Louw Wepener_klein

Voor die Stadhuis in Wepener

Die Tweede Basoeto-oorlog het in 1865 uitgebreek. Onder leiding van die Hoofkommandant van die Oranje-Vrystaat, kommandant JIJ Fick, word besluit om Basoetoland (Lesotho) gelyktydig van drie kante aan te val.

Een van die Boere-aanvoerders was kommandant Lourens Jacobus (Louw) Wepener, gebore op 21 Julie 1812 in Graaff-Reinet.

Hy was ’n onverskrokke kryger en vindingryke strateeg en onder sy leiding is een bergvesting na die ander verower, sodat die burgers, soos beplan, gesamentlik by Thaba Bosigo, hoofvesting van die Basoetokoning, Mosjesjwe, aangekom het. Die bergvesting, met sy loodregte kranse was feitlik oninneembaar, te meer met die oormag van Basoetokrygers wat hulle bo-op die berg bevind het.

Op 15 Augustus 1865 durf Louw Wepener en ’n aantal vrywilligers die feitlik onmoontlike taak aan – om die kruin van die vesting te bereik. ’n Anderhalf uur na hul vertrek bereik hulle die bergpoort, wat met klipskanse versper is. Slegs met pistole, bestorm Wepener en ’n paar staatmakers die sterk bewapende vesting. Twee skanse word sonder ongeval oorgesteek en toe – met die feitlik onmoontlike amper vermag – word Louw Wepener dodelik gewond.

Sy oorskot is op die kruin van die berg begrawe, maar is later op sy plaas in die distrik Bethulie herbegrawe, waar ook ’n gedenkteken opgerig is.

Met die Simboliese Ossewatrek van 1938 het een van die ossewaens, die Sarel Cilliers, nagenoeg 10 kilometer buite Jamestown op die plaas Die Nek uitgespan, waar Wepener geboer het voordat hy Vrystaat toe getrek het. Dáár is ’n klipstapel ter ere van Wepener gepak. Jare later, met die bou van ’n nuwe stad, is dit verskuif en in piramiedvormige gedenkteken, ongeveer 40 kilometer van die nuwe pad, ingebou.

Op die dorp Wepener, wat na kommandant Wepener genoem is, staan daar egter ’n simboliekryke monument ter herdenking van hierdie Boereheld.

Reeds in 1912 het die inwoners van Wepener by die stadsraad om ’n stukkie grond vir die oprigting van die monument aansoek gedoen. Dit was egter eers in 1928 dat die stadsraad besluit het om ’n gedenkhek voor die stadhuis op te rig. Die hek is deur R Gerhardt, die baie bekend onderwyser van Duits, ontwerp. Gerhardt het ’n hek ontwerp wat uit vir klippilare bestaan met ’n boog van ysterwerk bo-oor. Aan die twee pilare aan weerskante van die groot hek is twee bronspanele aangebring. Die bronspaneel links is ’n reliëfvoorstelling van Thaba Bosigo waaronder die volgende woorde aangebring is: Waar die Vrystaatse held, kmdt. Louw Wepener, sy lewe vir land en volk geoffer het. Aan die regterkantste pilaar is ’n reliëfbeeld van Louw Wepener aangebring met sy geboorte- en sterfdatum daaronder. In die ysterwerk tussen die pilare is die woorde Ter nagedagtenis aan kmdt. Louw Wepener aangebring. Op die twee buitenste pilare is groot klippe vasgemessel wat van Thaba Bosigo gebring is.

Weer eens het geruime tyd verloop, maar die hek is uiteindelik by ’n luisterryke fees op 29 November 1953 onthul.

Daar het egter steeds ’n behoefte bestaan om ’n borsbeeld van Louw Wepener op te rig. Hierdie begeerte het op 15 Augustus 1965 werklikheid geword toe meneer JJ Fouché, toenmalige Minister van Verdediging, ’n borsbeeld van Louw Wepener, wat deur Coert Steynberg gebeeldhou is, voor die stadhuis onthul. Die borsbeeld staan op vier klippe wat van Thaba Bosigo afgehaal is, so na moontlik aan die plek waar Louw Wepener op 15 Augustus 1865 gesneuwel het. Op die gedenkplaat, wat op die klip waarop die borsbeeld rus, aangebring is, verskyn die volgende inskrywing: 1865-1965. Opgerig deur die inwoners van Wepener ter nagedagtenis van kmdt. Louw Wepener. Gesneuwel op Thaba Bosigo op 15 Augustus 1865. Onthul deur sy Edele J.J. Fouché, Minister van Verdediging, op 15 Augustus 1965.

Wepener se heldedaad het as inspirasie gedien vir die vroeë Afrikaanse gedig, “Ter nagedachtenis aan kmdt. Louw Wepener” deur FW Reitz. Die Louw Wepener-dekorasie vir dapperheid word deur die SA Weermag uitgereik aan lede van die Weermag wat buitengewone dapperheid aan die dag lê.

Bron: Geyser, O. 1989. Louw Wepener. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 82–83.