grafsteen opgerig is, word nie vermeld nie. Waarskynlik nie lank nadat president Burgers hier op 26 November 1985 herbegrawe is nie. Dat die Volksraad vir die herbegrafnis verantwoordelik was, blyk uit die opskrif. Die woorde Door zijne vrienden N.J. en J.S. Smit laat mens ’n bietjie onseker. Of die twee vriende het by die Volksraad daarop aangedring dat die herbegrafnis moet plaasvind, of die grafsteen is deur hulle opgerig. Albei was invloedryke persone, naamlik generaal NJ Smit was in daardie stadium vise-president, en JS Smit (sy broer) was Spoorwegkommissaris.

’n Standbeeld van president Burgers staan in Burgerspark in Pretoria. Die park, wat vroeër die botaniese tuin in Pretoria was en wat hy self help oprig het, is na hom vernoem.

Die bronsbeeld van lewensgrootte, geskep deur MK Kottler, is in 1953 deur professor SP Engelbrecht onthul. Dit is deur die Stadsraad van Pretoria opgerig met geld wat deur die president se dogter, wyle mevrou MA Jorissen, vir die doel geskenk is. Op die voetstuk is die wapen van die  Zuid-Afrikaansche Republiek aangebring tussen die woorde: President Thomas Francois Burgers. Daaronder verskyn die volgende:

Ik Geloofd in de school der beproeving wordt een volk gevormd.

Hoe die oordeel oor president Burgers se presidentskap ook uiteenloop, van bewondering tot verguising, vir almal was sy uiteinde ongetwyfeld baie tragies. Hy het in 1872 met groot ideale na Transvaal gekom. Hy het ’n aantal vernuwings ingevoer. Maar hy het ook met groot probleme te kampe gehad: geldskaarste, die Sekhukhune-oorlog en boonop die opdringende Britse imperialisme. Te midde hiervan het hy die vertroue van ’n gedeelte van die volk verloor. Hy was sy tyd vooruit, lui ’n ander verduideliking. Hy was nie opgewasse vir die listige diplomasie van Shepstone nie en moes toesien hoe die staat sy onafhanklikheid verloor.

Daarna het hy, ’n siek en gebroke man, met sy gesin Pretoria verlaat. Eers het hy nog in Kaapstad vertwyfelde pogings aangewend om iets te red, maar ten slotte besef dat hy hom aan die politiek moet onttrek. Sy gesondheid het al hoe meer agteruit gegaan; daar was geen geld nie, net skuld, en hy moes sy groot gesin onderhou. Ten slotte het hulle op Hanover, by sy ou gemeente, tereggekom en daar het hy agtereenvolgens op die huurplase De Dammen, Zoetvlei en Schanskraal probeer boer, maar niks wou goed gaan nie. Hy sterf op Richmond en is daar begrawe. Na enkele jare was sy graf vervalle, en die stoflike oorskot is in 1888 op die plaas Zoetvlei herbegrawe. Vandaar is dit in 1895 na Pretoria oorgebring. Vandag is die Heldeakker ’n paslike rusplek vir iemand wat ’n rol in ’n belangrike periode van ons geskiedenis gespeel het.

Bron: Spies, F.J. d T. 1989. T.F. Burgers. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 180–181.