Toe doktor LS Jameson die ZAR in 1895 onsuksesvol binnegeval het, het die Zuid-Afrikaansche Republiek maar oor ongeveer 20 stuks grofgeskut van uiteenlopende aard en kaliber beskik. Die inval en die toenemende moontlikheid van oorlog teen Groot-Brittanje het die regering laat besef dat sy wapentuig aanmerklik aangevul moet word, en altesaam 59 kanonne is bestel.

Deel van dié bestelling was tien 155-mm Creusot-vestigingskanonne uit Frankryk. Slegs vier is verskaf, en is in April 1897 afgelewer.

Hierdie langloop-kanonne, wat vanweë hul lang trefafstand en dodelike akkuraatheid weldra ’n verskrikking vir die Britse magte sou word, is deur Schneider en Cie, Le Creusot, Frankryk, teen ’n koste van £62 850 (R125 700) vervaardig.  Die koste sluit 8899 bomme in. Dié fabriek is in die Tweede Wêreldoorlog totaal vernietig.

Die aanvanklike beplanning was dat die vier kanonne gebruik moet word om Pretoria te verdedig en dit is gevolglik ook by die vier Pretoriase forte, Klapperkop, Schanskop, Daspoortrand en Wonderboompoort opgerig. Met die uitbreek van die oorlog in 1899 is hulle egter as veldkanonne gebruik, en hoewel hulle swaar en moeilik hanteerbaar was, is hulle so doeltreffend benut dat die Britse magte dit beskou het as ’n “major military aim to destroy these guns at the very first opportunity”. Vandaar generaal Louis Botha se opdrag dat dié wapens eerder vernietig moet word as om in Britse hande te val.

President Paul Kruger het nie van die naam Long Tom gehou nie. Hy het dit ’n “hekse-naam uit Londen” genoem en verkies om daarvan te praat as “Raakskuts” of “Fransmanne”. Vermoedelik is die naam Long Tom daaraan gegee vanweë die besondere lang loop van die kanon, maar dit is ook moontlik dat die lang trefafstand tot dié benoeming van die kanon bygedra het.

Die loop van die kanon was 4,2 m lank en het 2500 kg geweeg. Die massa van die affuit was 3200 kg. Twee staalwiele van 1,55 m hoog is aangebring en die totale massa van die kanon was 6250 kg.

Uit hoofde van die gewig en lengte (7,5 m), het die kanon moeilik as veldkanon aangepas. Enersyds was dit moeilik om op te rig, omdat die loop nie aan die kanon vas was nie en met behulp van ’n katrol uit sy rustende posisie gelig en in ’n skietposisie geplaas moes word. Andersyds het die onbegaanbare veld en die steil Transvaalse bergpaaie dit moeilik gemaak om die kanon rond te beweeg. Aanvanklik is 12 Amerikaanse muile gebruik, maar later is osse ingespan om die kanon te trek.

Kort na die uitbreek van die oorlog is twee van die kanonne na Kimberley en Mafeking gestuur, terwyl die ander twee van die Natalse oorlogsfront geneem is; na veel omswerwinge was die vier kanonne weer op 27 Augustus 1900 saam by die Slag by Dalmanutha, tussen Belfast en Machadodorp. Omdat die oorlogspatroon hierna volledig verander het, het die kanonne feitlik onbruikbaar geword. Vandaar die amptelike besluit om hulle te vernietig.

Die vernietiging het op die volgende plekke en datums geskied:

Vernietigingsplek Skutkommandant Datum
Hectorspruit, Komatipoort-omgewing Adj Karel Roos 20-22 September 1900
Letabadrif, oos van Haenertsburg Sers-maj Dawid Cox 18 Oktober 1900
Rietfontein, 30 km noordwes van Lydenburg (Die “Jood”) Lt Danie Erasmus 16 April 1901
Feeskop, 8 km noord van Haenertsburg Kapt HS du Toit 30 April 1901

Jare na die Anglo-Boereoorlog het die vraag ontstaan wat van die Long Toms geword het. Navorsing oor die vier kanonne is deur meneer DC Grobler, ’n vroeëre bosbouer in die gebied tussen 1943 en 1968, met pynlike noukeurigheid gedoen. Hy het bo alle twyfel vasgestel dat die Britse magte nie een van die kanonne kon verower nie, en dat hulle alleen die wrakstukke van sover bekend drie Long Toms kon wegneem. Die Landsraad van die Federasie van Rapportryerskorpse het op versoek van die Lydenburgse Rapportryerskorps die inisiatief geneem om die belangrike rol wat hierdie kanonne in die Anglo-Boereoorlog gespeel het, te verewig. Met die samewerking van die Administrateur van Transvaal, meneer WA Cruywagen, die FAK, die Landsraad en ander Rapportryerskorpse, het die Sabiekorps die oprigting van die gedenkteken onderneem. Op 10 Oktober 1984 is dit deur meneer Cruywagen onthul toe hy onder meer gesê het dat veral die Boerebewakers en -bedieners van die kanonne ’n voorbeeld van durf en daad gestel het, en dat ons Afrikaner-verlede verdien om bewaar, geken en voortgedra te word.

’n Presiese replika van die Long Tom-kanon is op ’n sentrale toeganklike punt opgerig, naby die plek waar twee van die kanonne die laaste keer in aksie was. Dit staan 50 m van die pad deur die Long Tom-pas. Dit is uit staal vervaardig, en die argitekte was Maree, Els en vennote.

In die Long Tom-pas, tussen Lydenburg en Sabie

In die Long Tom-pas, tussen Lydenburg en Sabie

Van die Long Toms het name gekry. Een is Stemrecht gedoop. ’n Ander een is die Jood genoem. Op 8 Desember is dié kanon by Lombardskop beskadig. Franse tegnici het die herstelwerk in Pretoria gedoen en onder meer die loop verkort. Die derde Long Tom is die Lady Roberts gedoop en sy reste is by die Boomstraatse Museum in Pretoria te vinde.

Bron: Swart, M.J. 1989. Long Tom-gedenkteken. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 216–217.