Die Pioniershuis, Silverton is op die ou Pretoria-Bronkhorstspruitpad, ongeveer 8 km oos van Kerkplein

Die Pioniershuis, Silverton is op die ou Pretoria-Bronkhorstspruitpad, ongeveer 8 km oos van Kerkplein

Langs die Moreletaspruit, in Silverton, staan ’n eenvoudige witgekalkte grasdakhuisie wat gebou is in die eerste jare nadat die Voortrekkers hulle in die binneland van Transvaal kom vestig het. In ’n skilderagtige omgewing waar lowerryke treurwilgers, witstinkhoutbome en vaderlandswilgers ’n skaduryke toneel skep, staan die ou huisie as een van die weinige oorblyfsels van die huisbou uit ’n vervloë tyd. Hierdie besondere huisie is gebou ongeveer sewe jaar voordat Pretoria in 1855 tot stand gekom het.

Die pioniershuisie in Silverton is gebou deur David Adolf Machiel Botha, die vyfde seun van Johannes Petrus Botha, ’n burger van Swellendam. David Botha en sy gesin is, net soos baie ander Voortrekkers, uit Ohrigstad verdryf deur die malaria. Hier in die omgewing van die Magaliesberge het hy hom op die plaas Hartebeestpoort, tans Silverton, gevestig en die huisie gebou.

In 1853 het Botha sy plaas aan Guilliam Vermeulen verkoop. Die Vermeulens het ongeveer 20 jaar lank hier op Hartebeestpoort in die ou grasdakhuisie gewoon. In 1874 is die plaas aan ’n Duitser, Hans Heinrich Mund (1832-1900), verkoop. Mund en sy gesin het in 1852 in Kaapstad aan wal gestap en het ongeveer 20 jaar in die Kaap gewoon voordat hulle na Transvaal verhuis het.

Die ontdekking van goud in die Barberton-omgewing het ’n toename in die verkeer tussen Oos-Transvaal en Pretoria tot gevolg gehad. Mund het voordeel hieruit getrek, aangesien Hartebeestpoort ongeveer ’n dagreis uit Pretoria was en ’n gerieflike plek was om te oornag. Hy het ook ’n kontrak gehad om vars perde aan die poskoetsdiens van George Heys te verskaf en het verder heelwat reisigers ontvang, wat by hom vars voorrade gekoop het, wat slaapplek in die buitekamers kon kry, en wat hul waens en diere hier kon laat versorg.

Kort na Hans Mund se dood in 1900 het sy seun ’n moderne Victoriaanse huis net langs die grasdakhuisie gebou waarin hy en sy gesin gaan woon het. Intussen is die ou grasdakhuisie bewaar en is dit hoofsaaklik as pakkamer gebruik. In 1961 het die Stadsraad van Silverton hierdie deel van Hartebeestpoort as geskenk van mevrou JL Mund, die skoondogter van Hans Mund, gekry. Op uitnodiging van die Stadsraad van Silverton is die huisie deur mevrou K Roodt-Coetzee en die argitek Albrecht Holm gerestoureer. In 1972 het die Stadsraad van Pretoria, waarby die Silvertonse Stadsraad intussen ingelyf is, die huisie en die omringende terrein aan die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum geskenk om dit as ’n museum te ontwikkel. Drie jaar later (1975) is die Pioniers-opelugmuseum deur die toenmalige Staatspresident, doktor N Diederichs, geopen.

Een van die vernaamste eienskappe van die pioniershuisie in Silverton is sy eenvoud. Kenmerkend vir so baie van die vroeëre pionierswonings, het hierdie huis ook opgekleide mure en misvloere, met die kenmerkende dakbalke en grasbedekking. Die woning is in ’n T-vorm gebou en aan die agterste muur is ’n uitgeboude skoorsteen wat verbind is met die oop es in die kombuis. Die huisie is gemeubileer met eenvoudige pioniersmeubels wat die atmosfeer van die woning baie goed aanvul.

Op die werf vind mens ’n buitebakoond waarin nog gereeld brood gebak word, die dorsvloer, en ’n ou Noorsmansmeuletjie, stalle en krale, ’n ou put en ’n kruietuintjie waarin kruie soos van ouds gekweek word. Om die plaasatmosfeer te behou, is daar perde, ’n koei met kalf, skape, hoenders, kalkoene, eende, makoue en ganse. Vir die groepe skoolkinders wat die Pioniers-opelugmuseum in groot getalle besoek, word daar gewys hoe ’n koei gemelk, ’n skaap geskeer, rieme gebrei, stroppe gedraai en koring gedors word. Spesiale demonstrasies word ook gereeld vir spesiale groepe soos buitelanders, oues van dae en vroue-organisasies gelewer.

Kultuurfeeste word gereeld by die Opelugmuseum aangebied, waar ’n groot verskeidenheid van tradisionele gebruike weer gedemonstreer en beoefen word. Sodoende word daar gesorg dat baie van hierdie aktiwiteite wat in ’n toenemende mate aan die uitsterf is, nie alleen in skriftelike vorm behoue bly nie, maar dat dit visueel en aktief aan besoekers gedemonstreer word.

Die Pioniers-opelugmuseum het sedert sy ontstaan by uitnemendheid gedien as terrein vir feeste. ’n Groot verskeidenheid van feeste is deur die jare hier aangebied, soos kultuurfeeste, Van Riebeeck-feeste, internasionale volkskultuurfeeste, Krugerfeeste en elke jaar word daar ’n Republiek- en Geloftefees op hierdie terrein gehou. Die fees waarvoor die Museum egter die meeste bekendheid verwerf het, is die jaarlikse Nuwejaarsfees. Hierdeur is ’n groot bydrae gelewer tot die herlewing van die Nuwejaarsfees waar Afrikaners in groot getalle bymekaar kom, hulle inhibisies opsy sit en die dag feestelik en vrolik deurbring. Sedert die Nuwejaarsfees by die Pioniers-opelugmuseum ingang gevind het, het dit ook tot gevolg gehad dat daar op verskeie ander plekke in die land met soortgelyke Nuwejaarsfeeste begin is.

Benewens die feit dat die Pioniers-opelugmuseum ’n stukkie geskiedenis is wat hier in die hart van die stad bewaar word, het dit ook ’n kultuurakker geword, waar die Afrikaner sy kultuuraktiwiteite kan beoefen.

Bron: Cronjé, B. 1989. Pioniershuise. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 208–210.