Op Kerkplein, in die hartjie van Potchefstroom, staan die oudste kerkgebou in Transvaal: die sierlike kerk van die Nerduitsch Hervormde Gemeente Potchefstroom, die moedergemeente van hierdie kerkgenootskap in Transvaal.

Nadat die dorp Potchefstroom deur kommandant AH Potgieter teen die einde van 1838 aan die Mooirivier aangelê is, was daar ’n toenemende begeerte onder boere na ’n eie gemeente en kerkgebou. Die eerste Hervormde gemeente in Transvaal is op 25 Maart 1842 hier deur eerwaarde Daniel Lindley, wat die vorige jaar tot predikant van die Voortrekkers beroep is, gestig. In Januarie 1850 het die kerkraad van die nuwe gemeente vergader oor die bou van ’n kerk, waarvoor daar reeds £246 (R500) ingesamel was. Die Volksraad het in dieselfde maand die kerkplein aan die gemeente toegeken vir die bou van ’n kerk. ’n Kruiskerkie is opgerig en daaromheen ’n ringmuur met skietgate sodat dit ook as vesting in tye van gevaar kon dien. Die kerkie is op 19 April deur dominees Andrew Murray (jr) en sy broer, John Murray, ingewy. Dit was die eerste kerk in Transvaal en het op die noordoostelike hoek van die teenswoordige Kerkplein gestaan.

In Kerkstraat tussen Wolmarans- en Potgieterstraat, regoor die Stadhuis

In Kerkstraat tussen Wolmarans- en Potgieterstraat, regoor die Stadhuis

Die gemeente het in 1853 sy eerste leraar, dominee Dirk van der Hoff, gekry. Die kerkie het gou te klein geword. Die kerkraad het gevolglik in April 1859 besluit om ’n nuwe kerk te bou in die middel van die plein. Dit sou weer ’n kruiskerk wees, maar met ’n konsistorie aan die agterkant. Die hoeksteen van die gebou is op 26 Desember 1859 deur president MW Pretorius en dominee Dirk van der Hoff gelê. Die program van hierdie geskiedkundige gebeurtenis het op die voorste bladsy van die Gouvernements Courant verskyn.

Die bou van die kerk het stadig gevorder en eers na ses jaar, op 24 Februarie 1866 kon die inwyding plaasvind.

Die boukommissie het besluit dat die kerk op ’n stewige klipfondament met mure van “gebakken steen” gebou moet wees. Die afmetings moet 27 m by 9 m en die hoogte van die mure 5,4 m wees. Die 9 m-lange balke, die kappe en balke, venster- en deurkosyne is van geelhout; duisend ruite is bestel en twaalfduisend bosse dekgras aangery. Die preekstoel is in Pietermaritzburg gemaak en van daar per ossewa na Potchefstroom vervoer. Daar was aanvanklik geen banke in die nuwe kerk nie en lidmate moes hulle eie stoele saambring; met die aanddienste moes kerse opgesteek word wanneer daar gesing is. Mettertyd is ’n plafon, banke, galerye en lampe aangebring en die strooidak deur ’n sinkdak vervang.

Die tradisie van die Kaaps-Hollandse boustyl wat saam met die Trekkers na Transvaal gekom het, blyk uit die kruisplan dik gepleisterde mure en vroeëre strooidak, terwyl die invloed van die Neo-Gotiek merkbaar is in die spitsboogvensters en -deure, en ook in die steunbere op die hoeke van die buitemure. Victoriaanse gietysterversiering in die vorm van die ystertoringspits en die kruinversiering op die sinkdak is in 1893 aangebring.

Die kerkgebou het deur die jare heen ’n belangrike rol in die samelewing gespeel. Nagmaalsnaweke was die Kerkplein, wat vroeër ook as markplein gedien het, ’n miernes van bedrywigheid. Die plein en eerste kerkie was op 6 Januarie 1857 getuie van ’n belangrike geskiedkundige gebeurtenis, naamlik die beëdiging van president MW Pretorius as eerste president van die ZAR en die hysing van die Vierkleur vir die heel eerste keer.

Bekende leraars het in hierdie geskiedkundige kerk die Woord verkondig, soos dominee Dirk van der Hoff (1853-1885), dominee CW du Toit (1885-1918), dominee Vermooten (1919-1926) en dominee Johannes Dreyer, wat vanaf 1938 tot 1985 predikant was. Op 25 Mei 1878 was daar in die kerk ’n gedenkdag vir dominee Van der Hoff se vyf-en-twintigjarige dienstyd. By hierdie geleentheid het die skoolkinders hom toegesing en het hy ’n adres ontvang.

Die betekenis van hierdie geskiedkundige kerkgebou is deur dominee CW du Toit met die vyf-en-tagtigjarige jubileum van die gemeente op 1 Oktober 1927 saamgevat: “Het fondament werd gelegd in die naam des Heeren en aan Hem werd het gebouw toegewijd en tot hiertoe gebruikt als een heiligdom der aanbidding.”

Bron: Pretorius, J.C. 1989. Nederduitsch Hervormde Kerk. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 152–153.