Wanneer ’n mens met die nasionale pad van Kimberley af suidwaarts ry, kry jy na ongeveer 34 m die afdraaipad na die Magersfontein-slagveld. Nog sowat 6 km verder bring jou by die plek waar die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1899 plaasgevind het.

Dié veldslag is een van die bekendste en mees besproke veldslae van die Tweede Vryheidsoorlog. Dit is ’n slag wat op oortuigende wyse deur die Boeremagte gewen is en in ’n baie vroeë stadium van die oorlog. Die week waarin die slag plaasgevind het, het vir die Britte bekend gestaan as die “Black Week”. In hierdie selfde week het Brittanje ook twee ander veldslae verloor, te wete die een by Colenso op 15 Desember en die ander een by Stormberg op 10 Desember.

Die veldslag by Magersfontein was die direkte gevolg van die beleg van Kimberley. Teen ongeveer die middel van Oktober 1899 het die Boeremagte begin om Kimberley te omsingel. Enkele botsings het plaasgevind in die Britse magte se pogings om na Kimberley deur te breek.

Uiteindelik het die Britte onder aanvoering van luitenant-generaal lord Methuen ’n kragdadige poging in die omgewing by Magersfontein van stapel laat loop. Dit het gelei tot die beroemde slag by Magersfontein. Die mikpunt van die Britse bevelvoerders was die herstel van die spoorverbinding met Kimberley.

Die botsing tussen die Boere en die Britte het aan die voet van Magersfonteinkoppie plaasgevind. Die Britte het geglo dat die Boere die kop beset, terwyl die Boere in loopgrawe aan die voet van die koppie ingegrawe was. Die plasing van die loopgrawe, wat snags gegrawe en knap gekamoefleer is, het die vyand geheel en al verras en sodoende het die Boere ’n verrassende oorwinning oor die vyand behaal in die nag van 11 Desember 1899.

Die Slagveld by Magersfontein is deur die McGregor Museum in Kimberley gerestoureer en in 1971 is daar ’n museum en inligtingsentrum tot stand gebring. Besoekers kan vanaf ’n uitkykpunt op die koppie ’n pragtige uitsig oor die slagveldterrein kry. Volledige inligting oor wat daar gebeur het, word verkry van gidse wat die nodige rondleidings onderneem en ook inligtingsbrosjures wat beskikbaar gestel word.

Behalwe die terrein self, is daar ’n hele aantal monumente wat ’n mens herinner aan die veldslag wat byna ’n eeu gelede hier plaasgevind het. Onder andere is daar die hoof-Boeregedenkteken wat op 6 April 1931 deur NC Havenga, Minister van Finansies, onthul is. Dit is ’n pragtige, treffende, piramidale bouwerk van ligte kleur. Gedurende die laat twintigerjare is die stoflike oorskot in die verspreide grafte van burgers wat in die veldslae by Magersfontein en Modderrivier en in gevegte om Kimberley gesneuwel het, opgegrawe en hier herbegrawe. Die name is vasgelê op die oorspronklike donker granietgedenksteen wat onder die spits van die piramide staan. Die opskrif van hierdie monument lui:

Vir Vryheid en vir Reg, 1899-1902.
Ter nagedagtenis aan ons helde wat hul lewens te Magersfon-
tein, Modderrivier en om Kimberley gedurende die 2de Vry-
heidsoorlog opgeoffer het. Wees getrou.

Laat in die sestigerjare het die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte die meeste van die stoflike oorskotte van die Boere-ongevalle uit die omringende gebiede opgegrawe en hier by Magersfontein laat herbegrawe. ’n Nuwe gedenkteken is opgerig, ontwerp deur ’n Pretoriase argitek, meneer JI Bosman. Dit is op 10 Oktober 1969 deur meneer PW Botha, toe Minister van Verdediging, onthul. Die struktuur is van gewapende beton en staal, graniet en terrazzo en is 21,3 m hoog. Die vier kante van die piramide verteenwoordig die vier provinsies wat in krag en eenheid saamgesnoer is, terwyl die drie openinge tussen die oostelike suile die drie jare van die oorlog versinnebeeld.

Die opskrif aan die hek lui:

Hulde aan Burgers wat die hoogste offers gebring het vir Volk
en Vaderland gedurende die Tweede Vryheidsoorlog 1899-
1902 en alhier herbegrawe is Oktober 1969.
Opgerig deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte.

Die Slagveld by Magersfontein is vandag ’n baken op die pad van die Afrikaner in sy stryd om sy onafhanklikheid hier aan die suidpunt van Afrika te handhaaf.

Bron: Cronjé, B. 1989. Magersfontein. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 76–77.

Magersfontein