Raadsaal Pretoria 1 klein

Die vooraansig van die Raadsaal

Nadat Brittanje in 1852 die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier erken het, het die politieke ontwikkeling van die oor-Vaalse Voortrekkers aarselend begin. Die rede was dat daar aansienlike politieke verdeeldheid onder die Voortrekkers was, en dit het onder meer veroorsaak dat nie begin kon word om ’n regeringsgebou op te rig nie. Teen 1860 was die politieke geskille in ’n groot mate bygelê, en op 1 Mei 1860 het Pretoria die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword. Teen 1867 is ’n langwerpige grasdakgebou op Kerkplein voltooi wat gebruik is vir vergaderings van die Volksraad.

Nadat goud in 1886 op die Witwatersrand ontdek is, het die ZAR ’n tyd van ekonomiese welvaart ondervind wat die Transvaalse regering mettertyd in staat gestel het om op verskeie plekke in Transvaal imposante staatsgeboue op te rig. Hierdie ontwikkeling is verder bevorder deurdat die regering in 1887 die dienste bekom het van Sytze Wierda wat as staatsargitek aangestel is. Kort na sy aanstelling, het Wierda opdrag ontvang om ’n nuwe staatsgebou te ontwerp waar die Volksraad bymekaar kan kom.

Teen 1888 was die ontwerp van die nuwe regeringsetel in die Italiaans-Renaissance-styl voltooi. Dit sou uit twee verdiepings bestaan en het benewens die Volksraadsaal, ook vir ’n aantal kantore voorsiening gemaak. Die tender vir die gebou is vir £82 000 (R164 000) aan JJ Kirkness toegeken, wat spoedig met die bouwerk begin het sodat president Paul Kruger reeds op 6 Mei 1889 die hoeksteenlegging kon waarneem. In sy toespraak by hierdie geleentheid het Kruger beklemtoon dat die snelle ontwikkeling van die ZAR gelei het tot ’n toename in behoeftes, onder meer ook meer amptenare. Daarbenewens sou die nuwe gebou die waardigheid van die staat beklemtoon.

Die oprigting van ’n gebou van hierdie grootte en gehalte het vir Kirkness besondere probleme geskep. Geskikte boumateriaal, veral hout, was moeilik bekombaar. Gevolglik is die meeste van die hout wat vir dekoratiewe redes nodig was, uit Noorweë bestel. Daarvandaan is dit eers na Kirkness se skoonvader se timmermanswinkel op die Orkney-eilande geneem, waar dit verwerk is. Daarna is dit per skip na Durban vervoer, waarvandaan dit na Pretoria gestuur is. Die bakstene is gebrand by Kirkness se steenmakery naby die huidige Groenkloof, terwyl die nodige sandsteen by die huidige Pyramidstasie uitgehaal is. Die leiklip vir die fondamente het uit Hammanskraal se omgewing gekom.

Die bouwerk het goed gevorder en teen 1890 kon die Volksraadsaal en die aangrensende vertrekke in tydelike gereedheid vir die komende Volksraadsitting gebring word. Met hierdie sitting is die politieke eise bespreek van die groot getalle vreemdelinge, bekend as “uitlanders”, wat die Republiek ná die ontdekking van goud binnegestroom het. In ’n poging om die Uitlanders se politieke eise tegemoet te kom, het die Volksraad besluit om ’n sogenaamde Tweede Volksraad in te stel waarin die Buitelanders sitting kon hê.

Ten einde vir die Tweede Volksraad huisvesting te bied, is ook besluit om ’n derde verdieping met ’n saal tot die gebou toe te voeg. Na die sitting het Wierda op ’n besondere geslaagde wyse die derde verdieping ontwerp om by die res van die gebou aan te pas en teen 1891 was die bouwerk afgehandel. ’n Telefoonstelsel is deur die kontrakteur, PC Paff, geïnstalleer, en in 1892 is die Raadsaal sonder enige amptelike seremonie in gebruik geneem.

Na sy voltooiing het die Raadsaal op die grondvloer, net links van die hoofingang, voorsiening gemaak vir die twee kantore van die Staatspresident, ’n raadskamer vir die Staatsekretaris, Kommandant-Generaal en ander senior amptenare. Op die eerste verdieping was daar, benewens die Volksraadsaal, ook ’n leeskamer, koffiekamers en kantore van die staatsdepartemente.

Mettertyd is daar nog etlike verbeteringe aan die Raadsaal aangebring. In 1893 is ’n kontrak vir die aanbring van elektriese ligte aan die firma Delfos en Kie toegeken. In dieselfde jaar is vier klokke en ’n slaguurwerk aangebring, wat van die firma H Beijes van Hildesheim in Duitsland teen ’n koste van £1048 (R2100) aangekoop is. Dit gee die tyd halfuurliks aan.

Bo-op die toring is ’n vrouebeeld aangebring wat vryheid simboliseer. Volgens oorlewering, het die beeld aanvanklik geen hoofbedekking gehad nie, en daarmee was president Kruger nie gediend nie. Gevolglik is ’n helm vervaardig wat met klinknaels vasgeheg is.

Die wapen op die voorgewel van die Raadsaal is nie die oorspronklike nie. Die oorspronklike wapen is in 1891 deur Anton van Wouw uit sandsteen gekap en op die voorgewel aangebring. Nadat Pretoria deur die Britse troepe beset is, is in 1901 besluit om die bestaande wapen deur die Britse wapen te vervang. Gevolglik is die sandsteen waarop die ZAR-wapen was, gelyk gekap waarna die Britse wapen aangebring is. Met verloop van tyd was daar talle versoeke dat die ou republikeinse wapen in ere herstel moet word. Dit is in 1954 gedoen en die Britse wapen, uitgebeitel op die sandsteen van die eerste ZAR-wapen, word tans veilig deur die Transvaalse Provinsiale Museumdiens bewaar.

In die Raadsaal is daar ’n hele aantal interessante en waardevolle voorwerpe. Die meubels vir die gebou is in 1894 bestel van die firma Maple en Kie in Londen. Dit is meestal van okkerneuthout gemaak en is goeie voorbeelde van voortreflike vakvernuf. Verskeie kosbare kunswerke word ook binne die gebou aangetref. Afgesien van ’n versameling bronsbeelde deur Anton van Wouw, is daar ook twee stillewe-skilderye deur hom en werke van JH Pierneef, WH Coetzer en ander kunstenaars. Ander interessante voorwerpe uit  die tyd van die ZAR is onder meer ’n koper kwispedoor, horlosies en geelkoper brandkrane, terwyl metaalpenne in een van die gange aangetref word waarvolgens die landmeterkettings van vervloë dae geyk is.

Die Raadsaal is aan die suidekant van Kerkplein geleë

Die Raadsaal is aan die suidekant van Kerkplein geleë

Deur talle dekades heen het die Raadsaal gedeel in die lief en leed van die Afrikanervolk. Op die balkon van die Raadsaal is president Paul Kruger in 1893 en 1898 aan sy volk voortgestel; in 1900 is die Britse vlag na die oorgawe van Pretoria daar gehys. In 1910 is die proklamasie, waarvolgens die vier Britse kolonies saamgesnoer is as die Unie van Suid-Afrika, ewe-eens van sy balkon gelees. Gedurende 1938, met die Simboliese Ossewatrek, is die ossewaens van die balkon af verwelkom voordat hulle na die feesterrein vertrek het waar die hoeksteen van die Voortrekkermonument gelê is. Byna tien jaar later, in 1949, het die Rapportryers op Kerkplein voor die Raadsaal bymekaar gekom, voordat hulle vertrek het na die inwydingsfees van die Voortrekkermonument. Die vreugdevolste gebeurtenis waarvan die Raadsaal getuie was, was waarskynlik op 31 Mei 1961 – toe die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, advokaat CR Swart, aan die oorkant van Kerkplein op die trap van die Paleis van Justisie, aan die volk van Suid-Afrika voorgestel is.

Bron: Jooste, G.J. 1989. Raadsaal. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 185–187.