Ou Raadsaal Bloemfontein - gebruik as hospitaal 1900 tot 1901

Die Ou Raadsaal in Bloemfontein

Die Vierde Raadsaal is ’n simbool van die lewe en ideale van die Vrystaatse Republiek en sy bloeitydperk. Hierdie gebou is die hoogtepunt van die ou Republikeinse boukuns in die Vrystaat.

Die Vrystaatse Volksraad het agtereenvolgens in vier raadsale in Bloemfontein vergader. Die eerste ou Raadsaaltjie is in 1849 deur majoor HD Warden as skool opgerig.

Die Eerste Raadsaalgebou in Bloemfontein is sonder twyfel die belangrikste historiese gebou in die Oranje-Vrystaat en vanuit hom het die Vrystaatse administrasie, kerk en onderwys ontplooi. Teen 1849 was die gebou reeds voltooi en is dit vir skool sowel as ’n kerk gebruik. Vanaf 1849 tot 1852 het die Wetgewende Raad van die Oranjerivier Soewereiniteit hier vergader en ná 1854 het die saal as ’n raadsaal, staatskantoor en skool diens gedoen. Die eerste twee Vrystaatse presidente, JP Hoffman en JN Boshoff, is ook in die gebou beëdig.

In 1936 is die Eerste Raadsaal in St. Georgestraat tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dié grasdakgeboutjie met sy lang wit mure, misvloer en twee sygewels is gerestoureer en as die Eerste Raadsaalmuseum ingerig.

Vroeg in 1856 is die winkel van Henry Paddison gehuur om as Raadsaal en Goewermentskantoor te dien. Dit was ’n enkelverdiepinggebou met ’n brakdak, lae plafonne en klei- of plaveiklipvloere. ’n Groot vertrek het diens gedoen as Tweede Raadsaal.

Omdat hierdie geriewe te klein geword het, is daar in die Goewermentsgebou wat in 1877 voltooi is, voorsiening gemaak vir ’n ruimer en geriefliker lokaal vir die sittings van die Volksraad. Die Vrystaatse Volksraad het dan ook, sedert die voltooiing van die gebou in 1877 tot in 1893, toe die Vierde Raadsaal voltooi is, in die Derde Raadsaal in die Ou Goewermentsgebou aan die bopunt van Maitlandstraat vergader.

Teen 1880 was daar weer ’n tekort aan ruimte en is daar besluit om ’n nuwe Raadsaal te bou. ’n Prysvraag vir die beste ontwerp is uitgeskryf en die prys is toegeken aan Lennox Canning, van Queenstown, wat ook die Presidensie ontwerp het.

Op 27 Junie 1890 het president FW Reitz die hoeksteen van die Vierde Raadsaal gelê en drie jaar later is die gebou voltooi. Die totale oprigtingskoste van die saal met bykomende komitee-, rus- en leeskamers, het ongeveer £40 000 (R80 000) bedra. Op 5 Junie 1893, in teenwoordigheid van nagenoeg 700 mense, is die gebou feestelik in gebruik geneem. President FW Reitz het die inwyding waargeneem en die deur van die nuwe Raadsaal met ’n silwer sleutel oopgesluit.

In 1896 is die groot betonwapen van die Vrystaatse Republiek op die voorgewel van die Raadsaal aangebring. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog is die Raadsaal in ’n militêre hospitaal omskep. In 1907 het die Oranjerivierkolonie selfregering verkry en hierna het die Wetgewende Vergadering in die Raadsaal byeengekom. Aangesien daar te min ruimte was om die Wetgewende Raad of Hoërhuis ook te huisves, is die oostelike blok, wat argitektonies goed met die ou gebou harmonieer, vir hierdie doel aangebou.

Die tweede sitting van die Nasionale Konvensie, wat oor die vereniging van die vier kolonies moes beraadslaag, het in Mei 1909 in die Vierde Raadsaal plaasgevind. Ná die Uniewording in 1910 het die Vierde Raadsaal die setel van die Vrystaatse Provinsiale Raad geword. Tot in 1929 het die gebou ook die Appèlhof gehuisves.

Die gebou is ’n mooi voorbeeld van die neo-Renaissance-styl en besit kenmerke sowel van die Griekse as van die Romeinse boustyl. Treetjies lei na ’n portiek met suilegange van bewerkte klip. Die vernaamste kenmerk van die gebou is die statige vooraansig en hoofingang wat met suilegange, loniese suile en fronton herinner aan ’n klassieke Griekse tempel.

Op die Griekse onderbou rus die agtkantige Romeinse koepeltoring met sy agt boogvormige openinge en sy vlagpaal. Aan die kante van die hoofingang is die grootste gedeelte van die gebou geleë – ’n langwerpige uitgerekte deel, versier met pilasters en borswerings van klip. Die klipwerk vorm ’n mooi teenstelling met die donkerrooi baksteenmuur.

Ook die interieur van die Raadsaal is indrukwekkend. Binnekant word die Griekse versierings voortgesit deur opeenvolgende gewelfde ruimtes met vloere van Devonshire-marmer, wat na die Raadskamer lei. Hierdie ruim en goed beligte vertrek word verfraai deur ryk versierings: die groot vlakke van die lang hoë mure word deur gegroefde pilasters met Korintiese kapitele gebreek. Bokant hierdie kapitele loop daar rondom die saal ’n pragtige tandlys met blompatrone en ook ’n kroonlys en fries. Die ruite van die vensters is van kleurglas waarop afwisselend die Vrystaatse wapen, ’n roset en ’n lier voorkom.

Die groot klassieke kompleks met sy grasperke, bome, blomtuine en beeldhouwerk word omring deur mooi versierde relings van ysterwerk en fyn afgewerkte hekke wat uit Parys ingevoer is.

Die Vierde Raadsaal is in 1951 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en in 1954 is ’n standbeeld van generaal CR de Wet, deur Coert Steynberg, op die noordwestelike hoek van die Raadsaal opgerig.

Bron: NALN. Raadsaal. 1989. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 86–87