Onze Rust, die plaas van president MT Steyn, sal leef in die geskiedenis van die Afrikaner. Dit is ongeveer 22 km ten suide van Bloemfontein geleë. Na die Tweede Vryheidsoorlog was dit veral van hier dat hy as leier en raadgewer vir die Afrikanervolk opgetree het.

Onze Rust_klein

Die “Boom van Sameswering”, ’n groot simmetriese olienhoutboom, is ongeveer 400 m reg wes van die woning geleë en baie van die belangrike en deurslaggewende samesprekings het in die skaduwee van hierdie boom plaasgevind. Hier het die President ook dikwels persoonlike rus en vrede gaan soek.

President Steyn het die plaas in 1896 gekoop en dit Onze Rust gedoop. Gedurende sy ampstyd as Staatspresident en die Tweede Vryheidsoorlog het hy nie op die plaas gewoon nie, maar na sy terugkeer uit Europa in 1905 het president Steyn hom op Onze Rust gevestig.

Na die oorlog het president Steyn met sy gesin na Europa vertrek om daar mediese behandeling vir sy senuverlamming te ontvang. Terwyl die Steyn-gesin in Europa was, het die idee by die Afrikanervolk ontstaan om die huis op Onze Rust te vergroot. ’n Ingenome president Steyn het versoek dat net werklose Vrystaters aan die huis moet werk. Geen duur materiaal is vir die aanbouery gebruik nie. Die mure is met rousteen en klip gebou en was lank ongepleister. Die houtwerk is van dennehout.

Die nuwe huis, met sy groot voorstoep, waar president Steyn dikwels saam met besoekende staatsmanne ontspan het, was ruim en groot. Onze Rust het die hoofkwartier van president Steyn geword en het vir almal oopgestaan. Hulle het baie besoekers ontvang.

Ná president Steyn se dood, in 1916, het sy vrou die huis nog veertig jaar lank bewoon. Toe het die huidige huisbaas en kleinseun van president Steyn, regter MT Steyn en sy gesin stad toe getrek en Onze Rust het hoogstens ’n naweekplek geword. Daar was egter te veel herinneringe om toe te laat dat die huis ’n leë monument word en daarom het regter MT Steyn, sy vrou Yvonne en hul vier kinders, besluit om die huis weer bewoonbaar te maak.

Die statige ou opstal in die koelte van die reusebome wat dit omring, lyk nog in ’n groot mate soos wat dit in die tyd van president Steyn daar uitgesien het en die laning granaat- en appelkoosbome wat deur die President self geplant is, is ook nog daar.

Om die huis weer bewoonbaar te maak, moes daar noodwendig ’n paar veranderings aangebring word – so is daar byvoorbeeld vensters ingekap vir meer lig. Hier, op Onze Rust, het die hede en verlede verweef geraak. Van die meubels en gebruiksvoorwerpe op Onze Rust is latere aankope, maar die herinneringe aan die ou President is volop en die atmosfeer van die huis het grootliks behoue gebly.

Elke vertrek van die woonhuis is ’n droom vir enige versamelaar van kosbaarhede en antieke meubels. Die mure is behang met familieportrette en foto’s van vriende. Elke hoekie in die huis het sy eie bekoring – daar is die badkamer met die ou ligroos bad wat spesiaal vir president Steyn ingesit is na sy siekte; die slaapkamer met hul hemelbeddens en pragtige outydse lampe; die Victoriaanse sitkamer met sy mooi familie-erfstukke. In die kombuis is ’n rak waarop baie van mevrou Rachel Steyn se koekblikke en kombuisgereedskap staan.

Die historiese studeerkamer is grootliks behou soos wat dit in president Steyn se dae daar uitgesien het. Die groot ou leer-leesstoel of invalidestoel, wat deur die verlamde president gebruik is, is nog daar.

’n Foto van Rachel Isabella Steyn hang op die ereplek bokant die kaggel. Daar is ook foto’s van die Vrystaatse presidente en van ander leiers, soos generaal De la Rey en Paul Kruger. Regter Steyn vertel dat president Steyn die foto van Sarel Cilliers opsetlik tussen die foto’s van generaals Hertzog en Botha opgehang het, “sodat ’n godsman die vrede kan bewaar”.

Bron: NALN. 1989. Onze Rust. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 92–93.