Regs van die pad van Volksrust na Newcastle, feitlik op die Transvaal-Natal-grens, staan daar ’n opvallende natuurbaken, die imposante berg Majuba, waar op 27 Februarie 1881 die laaste slag van die Transvaalse (Eerste) Vryheidsoorlog plaasgevind het.

Die geveg tussen Boer en Brit op die plat kruin van die berg is ’n besondere hoogtepunt in die geskiedenis van die Afrikaner.

Majuba klein

Majuba, wat afgelei is van die Zoeloe-woord Amajuba (dit beteken baie duiwe), is in 1941 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Op die kruin van die berg staan enkele gedenktekens, naamlik op McDonald-koppie, ’n Boeremonument wat die gesneuweldes van Boerekant (drie) herdenk, ’n gerestoureerde Britse begraafplaas (92 het gesneuwel) en ’n gedenkplaat op die plek waar die Gordon Highlanders (Bergskotte) weerstand gebied het.

Na die Britse anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 het die Transvaalse Afrikaners onder leiding van ’n Volkskomitee onverpoos maar onsuksesvol met die Britse regering en gesagvoerders onderhandel om die anneksasie te herroep. Gevolglik het die burgers, vasbeslote om hulle vryheid te herwin, op 13 Desember 1880 by ’n volksvergadering op Paardekraal besluit om die Britse gesag te verwerp en die republiek in ere te herstel. Dit het oorlog beteken. Drie dae later het die eerste skote op Potchefstroom geklap.

Nadat vyandelikhede uitgebreek het, het die Transvaalse burgers die Britse garnisoene in Pretoria, Potchefstroom, Standerton, Lydenburg, Wakkerstroom, Rustenburg en Marabastad beleër. ’n Leërafdeling onder kolonel PR Anstruther het hom by Bronkhorstspruit teen generaal Frans Joubert se kommando vasgeloop en moes na ’n kort maar bloedige skermutseling die wit vlag hys.

Hierna kon die beleërde garnisoene slegs hulle hoop vestig op ’n ontsettingsmag, wat onder generaal-majoor sir George Pomeroy Colley uit Natal opgeruk het. Op hulle beurt was die Boere vasbeslote om Colley te stuit. Met hierdie doel het kommandant-generaal Piet Joubert met ’n stuk of 1200 burgers die deurgang by Laingsnek, naby Charlestown, versper. Op 28 Januarie 1881 het Colley met ’n skerp aanval beheer oor die tafelkop oos van die nek probeer verkry, maar hy moes met groot verlies die aftog blaas.

Ten einde Colley se verbindingslinie met Newcastle te probeer afsny, het Joubert vir veggeneraal Nicolaas Smit met 200 uitgesoekte burgers daarheen gestuur. Hierdie beweging het gelei tot ’n geveg by Skuinshoogte, naby die twee driwwe in die Ingogorivier, op 8 Februarie 1881. Dit was ’n harde geveg en in die donker het Colley en sy troepemag die slagveld verlaat om na sy kamp by Mount Prospect, naby Laingsnek, terug te keer. Maar ook generaal Smit was nie by magte om sy gunstige posisie te behou nie en het na Laingsnek teruggekeer.

Colley was vasbeslote om sy nederlae met ’n goeie oorwinning uit te wis. Derhalwe het hy die nag van 26 Februarie met ’n mag van 759 man aangetree vir ’n nagmars na die kruin van Majuba. ’n Aantal troepe is by twee buiteposte gelaat, sodat ongeveer 360man na vele ontberings die kruin bereik het.

Generaal Joubert was verslae toe hy met dagbreek op Sondag 27 Februarie die Britse troepe op Majuba gewaar. Joubert het hom egter spoedig reggeruk en Nicolaas Smit beveel om die Britte van Majuba af te dryf. Nagenoeg 150 vrywilligers is in drie groepe onder kommandant Joachim Ferreira en assistent-veldkornette Stephanus Roos en Dawid Malan georganiseer om die berg te bestyg. Een van die vrywilligers was die later beroemde generaal Christiaan de Wet, toe nog ’n assistent-veldkornet.

Dit was geen geringe taak om die berg van die noordelike kant af te bestyg nie, wat waarskynlik verklaar waarom Colley houtgerus was en geen verdedigingstellings ingerig het nie. Colley self het gaan slaap en is eers teen 12:30 gewek toe die burgers se aanslag op die kruin van die berg losgebars het. Vanuit die noorde, ooste en weste het hulle aangeval. Colley het sy troepe tot hardnekkige weerstand aangevuur, maar die Boere se taktiese flankbewegings en dekkingsvuur was naderhand te veel vir hulle om te verduur.

Colley het gesneuwel toe die geveg op sy hewigste was. Toe die weerstand meegee, het sommige troepe in aller yl die hasepad gekies en selfs oor die afgronde aan die suidekant gespring. Die Boere het die Britte ’n verpletterende nederlaag toegedien, 92 Britte het gesneuwel. Aan Boerekant het slegs Johannes Bekker gesneuwel. Jan Groenewald en ’n ander burger het later aan hul wonde beswyk.

Hoewel dit nog ’n tyd lank geduur het voordat vrede gesluit is, is die finale en beslissende slag van die oorlog op Majuba gelewer. Die Transvaalse burgers, klein in getal, maar volhardend en dapper van gees, het hulle onafhanklikheid herwin, al was dit onder beperkende voorwaardes. Die eer daarvoor het hulle aan God gegee. Majuba was vir hulle die ewige gedenkteken van die wonderwerke wat God vir hulle verrig het.

Die stryd van die klein Boerevolkie teen die magtige Groot-Brittanje het dwarsdeur Suid-Afrika, maar ook in Europa en in Amerika, weerklank gevind. In Suid-Afrika was daar onder al die Afrikaners ’n sterk opwelling van ’n nasionale gevoel. In werklikheid was dit die geboorte van moderne Afrikanernasionalisme, waarvan die wortels stewig geanker is in die hoë spitsberg, Majuba.

Die Ossewa-Brandwag het in April 1940 ’n opsie op die plaas Majuba North verkry en die gedeelte van die plaas waarop die berg staan, gekoop. Die kaart en transport is amptelik op 1 Januarie 1941 op die kruin van die berg deur professor J van Rooy aan advokaat JD Jerling oorhandig. Vanaf 27 Februarie 1942 het lede van die Ossewa-Brandwag jaarliks by die berg die Slag by Majuba herdenk.

Op 27 Februarie 1981 is die honderdjarige herdenking van die geveg by Majuba met ’n luisterryke fees op die terrein gevier. By dié geleentheid is die plaas deur die Ossewa-Brandwag aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO geskenk. Professor T van der Walt, rektor van dié universiteit, het die kaart en transport in ontvangs geneem.

Aan die voet van die berg het die PU vir CHO ’n baie funksionele kampterrein vir jeuggroepe ingerig.

Bron: Van Zyl, M.C. 1989. Majuba. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 224–225.