Foto 23

Dit staan langs die Burgermonument op die Burgerplein, Burgersdorp

Die distrik Burgersdorp in Noordoos-Kaapland het ’n belangrike rol gespeel in die stryd om die erkenning van Nederlands. Daaraan herinner die Taalmonument op die Burgerplein van Burgersdorp.

Na die Tweede Britse besetting van die Kaapkolonie in 1806 het Engels die enigste amptelike taal van die Kolonie geword. In 1854, toe die Kaapkolonie Verteenwoordigende Bestuur verkry het, is daar in die grondwet bepaal dat net Engels in die parlement gebruik mag word. In 1856 het JA Kruger, verteenwoordiger vir die kiesafdeling Albert (waarbinne Burgersdorp geleë was), toestemming gevra om die Wetgewende Vergadering in Nederlands toe te spreek.

Hoewel sy versoek geweier is, was dit die begin van ’n kragtige beweging om Nederlands as amptelike taal deur die Kaapse Parlement erken te kry. Na etlike petisies het Burgersdorp dan ook hierin geslaag. In hierdie stryd het JH (Onze Jan) Hofmeyr ’n belangrike rol gespeel. Na ’n mislukte mosie in 1881 het hy daarin geslaag om op 9 Junie 1882 die nodige wysiging in die grondwet te verkry waardeur Nederlands voortaan in die Parlement gebesig kon word. Die eerste lid wat van hierdie voorreg gebruik gemaak het, was JG Luttig, van Beaufort-Wes.

Op 26 en 27 Junie 1882 is op Burgersdorp fees gevier oor die nuwe vryheid van die Nederlandse taal. Met finansiële steun uit die hele land, het Burgersdorp daartoe oorgegaan om ’n monument, die Taalmonument, op te rig ter herdenking van hierdie belangrike gebeurtenis. Hierdie monument is op 18 Januarie 1893 onthul deur DP van den Heever voorsitter van die oprigtingskomitee. By die onthulling was onder andere teenwoordig JH Hofmeyr, SJ du Toit wat ook as feesredenaar opgetree het, en verteenwoordigers uit die Vrystaat en Transvaal.

Die monument, gebou deur meneer SR Ogend, van Aliwal-Noord, het ongeveer £430 (R860) gekos. Op ’n groot, hoë voetstuk van sandsteen staan ’n lewensgroot beeld van ’n vrou met ’n los kleed om. Die beeld is in Italië gemaak van wit Carraramarmer. In haar linkerhand hou sy ’n tablet waarop die woorde: Vryheid voor de Hollandse taal uitgegraveer is. Die wysvinger van haar regterhand is “op gracieuse wijze” na die leuse gerig. By haar voete is daar ’n lam en ’n aantal druiwetrosse, wat die twee vernaamste nywerhede van Suid-Afrika voorstel. Die lam simboliseer ook die “vreedzaamheid” waarmee die oorwinning behaal is.

Op die voetstuk is groot marmerplate met verdere inskripsies daarop aangebring. Aan die voorkant staan die volgende: Eerste Volksbesluit voor de Hollandsche taal te Burgersdorp in Juni, 1879, op voorstel van den Weledelen heer DP van den Heever, LWR. Eerste acte van Hollandsch in’t Parlement, Acte No 1, 1882. Vorsteller JH Hofmeyr, LWV. Eerste kandidaat der nationale Herleving, J Joubert, LWV. Eerste Hollandsch spreker in’t Parlement, J Luttig, LWV.

Aan die regterkant staan: Bewaar gij onze taal o Heer, tot uw en onzer Vad’ren eer.

Agter staan: Voor Moedertaal en Vaderland, staat hier deez-eerezuil geplant. Onthuld 1893 namen der Comiteleden tot oprigting van den steen: DP van den Heever, LWR, Voorzitter J Joubert, LWV, JDP van den Heever, WA Smit, N Kruger, JC van den Heever, Procureur.

Aan die linkerkant staan: Erkend is nu de Moedertaal in Raad, kantoor, en schoollokaal.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog het vandale die beeld geskend. Die wysvinger en neus is afgebreek en later is die beeld van die voetstuk afgestoot en die arm en ook die gesig verwyder. Na die oorlog het lord Milner die monument heeltemal laat afbreek en verwyder.

Die inwoners van Burgersdorp het geëis dat die Britse regering hul monument teruggee. Omdat die oorspronklike beeld nie opgespoor kon word nie, het die Britse Owerheid in 1907 ’n replika op dieselfde plek op die Kerkplein laat oprig. Met die onthulling van die nuwe monument is daar op 24 en 24 Mei 1907 sommer ook ’n taalfees gehou – die 25-jarige herdenking van die erkenning van Nederlands deur die Kaapse Parlement. Feesvierings het rondom die Taalmonument gesentreer. Oudpresident MT Steyn het as een van die sprekers opgetree en dr DF Malherbe as hoofredenaar.

Hierdie monument is in 1933 na die Markplein (tans die Burgerplein) verskuif en in 1937 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. In 1939 is die vermiste beeld in King William’s Town opgegrawe, maar die kop en een arm was weg. Die beeld is na Burgersdorp teruggebring en in 1957 net so in sy beskadigde toestand agter die replika opgerig. Die replika is later na die voorportaal van Burgersdorp se nuwe biblioteek verskuif en die herstelde oorspronklike monument is langs die Burgermonument op die Burgerplein opgerig.

Sedert 1882 is Nederlands al hoe meer in die onderwys en staatsdiens erken en in 1890 is ’n Taalkongres gehou, terwyl die Taalbond in 1891 gestig is. Burgersdorp het die middelpunt van die taalveldtog geword en belangrike kongresse van die Taalbond is hier gehou.

Die Taalmonument op Burgersdorp versinnebeeld die oorwinning van 1882. Danksy die beweging vanuit Burgersdorp is Nederlands reeds op so ’n vroeë tydstip as debatstaal deur die Kaapse Parlement erken. Dit het die nasionaliteitsgevoel van die Afrikaner versterk en die latere stryd om erkenning van Nederlands as amptelike taal in 1910 vergemaklik. Hierdie stryd het uiteindelik uitgeloop op die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal naas Engels in 1925 toe Nederlands deur Afrikaans vervang is in die Grondwet. In Oktober 1982 is ’n eeufees op Burgersdorp gehou om die gebeurtenisse van vroeër te herdenk. Outydse kleredrag is aangetrek, ’n militêre parade is gehou, ’n gedenkseël is uitgegee, DH Cilliers het ’n boek gepubliseer, ’n herhalingsete van 1882 is amptelik aangebied en ’n museumkompleks is ontwikkel. Een van die feesredenaars was professor Marius Swart, terwyl minister G van N Viljoen ’n rede gehou het toe hy ’n herdenkingsplaat by Burgersplein onthul het.

Bron: NALN. 1989. Taalmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 74–75.