Koopmans-De Wet huis

Koopmans-De Wet-huis iin Strandstraat, Kaapstad

Wanneer ’n mens in Strandstraat, Kaapstad, af beweeg en jy kom by die wit dubbelverdiepinghuis met sy indrukwekkende neo-klassistiese styl, kan jy nie anders as om vir ’n paar oomblikke na die geskiedenis teruggevoer te word nie. Die Koopmans-De Wet-huis staan hier rustig en statig, selfs uitdagend, teenoor die toringblokke wat hom aan alle kante omring – ’n kultuurerfenis, ’n Afrikanerbaken wat sy plek aan niks en niemand afstaan nie. Vandag herinner hierdie praggebou ons nie alleen aan vervloë dae in Kaapstad nie, maar ook aan ’n Afrikanervrou wat onuitwisbare spore in die Afrikanergeskiedenis nagelaat het.

Maria Margaretha de Wet is op 18 Maart 1834 in Kaapstad gebore in die huis wat vannag as die Koopmans-De Wet-museum bekend staan. Op dertigjarige leeftyd het Marie de Wet met Johan Christoffel Koopmans in die huwelik getree. Hy was ’n Hollander wat in 1857 na die Kaap gekom het. Ongelukkig is ’n baie gelukkige huwelik na 15 jaar beëindig toe Johan Koopmans oorlede is. Marie Koopmans-De Wet het kinderloos agtergebly. Na haar man se oorlye het sy en haar jonger suster, Margaretha, tot hul afsterwe in hul ouerhuis bly woon.

In haar lewe het Marie Koopmans-De Wet seker die bekendste vrou in Kaapstad geword. Sy het ’n baie goeie opvoeding ontvang en het ’n besondere talent vir die aanleer van tale gehad, sodat sy Frans en Duits goed kon bemeester en later selfs ook Italiaans aangeleer het. As intelligente en talentvolle mens, het sy ’n leidende rol in die sosiale lewe in die vroeë jare van die Kaap gespeel. Die salon van mevrou Koopmans-De Wet, geskoei op die beste voorbeeld van Europa, was mettertyd tot ver buite die grense van haar vaderland bekend. Reisigers na die Kaap het hulle gelukkig geag as hulle ’n besoek aan mevrou Koopmans kon bring. So het sy persone uit die hoogste sosiale lae ontvang en was daar gereeld buitelandse konsuls, regters, ministers, parlementslede, predikante en professore wat besoek by die bekende huis afgelê het. Die presidente van die Boererepublieke, soos Brand, Reitz, Kruger en Steyn was haar persoonlike vriende.

Vir die Afrikaner is dit egter die besondere Afrikanerskap van hierdie merkwaardige vrou wat die meeste beïndruk. Selde het ’n vrou in die openbare lewe die saak van die Afrikaner met soveel oorgawe en toewyding gedien.

Dit was veral in verband met haar ondersteuning van die Boere in die Tweede Vryheidsoorlog dat Marie Koopmans-De Wet haar plek in die Afrikanergeskiedenis verewig het. Aanvanklik het sy haar beywer om die oorlog te verhoed en later om vrede gesluit te kry. Met die oorlog ’n voldonge feit, het sy egter geen steen onaangeroer gelaat om hulp te verleen veral aan vroue en kinders in die konsentrasiekampe en die krysgevangenes in die gevangenekampe nie.

Haar huis het ’n depot van allerlei middele geword wat van vredeskomitees en belangstellendes na haar gekanaliseer is om dit by die lydende Boere te kry. So het sy honderde kratte voedsel, medisyne, klerasie en nog wat uit haar huis na die oorlogsfront versend. Deur haar onverbloemde ondersteuning van die Boeremagte, het sy haar die gramskap van die Britse regering in die Kaap op die hals gehaal. Dit het haar egter in geen stadium afgeskrik om te doen wat sy as haar plig beskou het nie. Die aktiewe en kragdadige ondersteuning van die Republikeinse magte uit die hartjie van die Britse domein in Suid-Afrika, Kaapstad, is inderdaad ’n merkwaardige stukkie geskiedenis.

Marie Koopmans-De Wet is op 2 Augustus 1906 in Kaapstad oorlede. Sy en haar suster het die huis en al hulle besittings aan die volk van Suid-Afrika bemaak, en danksy hierdie gulle gebaar, is die Koopmans-De Wet-huis in 1913 gerestoureer en tot museum verklaar.

Die oorspronklike huis was vermoedelik die gewone Kaapstadse woning uit die agtiende eeu – ’n enkelverdiepinggebou met ’n rietdak. Sedertdien is heelwat veranderinge egter aan die huis aangebring. Die vernaamste verfraaiing van die huis is waarskynlik tussen 1783 en 1789 deur die bekende argitek LM Thibault aangebring. Hy het die huidige front ontwerp en het waarskynlik ook die heel voorstuk van die huis aangebou, naamlik die sit- en eetkamer en die portaal op die onderste verdieping, en die twee slaapkamers en kleedkamertjie daarbo. Die treffende eienskap van die vooraansig is die vier gegroefde muurpilasters, die panele tussen die boonste en onderste vensters en die geweldriehoek van drie vensters in plaas van een oordek. Die meeste van die binnehoutwerk is van greinhout. Die kosyne en style van die deure sowel as die vloere en balke is van kiaat. Die binneste muurskilderye dateer waarskynlik uit ongeveer 1780, vermoedelik deur die Duitse kunstenaar Hartmann.

Vandag kan van die mooiste Kaapse meubels in die Koopmans-De Wet-museum gesien word. Die kosbare en smaakvolle meubels in die huis bekoor nie alleen die besoeker nie, maar dwing ook by hom bewondering af vir die besondere vrou wat toegesien het dat dit vir die nageslag bewaar sal bly.

Die Koopmans-De Wet-huis is een van die mooiste museums in Suid-Afrika, maar is ook ’n stukkie Afrikaner-heiligdom wat die Afrikaner tot die beste inspireer.

Bron: Cronje, B. 1989. “Koopmans-De Wet-Huis”. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, p. 26-27)