Foto 22

Op Kerkplein, Pretoria

Op die Kerkplein in Pretoria pryk die kolossale standbeeld van president SJP Kruger, laaste President van die ZAR. Hierdie indrukwekkende beeld is seker een van die bekendste Afrikanerbakens in die Republiek van Suid-Afrika. Die geskiedenis van dié beeldegroep is egter iets waarvan die voetganger of motoris wat dit aanskou nie aldag bewus is nie. Selde of ooit het so ’n veelbewoë geskiedenis die uiteindelike plasing van ’n standbeeld voorafgegaan.

Die skepping van die standbeeld van president Kruger is moontlik gemaak deur ’n bekende sakeman en nyweraar van Pretoria, Samuel Marks. Hy was ’n groot vriend en bewonderaar van president Kruger. Laat in die negentigerjare het hy ’n skrywe aan die President en die Uitvoerende Raad van die ZAR gerig waarin hy aangebied het om ’n standbeeld van die President op sy eie koste te laat maak en in Pretoria te laat oprig. Hy het die enorme som van £10 000 (R20 000) vir hierdie doel aangebied. Sammy Marks het self die kunstenaar, toe nog ’n onbekende man, met die naam van Anton van Wouw, gekies. Van Wouw is na Europa gestuur om die standbeeld daar te voltooi.

Die volledige standbeeld sou bestaan uit die figuur van die President, 4,04 m hoog. Twee van die brandwagte sou Voortrekkers terwyl die ander twee Boere uit die jare tagtig sou wees. Op die voetstuk sou ook vier bronspanele kom wat vier hoogtepunte uit die President se lewe uitbeeld.

Van Wouw het dadelik aan die werk gespring en die taak met groot erns en ywer aangepak. Na voltooiing van die beeldhouwerk het hy ’n ooreenkoms met ’n Italianer, Franciscus Bruno, gesluit om die beelde in brons te laat giet. Die beeld is toe uiteindelik van Rome na Delagoabaai vervoer. Intussen het die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika uitgebreek. Die gevolg hiervan was dat die vyf beelde ’n lang tyd in hul oorspronklike bekisting in Delagoabaai geberg moes word.

Teen die einde van die oorlog, toe dit blyk dat Brittanje die oorwinning sou behaal, het Sammy Marks, wat in hierdie stadium heelwat belangstelling verloor het, die vier beelde van die Boerefigure op versoek van lord Kitchener aan hom geskenk. Kitchener het die beelde na Engeland laat vervoer waar twee beelde uiteindelik voor die School of Military Engineering in Chatham opgerig is en die ander twee op sy eie landgoed te Broome Park. Die beeld van President Kruger het in Delagoabaai agtergebly.

Na die oorlog is ernstige pogings aangewend om die standbeeld opgerig te kry. Uiteindelik, na baie onderhandelinge, is dit op 24 Maart 1913 – Victoria of Empire Day, soos dit genoem is – deur generaal SW Burger, vroeëre waarnemende president van die ZAR, in Prinsepark onthul. Die vier begeleidende Boerefigure het egter ontbreek. Hierna het verdere onderhandelinge, waarby generaal Louis Botha en later ook generaal Smuts betrokke was, plaasgevind om die vier Boerefigure ook in Suid-Afrika te kry. Uiteindelik het generaal Smuts daarin geslaag om met die hulp van die Britse staatshoof te reël vir die terugsending van die beelde na Suid-Afrika. Die stadsraad van Pretoria het besluit dat die volledige standbeeld op Stasieplein opgerig moet word. Die oorspronklike voetstuk van Skotse marmer is gebruik. Die standbeeld is op 10 Oktober 1925, presies honderd jaar na die geboorte van president Kruger, deur generaal JBM Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, ten aanskoue van sowat 25 000 mense onthul.

Deur die jare heen het druk egter toegeneem om die beeldegroep na die Kerkplein, waar dit oorspronklik opgerig sou word, te verskuif. Dit is goedgekeur, maar weer eens was daar heelwat probleme.

Die gedagte het ontstaan dat die plasing en oprigting van die standbeeld op die Kerkplein moontlik nie met die argitektoniese geheel van die Kerkplein en sy omringende geboue sou harmonieer nie. Na volharding deur die Krugergenootskap is die langgekoesterde ideaal om die beeldegroep in die middel van Kerkplein opgerig te kry, egter verwesenlik.

Die groot dag het aangebreek. Op 10 Oktober 1954 is die volledige standbeeldgroep, op ’n splinternuwe voetstuk, in die middel van die Kerkplein feestelik deur die Eerste Minister, doktor DF Malan, onthul. Na vele omswerwinge het die beeld van hierdie geliefde staatsman op gewyde grond, die Kerkplein, die middelpunt van die hoofstad van Suid-Afrika, tot rus gekom.

Benewens die bekende standbeeld van President Kruger op Kerkplein in Pretoria is daar ook enkele ander beelde van hom wat vermeldingswaardig is. Hieronder tel die beelde in Rustenburg, Krugersdorp, Bloemfontein en by die Krugerhek in die Nasionale Krugerwildtuin.

Voor die stadsaal in Rustenburg staan ’n beeld van President Kruger wat, net soos die beeld op Kerkplein in Pretoria, in Europa gemaak is. Dit was die werk van ’n Fransman, ene Jean George Archard. Hierdie beeld is in 1900 deur die beeldhouer gemaak danksy sy persoonlike bewondering vir die gryse staatsman. Met die vredesonderhandelinge in 1919 het doktor FV Engelenburg, voormalige redakteur van De Volkstem, generaal Louis Botha en generaal JC Smuts by Archard se ateljee besoek afgelê en die gipsbeeld daar gevind. Daar is sonder verwyl gereël dat die beeld in brons gegiet en deur die Unieregering aangekoop word. Die beeld het in Oktober 1920 in Pretoria aangekom. Aanvanklik was daar sprake dat dit op Kerkplein geplaas moet word. Uiteindelik is egter besluit dat die beeld in Rustenburg opgerig word. Dit is op 16 Desember 1921 deur generaal Smuts onthul. Die beeld is 2,44 m hoog en is gemonteer op ’n granietstuk van 3,05 m, waarop slegs die volgende woorde uitgebeitel is: Paul Kruger 1825-1904. Die beeld self stel die eensame president voor waar hy in ’n ruim leunstoel met geboë hoof in diepe bepeinsing sit – soos die beeldhouer hom in sy ballingskap gesien het.

Die gedagte aan ’n standbeeld vir president Kruger in Krugersdorp het ontstaan by die Krugersdorpse Krugerfeeskomitee. Na lang onderhandelinge en ’n ywerige geldinsamelingsveldtog is daar besluit dat ’n standbeeld van president Kruger deur die beeldhouer Laurika Postma gemaak word. Met haar skepping het mejuffrou Postma die volgende woorde van Jan FE Celliers in gedagte gehad:
“Soos ’n berg ongebuk
Breed en bonkig van stuk is hy!”

Die beeld verpersoonlik die president in die fleur van sy lewe waar hy staan met die Bybel, wat sy lewensgids was, in die een hand en sy hoed, as teken van eerbied, in die ander hand. Die beeld is twee maal lewensgrootte en op die granietvoetstuk is dit 7,62 m hoog. Dit is van brons gemaak en het ’n granietvoetstuk. Die beeld spreek van die president se nederigheid, menslikheid en welwillendheid.

Hierdie beeld is op 10 Oktober 1962 deur die voormalige staatspresident, meneer CR Swart, onthul.

Een van die treffendste Krugerbeelde is die een wat in die Krugerwildtuin by die Krugerhek staan. Die ses meter hoë kopstuk is uit soliede graniet gekap en weet sowat 24 ton. Die beeld bestaan uit ’n kopstuk gemonteer op granietsuile. Dit is gemaak deur die bekende Coert Steynberg, wat aanvanklik ’n beeld van president Kruger uit een van die granietkoppies in die Krugerwildtuin wou kap. Die onthulling van die beeld is deur meneer Hendrik Schoeman, toe Minister van Landbou, gedoen op 16 September 1976.

In Bloemfontein, in een van die uitstalsale van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, staan ook ’n borsbeeld van die president. Die beeld is anderhalfmaal lewensgrootte en is ’n voorstelling van hoe president Kruger gelyk het toe hy in die Anglo-Boereoorlog na Europa vertrek het. Dit is deur Danie de Jager geskep en is op 10 Oktober 1983 deur meneer TL de Beer, van Gencor, onthul by dieselfde geleentheid is die Bannelingbeeld by hierdie museum onthul.

Bron: Cronjé, B. 1989. Paul Kruger. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 182–184.