Foto 19

Voor die Ou Hoofgebou van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein

Wie sou die teenspraak waag dat Marthinus Theunis Steyn nie onder die grootste van alle Afrikaner gereken moet word nie? In sy eie tyd maar ook vandag nog gryp hy die verbeelding en bewondering aan van diegene wat hom ken en wil ken. Sy krag en veral betekenis het daarin gelê dat hy van alle Afrikaner-staatsmanne voor hom, van sy eie tyd en selfs hulle wat hom opgevolg het, ’n siening van en visie op die Afrikaner gehad het wat nie tydsgebonde was nie. Sy omlyning van wat die Afrikaner op alle lewensterreine is en moet wees, is vir ons vandag net so geldend as toe hy dit dekades gelede in tydlose woorde gegiet het.

As president Steyn se grootheid reeds vervat is in sy visie om eenmaal die Afrikaner te verenig rondom republikeinse beginsels en as ’n gelyke vennoot in ’n groter verenigde Suid-Afrika te laat toetree, soveel groter sou hy wees vanweë die wyse waarop hy hom selfloos in die stryd om die selfbehoud van sy volk opgeoffer het.

Ná die oorlog, reeds deur siekte “verwond maar niet verwonnen”, sou sy sienersblik en insig nie verswak nie. Na hom is steeds as rigter opgesien om die Afrikaner uit sy geestelike benouing, ekonomiese verarming en politieke sekerheid te lei. Nie as die skouspelagtige politikus nie, maar as hoogste raadgewer en vertroude profeet sou sy volk hom op die hand dra. Die imperialistiese veroweraar met al sy oormag en wette kon nie verhoed dat MT Steyn steeds die “Afrikaner se President” sou bly nie.

Op 2 Oktober 1857 is Marthinus Theunis Steyn op die plaas Rietfontein, digby die plek waar die Voortrekkermonument, naby Winburg staan, gebore. Hy bekwaam hom in Nederland (Leiden) en Londen as juris en by sy terugkeer praktiseer hy in Bloemfontein totdat hy in 1889 as regter aangestel word. In 1896 word hy met oorweldigende meerderheid tot Staatspresident van die Oranje-Vrystaat gekies.

Kort na sy heengaan op 28 November 1916 in Bloemfontein het die gedagte ontstaan om vir president Steyn ’n standbeeld op te rig en by niemand anders as by jong Suid-Afrika nie. Terwyl daar Afrikaners was wat gevoel het dat die Nasionale Vrouemonument wat deur president Steyn bedink en veral deur sy toedoen opgerig is, reeds ’n gedenkteken was wat sy naam sou verewig, het die jeug anders geoordeel.

Tydens die tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Studentebond, die voorganger van die latere Afrikaanse Nasionale Studentebond en huidige Afrikaanse Studentebond, wat in 1917 in Bloemfontein gehou is, is besluit om Anton van Wouw, die beeldhouer, te nader om ’n standbeeld van president Steyn te skep en ’n komitee aan te wys om fondse daarvoor in te samel.

’n Komitee wat onder voorsitterskap van SH Pellissier en uit studente en oudstudente bestaan, is saamgestel.

Die aksie is uitgebrei en verteenwoordigers van studente en jongeliede verenigings uit Kaapland, die Vrystaat en Transvaal het op 28 September 1918 opnuut in Bloemfontein besin hoe om vir die saak reklame te maak en fondse in te samel.

Dit was veral die studente van die destydse Grey-Universiteitskollege, die latere Universiteit van die Oranje-Vrystaat, wat deur middel van toneelopvoerings, konserte en persoonlike invorderings moeisaam en langsaam die nodige bedrag van sowat £3000 (R6000) ingesamel het. Op hierdie studente het ’n besondere morele verpligting gerus, omdat daar van die begin af besluit is dat die beeld voor die hoofgebou van die Grey Universiteitskollege, wat intussen tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, opgerig moet word.

Die beeld, een van Van Wouw se mees geslaagde skeppinge, toon president Steyn met ontblote hoof in sy ampsgewaad, terwyl hy in die Vrystaatse Volksraad op die vooraand van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sy beroemde woorde uitspreek: “Ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Vrystaat met eer as om dit te behou deur oneer of ontrou”.

Die onthulling van die beeld het op 29 September 1929 saamgeval met die Grey Universiteitskollege se kwarteeufees. Die beeld is tweemaal lewensgrootte en staan op ’n voetstuk van ystergraniet, vier meter hoog. Die geleentheid is deur sowat duisend mense bygewoon en onder hulle was die beeldhouer en ander hooggeplaaste persone. Om 15h00 het al die studente in akademiese drag van die president Steyn-dameskoshuis, enkele honderde meter daarvan, na die oordekte beeld beweeg. Voor aan die optog het ’n aantal damesstudente met die huldigingskranse gestap. By hulle aankoms, is die Vrystaatse Volkslied aangehef.

Dominee JD Kestell, eertydse rektor van die  Grey Universiteitskollege en toe nog voltydse Bybelvertaler, het die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen. Verskeie toesprake is daarna gelewer onder meer deur GS Nienaber wat die beeld gesien het as “’n beliggaming van ’n gedagte en wat as rigsnoer vir die studente moes dien”, SH Pellissier wat die totstandkoming van die beeld verhaal het, en advokaat HJ Edeling wat heelwat met die fondsinsameling te make gehad het.

Doktor NJ van der Merwe, skoonseun van wyle president Steyn, het namens die familie dank aan jong Suid-Afrika oorgedra vir die oprigting van die beeld en veral omdat dit deur hulle inspanning en spaarpennies tot stand gekom het. Hy het ook verklaar dat dit mevrou president Steyn se bede was “dat hierdie monument ’n blywende besieling tot onwrikbare toewyding aan die vryheidsgees van Suid-Afrika moet wees”.

’n Verslaggewer skryf dat dit “een van die magtigste oomblikke was wat Bloemfontein ooit geken het”, toe mevrou president Steyn die beeld plegtig onthul.

Hierna het meneer JSM Rabe, die voorsitter van die Raad van die Grey Universiteitskollege, van JA Smuts, die uniale voorsitter van die Afrikaanse Studentebond, die beeld vir bewaring in ontvangs geneem. Die verrigtinge is met die sing van Afrikaner Landgenote afgesluit.

Tereg kon die redakteur van Die Volksblad skryf: “Die volk van die Vrystaat en Suid-Afrika sal die Afrikaanse Studentebond altyd dankbaar bly vir die uitvoering van die pragtige gedagte … daardie beeld behoort ’n bron van besieling te wees as die President se gees en ideale werklik begryp en uitgeleef word”.

Bron: Van Schoor, M.C.E. 1989. M.T. Steyn. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 94–96.

Jan FE Celliers verwoord die liefde wat Afrikaners vir die laaste Vrystaatse president gehad het in die volgende gedig:

PRESIDENT STEYN.
(† 28 Nov. 1916).

Dis skoon vir ’n held om te val
aan die voete van wie hy gedien het,
skoon vir sy skeidende gees
dat moeders die laaste mog wees
wat sy sterwende oog gesien het.

Maak hom ’n graf op die grond
wat sy liefde gewy en geseen het:
dis skoon vir ’n held om te rus
aan die voete van wie hy beween het.