Voor die stadhuis in Paul Krugerstraat, Pretoria, staan twee indrukwekkende standbeelde, dié van kommandant-generaal AWJ Pretorius en van sy seun, president MW Pretorius. Voor die verbyganger wat vir die eerste keer tussen Kerkplein en Stasieplein in Paul Krugerstraat op weg is, ontvou een van die treffendste tonele in Pretoria hom op hierdie plek. Aan die westekant is die statige stadhuis en reg teenoor hom, aan die ander kant van die straat, op dieselfde as, vind ’n mens die Transvaalmuseum met sy swaar, neo-klassieke boustyl. In die groot tuin voor die stadhuis, geskei deur ’n visdam, wat 23 m lank en met lelies bedek is, staan die twee Pretorius-beelde. Andries Pretorius se ruiterbeeld is die naaste aan die stadhuis geleë en aan die voorkant is die regopstaande beeld van sy seun, Marthinus Wessel.

As die stigter van Pretoria, is president MW Pretorius se beeld op die voorgrond geplaas. Hy is geklee in sy staatsmansklere, sonder hoed. Die standbeeld is ’n bronsbeeld, twee maal lewensgrootte, op ’n ronde granietvoetstuk. Die woorde: Marthinus Wessel Pretorius 1810–1901 is op die voetstuk aangebring. Aan weerskante van die voetstuk is twee bronsreliëfpanele van 2,5 m x 1,0 m. Die linkerkantse paneel beeld ’n toneel in die Raadsaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek uit met die woorde daarby: Stad gestig en vernoem 16 November 1855. Die regterkantse toneel toon hoe die eerste kerkie gebou word in 1856–57. Die standbeelde is gefinansier deur die Stadsraad van Pretoria uit fondse wat bewillig is vir die honderdjarige herdenking van Pretoria se bestaan in 1955. Die beeldhouer was Coert Steynberg.

MW Pretorius-standbeeld is in Paul Krugerstraat voor die Stadhuis

MW Pretorius-standbeeld is in Paul Krugerstraat voor die Stadhuis

Marthinus Wessel Pretorius was die eerste president van Transvaal (voorheen die Zuid-Afrikaansche Republiek). Hy was die oudste seun van kommandant-generaal Andries Pretorius en het deelgeneem aan die Slag by Bloedrivier in 1838. Hy het sy vader in 1853 as kommandant-generaal vir Potchefstroom en Rustenburg opgevolg.

Pretorius het in 1855 twee plase aangeskaf waarop ’n nuwe dorp, Pretoria, aangelê is. Die dorp is na die Pretorius-familie genoem. In 1857 is hy as president deur die Volksraad aangestel. Enkele jare daarna het Pretorius byna daarin geslaag om die twee Boererepublieke verenig te kry. Hy was dan ook in ’n stadium gelyktydig president van albei republieke. Onenigheid het egter ontstaan wat byna tot ’n burgeroorlog gelei het. Pretorius moes gevolglik sy plan om vereniging te bewerkstellig, laat vaar. Na die Keate-uitspraak in 1871 het hy as president bedank.

Later was hy lid van die driemanskap wat gekies is om die ZAR te lei. Na die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 het Pretorius egter as bejaarde man van die openbare toneel verdwyn. Hy is op 19 Mei 1901 in Potchefstroom oorlede en is ook daar begrawe.

Op 21 Oktober 1955 is die indrukwekkende beeld van Pretorius deur ’n kleinkind van die president, kolonel IJ Meyer, onthul. Dit vorm deel van die totale kompleks wat, soos reeds genoem, ook die ruiterbeeld van sy vader insluit. Hier staan die beeld van MW Pretorius op ’n baie sentrale plek in die hartjie van Pretoria.

Maar Pretorius het ook sy spore in Potchefstroom nagelaat. Sy vroeëre woning, die Presidentshuis met sy buitegeboue, skilderagtig geleë onder skaduryke akkerbome, is en van die treffendste historiese gedenkwaardighede in Potchefstroom en herinner onder meer aan ’n roemryke era in die geskiedenis van die dorp toe dit die “hoofdplaats der Republiek” was.

Die huis wat Pretorius waarskynlik in 1868 gebou het, het deur die jare ’n aansienlike gedaanteverwisseling ondergaan. In 1978, meer as ’n eeu na die oprigting daarvan, is die woonhuis en buitegeboue na hul oorspronklike vorm en voorkoms gerestoureer. Die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede het in 1961 ’n bronsplaat by die huis aangebring; die werf en geboue is egter eers na restourasie in 1979 as historiese gedenkwaardigheid geproklameer. Vandag is dit ’n huismuseum.

Die gewese staatshoof van die ZAR is op Potchefstroom begrawe en ’n gedenkteken (’n obelisk) is op sy graf in die Alexandrapark-gedenktuin opgerig.

Bron: Cronjé, B. 1989. M.W. Pretorius. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 176–177.