Spioenkop is ongeveer 20 km van Ladysmith op die pad na Bergville

Spioenkop is ongeveer 20 km van Ladysmith op die pad na Bergville

Die Slag by Spioenkop is gekenmerk deur weergalose dapperheid aan albei kante. In hierdie slag, wat in werklikheid van 17 tot 27 Januarie 1900 geduur het, en as een van die hewigste gevegte van die Anglo-Boereoorlog beskou word, het die Britse leër die swaarste neerlaag van die ganse stryd gely.

Generaal Buller, van die Britse Natalse magte, moes die “Black Week” van Desember 1899, toe Britse soldate op verskeie plekke deuer die Boere militêr verneder is, uitwis. Sy plan was om weer eens te probeer om Ladysmith te ontset. Om sy roete hierheen te beveilig, wou hy eers Spioenkop in die Tabanyama-bergreeks suidewes van Ladysmith beset. In die nag van 23 Januarie 1900 slaag die Britte skitterend hierin. Generaal Louis Botha het egter dadelik tot herowering besluit. Die leier was kommandant Hendrik Prinsloo, van Carolina, bygestaan deur kommandant Rooi Daniël Opperman, van Pretoria. Ligdag was die Boere op die kruin en is daar met geweerkolf en gevelde bajonet geveg. Naderhand het 600 Boere teen 3000 Britte geveg. Vroegoggend het albei partye besluit om te vertrek, maar die Boereleiers het hulle manne kruin toe teruggedryf en die Vierkleur gehys. Aan Britse aktn het meer as 1000 en aan Boerekant 60 man gesneuwel.

In 1940 is die Tweede Veldmagbataljon as deel van die Tweede SA Infanteriebrigade na Ladysmith, Natal, gestuur vir sy opleiding.

Die bataljon het onder meer ’n noukeurige taktiese studie van die Slag van Spioenkop gemaak. Dit het opgeval dat nie minder nie as drie monumente vir die Britse soldate opgerig is. Daarenteen was Boeregrafte verwaarloos en enkeles wat naby die Britte lê, het die volgende treffende opskrif gedra: Here lies a brave Boer.

Die gedagte het toe ontstaan dat die bataljon graag iets wou doen om by wyse van ’n geskikte monument hulde te bring aan hierdie dapperes. ’n Fonds is gestig waartoe al die lede van die eenheid vrywillig kon bydra. Afrikaans- sowel as Engelssprekendes het mildelik gegee en ’n trustfonds, onder beheer van ’n komitee wat spesiaal vir die doel benoem is, is gestig. Die stukrag agter die oprigting van hierdie gedenkteken was kolonel CL Engelbrecht, van die Tweede Veldmagbataljon, wat as voorsitter van die Spioenkopmonumentkomitee die vlam brandende gehou en fondse ingesamel het. Hy is trou deur kolonel HF Prinsloo, die seun van die held, kommandant HF Prinsloo va Carolina-kommando ondersteun. In 1962, na ongeveer 20 jaar, is besluit dat die tyd ryp is om oor te gaan tot die oprigting van die monument.

Die monument, ’n vierkantige suil van ongeveer 5,5 m, gebou van gekapte graniet, staan op die noordelike helling van die plato en kyk af oor die noordelike teogang tot die slagveld. Aan die noordelike en suidelike kante van die suil is die name gegraveer van die 106 burgers en offisiere wat in die gevegte voor en gedurende die slag op die kop gesneuwel het. Die staatswapens van die twee Boererepublieke is aan die westelike en oostelike sy van die monument aangebring.

In alle beskeidenheid het die komitee die monument in 1964 “aan die volk van Suid-Afrika oorhandig om te dien as ’n huldeblyk en ter herinnering aan  die onverskrokke en dapper burgers wat hulle lewe opgeoffer het op die slagveld van Spioenkop”.

Die monument is op Saterdag 11 Julie 1964 na ’n wydingstoespraak deur staatspresident CR Swart onthul. Die verwelkoming is deur kolonel CL Engelbrecht gedoen, terwyl die Skriflesing en gebed deur dominee GR van Rooyen waargeneem is. ’n Verdere toespraak is gelewer deur generaal-majoor FLA Buchanan. Gewyde liedere is gesiing en die musiek is uitgevoer deur die SA Leërorkes.

Talle kranse is gelê, onder meer deur staatspresident CR Swart, kommandant-generaal PH Grobbelaar en die Natalse administrateur, meneer T Gerdener, en ook talle Suid-Afrikaanse kommando’s.

Die program is moontlik gemaak deur die Afrikaanse Kultuurvereniging Volk en Verdediging aan wie die monument vir veilige bewaring opgedra is.

Bron: Bakkes, C.M. 1989. Spioenkop. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 234–235.