Foto 21

In Andries Pretoriuslaan, Krugersdorp-Noord

In Junie 1889 het landdros Human, van Krugersdorp, per brief aan die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek voorgestel dat ’n monument oor die hoop klippe wat in Desember 1880 deur die volk by Paardekraal gestapel is, gebou moet word. Hy het ’n sketsplan ingesluit. Dit het byval gevind en die regering het dit aan die staatsargitek Sytze Wierda opgedra om ’n monument te ontwerp.

Wierda se ontwerp was teen die einde van 1889 gereed en vroeg in die volgende jaar is die tender van K Munro vir £3640 (R7280) vir die bou van die monument aanvaar. Die bouer was WY Veitch. Die bouwerk is op 27 November 1890 voltooi. Teen die middel van 1891 het die regering die monument in ontvangs geneem.

President Paul Kruger het die Paardekraalmonument op 16 Desember 1891 onthul. Hierdie fees was, soos die voriges in 1881 en 1886, groot in omvang en het ’n paar dae geduur. ’n Lywige program van twintig bladsye het voorsiening gemaak vir speletjies, skyfskiet, perderesies en -vertonings, vuurwerk, artillerie-oefeninge en dies meer. Aan toesprake was daar geen gebrek nie. Kruger het op 16 Desember gewys op die verlede en die volk gemaan om eensgesind, getrou en dankbaar te wees. “Ek sal my gelofte aan die Here betaal,” was vir Kruger die woorde wat op almal se lippe behoort te wees. Ook ander volksleiers het die middag boodskappe gelewer. Die gryse MW Pretorius het almal gesmeek “om toch den geest en gewoonten der voorvaderen in stand te houden”.

Die Paardekraalmonument, geleë in die munisipaliteit van Krugersdorp, is van sandsteen in die vorm  van ’n toring van 18m gebou. In die voetstuk is ’n opening vir die 1880-klipstapel. Op die voetstuk is daar vir sprekers ’n platform met ’n ystertraliewerk gebou. Die traliewerk is versier met ontwerpe, lourierkranse en outydse kanonne. Vier panele met inskripsies, opgestel deur ene Boekhorst, ’n onderwyser van Pretoria, gee ’n beknopte weergawe van wat tot 1881 gebeur het.

Die monument is gebou op die plek waar in Desember 1880 ’n groot volksvergadering gehou en uiters belangrike besluite geneem is. Dit het voortgespruit uit die Britse anneksasie van die ZAR op 12 April 1877. Omdat die Transvaalse Afrikaners om verskeie redes nie by magte was om die anneksasiedaad gewapenderwys teen te staan nie, het hulle ’n skriftelike protes opgestel en ’n afvaardiging gestuur om in Londen by die Britse regering beswaar te maak. Toe hierdie pogings misluk, is ’n memorie aan die Britse koningin gerig, waarvolgens uit ’n moontlike 8000 burgers 6591 hulle teen en 587 hulle ten gunste van Britse gesag uitgespreek het. Maar ook hierdie en verdere pogings om die probleem op ’n vriendskaplike wyse te besleg, was vrugteloos.

Die Transvaalse Afrikaners het intussen van tyd tot tyd volksvergaderings gehou, waaronder die leiding van ’n Volkskomitee, waarin die leiers saamgesnoer was, besluite oor die passiewe weerstands- of protesbeweging geneem is. Hierdie byeenkomste het eenheid onder ’n vroeër verdeelde volk geskep en ’n vurige nasionalisme opgewek wat dwarsdeur Suid-Afrika weerklink het. Die laaste van die reeks volksvergaderings is gehou op die plaas Paardekraal, waar ’n voormalige eienaar, Andries Pretorius van Bloedrivier-faam, vroeër met perde geboer het. Op 11 Desember 1880 het ’n stuk of 8000 burgers vir Paul Kruger versoek om as visepresident die voormalige regering van die Republiek te herstel. Twee dae later het Kruger hieraan uitvoering gegee toe die Volksraad byeengeroep is. ’n Driemanskap bestaande uit Paul Kruger, Piet Joubert en MW Pretorius sou die Republiek voorlopig bestuur. Op die 14e het die  burgers met ’n klipstapeling ’n verbond gesluit dat hulle met die hulp van God tot die dood toe vir die vryheid van hulle land en volk sou stry. Die protesbeweging is beëindig; van nou af sou die roer praat.

Die oorwinnings in die oorlog en die herwinning van hulle onafhanklikheid, al was dit onder beperkende voorwaardes, het die burgers weer na Paardekraal gelok. Op 13 Desember 1881 het 12 000–15 000 burgers, sommige selfs uit die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie, op Paardekraal saamgetrek om hulle voor God te verootmoedig en Hom vir sy wonderdade te loof. Op 16 Desember het hulle Geloftedag gevier en nog klippe by die klipstapel gevoeg. Hierna is daar vyfjaarliks ’n staatsfees by Paardekraal gehou. Die Anglo-Boereoorlog sou ’n einde hieraan maak.

Die klipstapel by Paardekraal en die feeste wat daar gehou is, getuig enersyds van ’n volk se begeerte om sy geloftes na te kom en andersyds van ’n volk se dankbaarheid teenoor God vir sy wonderbaarlike leiding, veral in krisis-ure soos Bloedrivier en Amajuba. Die klipstapel is simbolies van burgers wat mekaar die hand reik om vir hulle vryheid te veg, maar biddend na God opsien om lig en leiding, soos versinnebeeld in die toring van die monument wat daaromheen gebou is. Die klippe is nie meer in die monument nie, omdat die Britte dit in 1900 verwyder en in die Vaalrivier gaan stort het – hulle het geglo dat dit die klippe was wat die burgers aangespoor het om tot die einde te veg. Slegs een klip het behoue gebly. Toe luitenant-kolonel MFN Joudain, van Oxford, op 19 Junie 1900 van die plan om van die klippe te verwyder verneem het, het hy een daarvan geneem, dit veilig bewaar en baie jare later uit Engeland aan die Paardekraalse Feeskommissie gestuur.

Die Paardekraalmonument is in 1936 tot ’n nasionale monument geproklameer.

Bron: Van Zyl, M.C. 1989. Paardekraal. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 144–146.